Een Tree

Lees 2 Korintiërs 6: 1 – 7

“Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding” (2).

’n Jong predikant ry een aand, na ’n diens in ’n minder gegoede deel van die dorp, in ’n stamp­­vol bus, huis toe. Met sy Bybel onder sy arm vasge­knyp, staan hy saam met ander in die gang. Van die passasiers, duidelik ’n ru­we jongklomp, begin met hom gekskeer. Een roep, bo die ander geraas van die bus, uit na hom toe: “Haai, Domi­nee, hoe ver is dit he­mel toe?” Sy maats lag luid­rugtig. Die ander men­se in die bus is dood­stil. Al­mal wag vir sy ant­woord. Hy draai na sy trot­seer­der toe. Hy ant­woord met ’n vrien­de­li­ke, maar dui­delike stem: “Net een tree, Me­neer. Sal jy my toe­laat om jou die weg te wys?” Daar eindig die geskrewe storie ongelukkig.

Ek wens ons kon weet of die jong boelie be­gerig was om te luister, en hoe die jong pre­dikant van so ’n oom­blik gebruikgemaak het om die evan­gelie te ver­kondig. Want op hier­die aller­be­langrikste vraag is die ant­woord kort en duidelik. Die tronkbewaar­der van Filippi het dit vir Paulus en Silas gevra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” Hulle ant­woord was: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word…” (Hand.16:30,31). Die een tree hemel toe gaan by ’n oop deur in. Die Here Jesus het daardie deur, wat ’n soliede, ge­slote yster­deur was, weens ons son­de­­skuld, oop­gesluit, toe Hy ons sonde­skuld aan die kruis uitge­delg en vernietig het. Ons kan die tree oor die drumpel van geloof, die ewige lewe in, dadelik neem. Sê vir Jesus: “Jesus, Here, red my nou, asseblief.” Met Jesus aan die kruis in gedagte, gló Hy kan dit doen. Met die lewende Jesus nou by jou, glo Hy hoor en doen dit. Sê vir Hom dankie. Die moordenaar aan die kruis het dit gedoen. Daar waar hy aan sy kruis langs Jesus hang, sê hy vir Jesus: “Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.” Jesus ant­woord hom: “Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.”

“Here, vandag gaan ek in u hemelse koninkryk in, deur die oop deur van u dood aan die kruis..”

Die Enigste Redding

Lees Hand.4:1-22

“Hy bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie” (2).

Enkele jare gelede raak twee manne in hul boot, bo­kant die Niagrawaterval, in die moei­lik­heid. Hulle roei wanhopig, maar die stroom voer hulle vinnig na die don­derende val toe. Op die oewer word koorsagtig po­gings aangewend om die twee manne te red. Net betyds word ‘n tou na hulle toe uitgegooi. Dit beland binne-in die boot.  Die een man gryp die tou da­delik gretig vas. Juis op daardie oomblik dryf ’n hout­stomp teen die boot vas. Tot almal se ontsteltenis gryp die ander man paniekerig die drywende stomp en klou kramp­­agtig daaraan vas. Die mense skree vir hom om die stomp te los en ook die tou te gryp, maar hy klou net stywer aan die stomp vas. Die man wat die tou gegryp het, is veilig aan wal ge­bring. Die ander man is met stomp en al by die waterval af.

Die mens bevind hom vir sy sieleheil in net so ‘n groot gevaar. Gelukkig is daar redding, hoe sterk die afwaartse stroom ookal mag vloei en hoe hard die waterval ook al dreun. Die veilige tou van Christus se verlossing word uitgegooi en ’n mens kan dit gryp en gered word.

Een oggend leun ’n predikant, by die aanvang van sy preek, oor die kansel en sé met groot erns: “Ek het ’n vraag om te vra. Ek kan dit nie beantwoord nie. Geen engel in die hemel kan dit beantwoord nie. Geen duiwel uit die hel kan dit beantwoord nie. Kan ú dit beant­woord? Dit is die vraag: Hoe sal ons ontvlug as ons so ’n groot saligheid verontagsaam?” Dit word doodstil in die kerk. Niemand kon dit beantwoord nie. Niemand kon dit teëspreek nie. Dit is ’n vraag wat die Woord van God self in Hebreërs 2:3 vra: “…hoe sal ons dan ontkom as ons so `n groot saligheid verontagsaam het?” Vir ons almal is daar net één betroubare red­dings­wete: weens die son­des wat ek gedoen het, is ek verlore en ek kan my aak­lige lot, die verdoemenis, op geen manier ontkom, as om te vertrou in die Here Jesus Christus, die Seun van God, wat aan die kruis op Golgota die straf vir al my son­des gedra het en my só met God versoen het nie. Ek moet na Hom toe vlug en vir Hom sê: “Ek is sondig. Ek is verlore. Red my, asseblief.” Dít is die red­dingstou wat ons gryp, waarmee ons in die vei­ligheid van die ewige lewe, wat God ons uit genade gee, gebring word. Deur die Evan­gelie Woord, open die Heilige Gees ons oë en hart om hierdie redding aan te neem.

So het Jesus Self Nikodemus se vraag oor die ingang in God se konikryk beantwoord: “Net soos Moses des­tyds die koperslang in die woestyn op ’n paal gehang het, so sal Ek, die Redder, ook op ’n paal gelig word, sodat elkeen wat op My vertrou die ewige lewe kan hê. Want God het die mense so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gestuur het. Iemand wat in Hom glo, sal nie verlore gaan nie, maar hy sal die ewige lewe hê’” (v.10-14).

“Here, vandag gryp ek die reddingstou van Jesus se kruisdood”

Die kunstenaar by die orrel

Lees Galasiërs 5:13-26

“Laat julle lewe… deur die Gees van God beheers word, dan sal julle NIE swig voor begeertes van julle sondige natuur nie” (16).

In die Senior Teacher word vertel, die bekende komponis, Mendelsohn het, eenkeer ’n katedraal besoek, omdat hy gehoor het, een van Europa se kosbaarste orrels word in daardie katedraal gebruik. Hy het ’n rukkie gestaan en luister hoe die bejaarde orrelis op die orrel speel en hom voorberei vir die komende Sondag se kerk-diens. Toe die ou man by die einde van die stuk kom, wat hy besig was om te speel, gaan Mendelsohn nader en vra of hy op die orrel mag speel. “Ek ken jou nie,” antwoord die orrelis, “en ons laat nie enigeen op hier­die orrel speel nie. Uiteindelik oorreed Mendelsohn die ou man en hy laat Mendelsohn by die orrel plaasneem. Mendelsohn begin speel en die kerk word gevul met musiek soos die orrelis nog nooit in sy lewe gehoor het nie. Diep geraak lê hy sy hand op Mendelsohn se skouer. “Wie is jy,” vra hy met ’n gebroke stem. “Mendelsohn,” antwoord die komponis. Verslae sê die ou orrelis: “Om te dink ek was so dwaas om te weier dat Mendelsohn op my orrel speel!” Die persoon en die hande wat die orrel bespeel het, het bepaal watter musiek uit daardie groot orrelpype kon vloei.

’n Mens het ’n wonderlike lewe, met wonderlike eien-skappe, want God het die mens oorsponklik na sy eie beeld geskape. Die soort lewe wat uit die mens vloei, sy dade, sy woorde, het bedorwe geraak, want Satan het baas van ons lewensorrel se klawers geword. Solank Satan die orrelis in ons lewe is, sal daar net wanklanke uit ons lewe te voorskyn kom. Met ’n mens se bekering word Jesus die Een wat ons lewe beheer. Soos die ou kerkorrelis kan ons ook weerstand bied en Hom verhin-der om sy musiek uit ons lewens te laat voortkom. Die Here Jesus het in sy Persoon teruggegaan hemel toe, maar na Hy verheerlik is, het God die Heilige Gees op sy kerk uitgestort en deur die Heilige Gees woon Christus in sy dissipels. As ons al die klawers van ons lewe oorgee aan die Heilige Gees dan bring hy die musiek uit ons le-wens te voorskyn wat God verheerlik, vir ons medemens aangenaam is en in ons hart vrede laat woon. “Ek bid dat God deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Chris-tus deur die geloof in julle sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees”(Ef.3:16).

“Here, vandag gee ek my hele lewe aan U oor.”

Geloof teenoor gevoel

Lees Johannes 6:34-40

“…en Ek sal hom wat na My toe kom nooit verwerp nie” (37).

Die bekende prediker, D. L. Moody, preek een aand in Phi­la­­delphia. Amper heelvoor, aan die linker­kant, sit ’n jong vrou, haar oë op hom gerig,  asof sy elke woord indrink. Onmid­dellik na die diens gaan hy reguit na haar toe. “Is jy ’n Chris­tin?” vra hy haar. “Nee, maar ek wens ek was een. Ek soek al drie jaar na die Jesus.” “Daar moet iewers ’n misver­stand wees,” ant­woord Moody haar. Sy kyk vreemd na hom. “Glo jy my nie?” “Ongetwyfeld het jy gedink jy soek na Jesus,” sê Moody, “maar dit kan nie drie jaar lank neem, voor ’n ernstige soeker en ’n gewillige Ver­losser, me­kaar vind nie.” “Wat moet ek dan doen?” vra sy. “Ek dink dit is waar die fout lê: jy probeer iets doen. Jy moet net in Jesus glo.” “O, ek is siek en sat vir daardie woord!” roep sy uit. “Dis altyd net: ‘Glo, glo, glo!’ Ek weet nie wat dit is nie.” Moody antwoord: “Kom ons verander die woord ‘glo’ na ‘vertrou’. As jy Hom vertrou, daad­werklik, sal Hy jou red.” Sy huiwer ’n oomblik, sê toe met nadruk: “Ek vertrou Jesus, maar,” voeg sy in dieselfde asem by, “ek voel niks beter nie.” “A, nou ver­staan ek,” reageer Moody dadelik. “Vir drie jaar soek jy na ’n nuwe en ander gevoel, in plaas van net na Jesus te soek. Jy vertrou Jesus nou om jou te red en Hy het belowe om jou te red as jy hom vertrou, so, aanvaar dit dat Hy jou nou gered hét en moenie vir ’n gevoel soek nie. Vertrou net,  sê vir die Here dankie dat Hy jou gered het, soos Hy beloof het, en getuig daarvan.”

Ons wil die vrede en blydskap ervaar, wat ons verwag, met geloof in Christus moet saam­gaan. Vrede en blydskap is nie die bewys van redding nie, maar ’n vrug, ’n gevolg van redding. Sommige mense se bekering is ’n onmid­dellike, dra­­matiese ervaring. Vir ander is dit ’n bedaarde, asof dit nie ge­beur het nie, ervaring. Dit is soos die huwelik. Die bruidegom en die bruid is nog onge­troud, al staan hulle saam voor die kansel. Dan antwoord die bruidegom “ja” op die huweliksgelofte. Nou is die bruid nog nie met hom getroud nie. Dan antwoord sy  “ja”, en dan is sy  met hom getroud. Vir sommige bruide bring dit ’n opwelling van emo­­sie te weeg, vir ander is dit asof dit nie eers gebeur het nie. Maar vra vir die bruid on­middelik, na sy “ja” ge­antwoord het, en sy sal sê sy is nou getroud. Nie om­dat sy getroud voel nie, maar omdat sy die hu­we­liks­for­mulier  glo en weet, sy het die bruide­gom as haar man aange­neem. Later volg aller­lei gevoe­lens. Dit is hoe die geloofstap van vertroue in Christus as Verlosser ook ver­loop. ’n Mens wéét jy het Jesus aan­ge­neem as Verlosser en Hy het belowe, Hy néém jou aan en Hy vergewe jou jou sondes. Uit Die Boodskap haal ek Romeine 10:8-10 aan: “Ek vertel vir mense dat God hulle vryspreek. Ek roep hulle ook op om dit te glo. Dit is baie maklik om gered te word. Al wat jy moet doen, is om te erken dat Jesus die Here van jou is en met alles in jou te glo dat God Hom uit die dood laat opstaan het. Geloof is om God op sy woord te glo. Dit is om vir Hom te sê: ‘Ek glo in Jesus. Hy is die Here van my lewe.’ God sal vir die res sorg: Hy sal jou vryspreek van al jou sondes, jou red. Die Bybel sê mos: ‘Niemand wat in God glo, sal ooit met leë hande wegstap nie.’”

“Here, vandag weet ek U het my gered.”

Kopie van die oorspronklike

Lees Johannes 14:15-25

“… die Vader…sal vir julle…stuur… die Gees van die waarheid….Hy sal  by julle bly en in julle wees…”(16,17)

In die St. Peter’s Church in Cologne hang twee eender­­­se skilderye van Petrus se kruisiging. Ons weet uit oor­le­wering Petrus het gevra om on­der­stebo gekruisig te word, omdat hy homself onwaardig geag het om soos Christus, in ’n regop posisie, aan die kruis te hang.. Die bestaan van die tweede skildery, wat ’n kopie van die eerste een is, word deur Herbert Lockyer in The Heritage of Saints soos volg verklaar: In die begin van die 19de eeu het Napoleon, die stad Cologne, in sy seevierende optog ge­plunder. In die proses van sy plundertog het Napoleon die oor­spronk­like skildery van Petrus se kruisiging saam­ge­neem. Nadat die kerk weer herstel is, het dieselfde kun­stenaar, wat die eerste Peterus­skildery geskilder het, weer ’n skildery, so na as moontlik aan die eerste een, ge­skilder. Die oorspronklike skildery is later gevind en aan die kerk terugbesorg en langs die kopie van die skil­de­ry opgehang. Kunskenners sê daar is so min verskil tussen die twee skilderye dat die oorspronklike nie van die kopie onderskei kan word nie. Herbert Lockyer maak uit hierdie insident ’n geestelike toepassing. “Jesus is in hea­ven. But the Holy Spirit is here, and He is die master Artist and in die absence of the Original, He is painting the likeness of Jesus upon the unworthy canvas of your life and mine.”

God se bedoeling met sy kinders op aarde, die ge­lo­wi­ges, is om die Here Jesus Christus se beelddraers te wees: “…dié wat Hom lief het, dié wat volgens sy besluit ge­roep is…het Hy ook bestem om gelykvorming te wees aan die beeld van sy Seun… (Rom.8:28,29). Uit onsself het ons nie krag om Jesus se voorbeeld te volg en deur ons le­we, Hom aan die wêreld, bekend te maak nie. “Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie. Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle” (Rom.8:8,9). Deur die Heilige Gees woon Christus in ons en afhangende van ons ver­hou­ding en gemeenskap met Hom, kleur die Heilige Gees, soos ’n kunsskilder, ons lewe in met Christus se le­we en dit verskyn in ons gedrag, ons houding, ons woorde, ons gesindhede.

“Here, vandag beleef ek my Christenlewe deur ú krag in my.”

Die regte verbinding

Lees: Handelinge 16: 22 – 34

“Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin  (31)

In die ou gees­te­li­ke tyd­skrif, Het Zoeklicht, word vertel van ’n By­bel­kolporteur wat eendag in 1855, in Toulon, ’n Nu­we Testament aan ’n soldaat gee wat dit aan­neem, met die opmerking, “Ek kan my pyp daar­mee aansteek.” Jare daarna is die kol­porteur weer in Toulon. Hy besoek ’n gesin wat in rou oor hulle seun wat dood is. Sy ma sê vir die kol­por­teur: “Ons seun het in groot vrede gesterf. Hy het al sy troos in hierdie boekie gevind.” Sy gee vir die kol­porteur ’n verslete Nuwe Testament. In die bin­ne om­slag staan geskrywe: ”Ontvang in Toulon – verag – ver­ont­agsaam – ge­lees – geglo – Jesus Christus as my Saligmaker ge­vind.” Dit was daardie soldaat se Nuwe Testament. Hy het be­tyds die regte ewigheids­verbinding gemaak.

In ’n Spoorwegbode word vertel van twee mans wat op ’n spoorwegstasie in ’n rytuig klim, ter­wyl die ran­geer­dery nog aan die gang is. ’n Spoorwegman kom vra hulle om in die volgende rytuig te klim. Er­gerlik wil die een man weet wat dan verkeerd is met die rytuig waarin hulle reeds sit. Die spoor­weg­man glimlag en antwoord: “Daar is niks met die rytuig verkeerd nie. Dis net  aan niks gekoppel wat julle iewers sal bring nie.” Min van ons het nié ’n geloofsposisie of gods­diens nie. Die belangrike vraag is egter: “Sal dit my in die ewige saligheid bring?” Dit is nie die geloofs­bin­ding wat ’n mens in die hemel bring nie, maar ’n mens se persoonlike verbinding met Jesus Chris­tus wat ’n mens red. Sonder die persoonlike ver­bin­ding met die Here Jesus Christus – ek het Hom as my persoonlike Verlosser aangeneem – kan ’n mens godsdienstig wees en baie Bybelkennis hê en goeie dinge doen, maar ’n mens is nie vir die ewig­heid gereed nie. Dit is dan wel ’n rytuig wat op die spoor staan, maar dit is nie aan die lo­ko­mo­tief ge­kop­pel nie. Die reddende verbinding met Chris­tus Je­sus is die glo en weet: Hy het my sondes aan die kruis gedra, my aangeneem en aan my die ewige lewe gegee, want ek het sy roeping geant­woord en Hom as my Ver­losser aangeneem. “Maar aan almal wat Hom aan­ge­neem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.”

 “Here, vandag neem ek U aan as my Verlosser.”

Belangrike Briewe

Lees     Johannes 3: 1 – 21

“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (16).

Elizabeth Barrett se ouers het haar onterf en alle ban­de met haar gebreek, toe sy met Robert Brown­ing getroud is. Van haar kant het sy haar ver­hou­ding met haar ouers probeer red. Elke week het sy vir hulle geskryf, vir hulle vertel hoe lief en hoe nodig sy hulle het, hoe sy na hulle verlang, hoe dit met haar in haar huwelik gaan, watter mooi voor­uit­sigte sy en haar man het.

Vir tien jaar het sy nooit van hulle gehoor nie. Toe op ‘n dag kry sy deur die pos ‘n groot karton­doos van hulle af. Uitgelate van blydskap maak sy die groot doos – ‘n versoeningsgeskenk het sy gedink – opgewonde oop. In die doos was al die briewe wat sy in die tien jaar aan hulle ge­skryf het. Nie één was oopgemaak nie! Hierdie lief­des­brie­we van Elizabeth Barrett het ‘n onskat­bare deel van die Engelse klassieke-literatuur geword. Maar die doel waarvoor sy dit geskryf het en die pragti­ge einde wat die storie kon gehad het, is nooit bereik nie, enkel omdat die ouers nie een van die briewe gelees het nie.

Ons verhouding met ons Hemelse Vader is ook gebreek – van ons kant af. In sy groot liefde het ons Vader ook aan ons geskryf. Die Bybel is God se brief aan ons, hoe lief Hy ons het, hoe Hy vir ons die pad terug na Hom toe voorberei het, hoe ons na Hom toe kan kom. ‘n Hele boek, hoof­stuk­ke op hoofstukke, bladsye en bladsye, verse op verse. Hy verlang na ons versoening met Hom. Hy skryf oor sy liefde vir ons, wat  Hy vir ons wil doen, hoe dit tussen ons en Hom moet wees. “Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoe­diging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees” (Rom15:4).

Die groot oorsaak van geestelike armoede, swakheid, duisternis, is die ongeopende Bybels. As ons die Bybel met soekende hart lees, verlig die Heilige Gees ons hart en ons leer deur die Here Jesus Christus, God ken as ons Vader wat ons lief­het en vir ons sorg.

”Here, vandag open ek u Woord met dankbaarheid en verlange om U met my te hoor praat.”

'n Dag se belangrikste sake

Lees Josua 24: 14 – 18

“…kies dan vandag wie julle wil dien…wat my en my familie betref, ons sal die Here dien” (15)

As dinge vir ons te veel word en ‘n dag se 24 ure is te min om alles te doen wat nodig is, moet ons die storie van die mayonnaise-bottel en die twee koppies koffie onthou, sê dr. Dick Krüger vir ons. Dan vertel hy van die professor wat voor sy fi­losofieklas staan en ‘n groot mayonnaise-bottel in sy hande hou. Woorde­loos begin hy die bottel vol golfballetjies pak.  Hy vra vir die klas of hulle saam­stem die bot­tel is nou vol. Ja, hulle stem saam, die bottel is vol.. Hy neem ‘n dosie vol al­basters en begin dít in die bottel gooi. Hy skud die bottel effens, die al­bas­­­ters rol in al die holtes, tussen die veel groter golfballetjies, in. “Is die bottel nou vol?” wil die pro­fesor voorts weet. “Ja,” stem die studente saam, “nóú is hy vol.” Die professor tel ‘n doos vol sand op en gooi die sand tot bo in die bottel. Weer vra hy of die bottel nóú vol is. Die studente lag en stem een­parig saam, nou ís die bottel régtig vol. Van onder die tafel bring die pro­fessor twee koppies koffie te voor­skyn. Hy gooi altwee koppies koffie in die bottel, en dit sypel in die sand en tussen al die hol­tes in.  Die studente skaterlag. “Goed,” sê die pro­fes­sor, toe die gelag bedaar, “ek wil hê julle moet elk­een die bottel as ‘n beeld van sy lewe beskou. Die golfballe is die belangrike dinge in die lewe: jou ge­sin, jou gesondheid, jou vriende, jou voorlief­des. As alle ander dinge vergaan en hierdie dinge bly, sal jou lewe stééds sinvol wees. Die albasters is  die ander dinge wat ook saakmaak: jou beroep, jou huis, jou motor. Die sand is al die ander dinge, klein goedjies wat die lewe kan vol maak. As jy die sand eerste ingegooi het, sou daar nie plek ge­wees het vir die albasters, en nog minder vir die golfballe, nie. Gee aandag aan die dinge wat reg­tig belangrik is vir jou geluk. Bring tyd deur by jou kin­ders, by jou ouers, besoek jou grootouers, maak tyd vir roetine, mediese ondersoeke. Daar sal altyd nog tyd wees om die huis aankant te maak, die vullis te ver­wyder, tuinwerk te doen, koerant te lees, TV te kyk. Sorg vir die golfballe, die dinge wat reg­tig saakmaak. Besluit wat voorrang in jou lewe moet kry.  Die ander dinge is die sand. Dit sal wel insypel.” Een van die studente steek sy hand op. “En die koffie?” Die professor glimlag. “Ek is bly jy vra. Die koffie wys dat hoe besig ‘n mens se dag ook mag wees, daar is altyd nog tyd vir ‘n koppie koffie saam met ‘n vriend.”

Dit is ‘n waardevolle storie, dink ek. Ons ervaar dat ‘n mens se dag so vol kan raak met algemene dinge, dat belangrike dinge uit­bly, as ons nie versigtig beplan nie. Ek is net spyt die professor het nie eerste ‘n tennisbal ingesit en toe golf­bal­le, albasters en sand nie. En dan vir die student gesê, belangrikste bo alle ander dinge, is ons om­gang met God. As ons nie doelbewus tyd maak vir ons gebeds­le­we en die lees van God se woord nie, kry ons nie daarvoor tyd nie. Hoeveel keer sê iemand nie: “Ek het vandag reg­tig nie tyd gekry om te bid of my Bybel te lees nie.” Dit is onuitspreeklik voordelig vir ‘n mens om die dag op die knieë en by die oop Bybel te begin. “Versadig ons in die môre met u goedertierenheid, sodat ons kan jubel en bly wees in al ons dae” (Ps.90:14 Ou Vert.).

“Here, vandag wil ek U eerste stel in my program.”

Van naby ken

Lees: Romeine 8: 12 – 17

“Die Gees…laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak… (15).

Steve Flaig, van Grand Rapids, Michigan, het gewéét hy is ‘n aangenome kind. Op sy 18de verjaarsdag besluit hy om uit te vind, wie sy regte ma is, vertel Rev. A. Sar­gent die storie wat Neil Verwey vir my (in Engels!) per inter­net uit Japan stuur. Sy aangenome ouers, Pat en Lois Flaig, het hom in sy voorneme ge­steun. Pat Flaig het by D.A.Blodgett for Children, die agent­skap wat Steve se aanneming hanteer het, vir agtergrond inligting aange­klop. ‘n Paar maande later kry hy Steve se eie ma se naam, Christine Tallady. Sy was enkel en baie jonk toe Steve gebore is. Sy het die aannemingsrekord laat oop bly, met die hoop haar seun sal eendag na haar soek.

Na Steve sy eie ma se naam gekry het, het hy op die in­ter­net na haar woonadres begin soek. Sonder suk­ses. Na vier jaar ontdek hy hy spel haar naam verkeerd as Talladay, terwyl sy Tallady is. Toe hy Tallady in die re­kenaar intik, kry hy haar adres. Minder as ‘n myl van Lo­wes Store, waar hy werk, af.  Opgewonde vertel hy dit vir sy baas by Lowes Store. Verbaas sê sy baas: “Be­doel jy Christine Tallady, wat hier werk?” Steve was stomgeslaan. Steve sê hieroor: “For the next seve­ral weeks I would walk by her, look at her from a distance, not knowing how to approach her. Should I just walk up to her and say, ‘Hi, I’m Steve, your son.’ What if she rejected me?” En toe, op Vry­dag 14 Desember 2007, ontmoet Steve en Chris­ti­ne, wat mekaar al so lank op ‘n afstand ken, me­kaar as moeder en kind! “It was a tearful and joyful re­union,” sê Steve later hieroor.

Rev. A. Sar­gent bring hieroor, hierdie boodskap na ons harte toe: “Toe jy en ek gebore is, het ons op grond van die skepping aan God behoort. Ons deel aan die sondeval het ons van God geskei. ‘Julle sondes het julle afgesny van God. Hy het weg­­gedraai van julle. (Jes.59:2)‘ Maar God het Hom­self en sy liefde, vir ons, deur sy Woord aan ons bekend gemaak. Hy verlang ons moet Hom soek. ”God se doel (met ons is) om Hom te soek. Nie dat Hy ver van enigeen van ons af is nie” (Hand.18:27). Hy het sy Seun aan die kruis laat sterf vir ons son­des sodat ons met Hom herenig kan word.

As ons God net op ‘n afstand ken, soos Steve en sy ma, kan ons deur die Here Jesus Christus as ‘n eie kind naby aan God kom. Vertrou in Jesus as u Verlosser. Sê vir Hom, hardop of in u hart: “Here Jesus, red my, asseblief.” En word ‘n naby kind van God deur sy Gees in u hart.

“Here, vandag vertrou ek in U vir my redding.”

Plekke Omruil

Lees 2 Korintiërs 5: 11 – 21

“Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees” (21)

In ’n dokter se wagkamer sit ’n lang ry mense hul beurt en afwag. Elke keer wanneer iemand ingeroep word, skuif die ry een sitplek op. ’n Man het ingekom, die situasies opge­som en ewe getroos op die laaste oop stoel gaan sit. Mettertyd het hy opgeskuif totdat hy die vol­gende een sou wees wat na die dokter toe kan in­gaan. Skielik gaan die deur oop en ’n vrou, wat sigbaar siek is, kom binne. Sy kreun toe sy die lang ry wagtende mense, wat alweer bygekom het, sien. “Ag, Meneer,” sê sy vir die man wat nou heelvoor sit. “Mag ek asseblief eer­ste ingaan. Ek voel so bitterlik sleg!” Hy huiwer nie ’n oom­blik nie. Hartlik sê hy: “Verseker.” Juis op daardie oomblik gaan die deur oop en ’n ver­pleeg­ster roep: “Vol­gende, asseblief!” Dank­baar gaan die vrou in. Die man wil weer gaan sit, maar die man wat tweede gesit het, het reeds die eerste stoel in­ge­neem. Hy wil protesteer, maar een uit die ry roep: “Dis reg so. Jy het jou eerste plek vir haar gegee en nou moet jy haar laaste plek vat.” ’n Goedige, “Hoor! Hoor!” klink op. Die man glimlag en gaan ewe getroos weer op die laaste oop stoel sit. Hy sê: “Julle is reg, vriende. Ek het my goeie sitplek vir haar gegee en nou moet ek haar swak sit­plek in­neem. Dit is presies wat die Here Jesus vir ons gedoen het. Hy het sy goeie posisie as Seun van God en erfgenaam van die hemel vir ons ge­gee, en Hy het ons swak plek as verlore son­daars in­ge­­neem en in ons plek die straf vir mis­daad, die kruis­­dood, gesterf, so­dat ons deur geloof in Hom kin­ders van God kon word en plek in die hemel kon kry.” ’n Eerbiedige stilte het in die wag­kamer geheers. Hulle het die boodskap verstaan.

Die man was self ’n Christen, maar hy het ook in sy hart ’n gereedheid gehad om ’n geleentheid om vir die He­re te getuig, te benut. Uit ons eie het ons nie so ’n gre­tigheid om Jesus se verlossing oral bekend te maak nie. Ons het behoefte aan so ‘n inwoning van die Heilige Gees in ons hart, dat ons hart sal brand om Jesus se Naam en sy Verlossing oral te verkondig.

“Here, vandag benut ek geleenthede om vir U te getuig.”

Wie respek verdien

Lees Johannes 12:20-29

“As iemand My dien, sal die Vader hom eer” (26)

Die Skotse sendeling, David Livingstone, is in 1873 op 60-jarige ouderdom dood. Hy kon sy lewe in gerief by sy tuiste in Skotland geslyt het, maar hy het die sendingveld gekies. Oor hierdie keuse het hy gesê: “Mense praat van die opoffering wat ek gemaak het, om die grootste deel van my lewe op die Afrikasendingveld deur te bring. Dit is net ’n klein terugbetaling vir die groot opoffering wat my Verlosser gemaak het, om sy hemeltuiste en sy Vader se troon prys te gee om vir my ’n ewige saligheid te kom bewerk!” Na David Livingstone se dood het ondersteuners van sy sendingwerk in Afrika, dadelik aan die werk gespring om sy lig­gaam terug te bring Engeland toe. Hy is in 1874 in die Westminster Abdy in Londen begrawe.

Die dag met sy begrafnis het duisende mense die strate waar­langs die stoet sou beweeg vol­ge­staan om ’n laaste eer aan hom te bewys. Tussen die skare het ’n boemelaar gestaan: vuil, klere flenters, hare en baard lank en deurmekaar. Hy het droewig gestaan en huil. Iemand vra hom: “Wat makeer, ouman? Hoekom huil jy so vreeslik?” Snikkend antwoord die ou man: “Ek en Davie het saam grootgeword. Ons het saam skoolgegaan. Ons was in dieselfde klas. Ons het saam op ’n skoolbank gesit. Saam gewerk. En toe het hy sy pad gekies. En kyk wat kry hy vandag. Almal ken hom. Die hele volk eer hom. Ek het ook my pad gekies, en wat kry ek vandag? Ek is onbekend, verwaarloos, eerloos. Ek het niks om na uit te sien nie, as net ’n dronkaardsgraf.”

As David Livingstone met sy eertydse vriend kon praat, sou hy seker vir hom ’n wonderlike uit­red­ding kon voorhou. Die uitredding van die evan­ge­lie van die Here Jesus Christus, vir iemand wat die pad van die verlore seun geloop het. Dit is hier­die wonderlike boodskap van redding wat Living­stone sen­ding­veld toe laat gaan het. Hy sou vir hom kon sê: “God het jóu ook lief. Hy het sy enigste Seun ook vir jóu sonde laat sterwe. Vlug met jou sonde en verlore lewe na Hom toe. Hy het ge­sê: ‘Ek sal hom wat na My toe kom nooit verwerp nie…” (Joh.6:37). Kom, begin ’n nuwe lewe saam met die Here Jesus.

 “Here, vandag bring ek myself na U toe.”

Soos die oorspronklike

Lees: 2 Korintiërs 3: 12 – 18

“Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word… Dit doen die Here wat die Gees is” (18).

In die Japan Times vertel R. Morihara van ‘n mnr. Imura, wat vir 19 jaar, aan ‘n replika van die 400-jaar oue Himejikasteel, in die agterplaas van sy huis, in Ise, Japan, gewerk het. Hy was 14 jaar oud toe hy in ‘n seunstydskrif ‘n foto van dié kas­teel gesien het. Van die begin af het die kasteel hom geboei. Reeds as seun besluit hy om daardie kasteel na te maak. Toe hy later getroud is, moe­dig sy vrou hom aan om sy seunsdroom uit­ te voer. Hy koop ‘n stukkie grond met ‘n pragtige uit­sig op die berge. Op die ouderdom van 60 jaar tree mnr. Imura af en begin al sy tyd aan die bou van sy kas­teel wy. Met groot sorg maak hy se­ker sy kasteel kom ooreen met die oorspronklike ses­­ver­dieping kasteel. Veral die geboë lyne van die dak, die wit mure, die ingewikkelde saamge­stel­de torinkie, die steenmure en grag is vir hom be­­lang­rik. In sy tuin voltooi die 69-jarige, voor­ma­lige ver­se­keringsinspekteur, in April 2007 sy 1:23-­skaal­mo­del van die Himejikasteel. ‘n Japanese amp­te­naar het gesê, as ‘n mens na ‘n foto van mnr. Imu­ra se kasteel kyk, sal mens dink dit is die regte kasteel. Sedert die voltooiing van mnr. Imura se kas­teel, word hy oorval deur besoekers wat na sy kasteel kom kyk. Die Himejiregering het hom as toeriste-ambassadeur van Japan benoem.

Nou skryf Neil Verwey, wat al meer as 50 jaar sen­de­ling in Japan is en wat die storie vir my ge­stuur het: “Mnr Imura is ‘n goeie verteenwoordiger van sy land, maar as jy in Christus glo, is jy sy am­bas­sadeur in jou omgewing, om mense te oor­reed om vrede te maak met God. ‘Ons tree dan op as ge­sante om Christus wil, asof God deur ons ver­maan: Ons bid julle om Christus wil, laat julle met God versoen’” (2 Kor. 5:20).

Die geheim van mnr. Imura se sukses met sy skaalmo­del, was die sorg wat hy aan die dag gelê het, om sy kas­teel, net soos die regte kasteel, te laat lyk. Sy kasteel was ‘n 1:23-replika, d.w.s. 23-keer kleiner as die die regte kasteel. Maar dit het soos die regte een gelyk.

Ons, Jesus se volgelinge, kan nie Jesus se grootte ver­teenwoordig nie. Hy is God, Seun van God, maar Hy het op aarde in sy gewone omgang met mense en sy om­gang met sy Vader, God in die hemel, vir ons ‘n lewensvoorbeeld na­ge­laat. Die Heilige Gees, wat na Je­sus se he­melvaart gekom het en deur wedergeboorte, Jesus se lewe in die mense wat tot redding kom, in­plant, verander ons mettertyd na Jesus se beeld: sy gedrag, verdraagsaamheid, toewy­ding, liefde. Die mate waarin Jesus se eie Persoon en beeld in ons lewe posvat, word ons God se ambassadeurs in ons omgewing en trek ons mense aan na Jesus toe.

Die Bybel is die spieël waarin ons kyk om die Here Jesus Christus se beeld te sien. Dan verander die Heilige Gees ons stadigaan, deur die krag en wil van God, na dié beeld, wat Hy vir ons in sy Woord wys. Ons moet dikwels en intensief na Jesus se beeld in die Skrif kyk!

“Here, vandag kyk ek na u beeld in u Woord en open my hart om deur U na dié beeld herskep te word

Saai en oes

Lees 2 Korintiërs 9:6-15

“Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes…want God het die blymoedige gewer lief. En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk…(6-8).

Twee studente, wat aan die Leland Stanford Univer­siteit studeer het, moes werk vir hulle stu­die­gelde. Hulle fondse het gedaal en hulle moes ’n plan beraam vir groter inkomste. Hulle kry die gedagte om ’n konsert aan te bied waarin die Pool­se pianis, Ignace Paderewski, ’n klavieruitvoering sou gee. Die beroemde kunstenaar se bestuurder het ’n waarborg van $2 000 gevra. Die twee studen­te het voortgegaan en die konsert aangebied. Die aand se opbrengs was $1 600. Hulle het hulle saak aan Pa­derewski gestel, die volle $1 600 aan hom oorhandig en vir hom ’n skuldbewys van $400 ge­gee. “Nee, man­ne,” het Paderewski geantwoord, “dit sal nie werk nie.” Hy het die skuldbewys opgeskeur en die $1600 aan hulle teruggegee. “Trek julle onkoste af en gee vir julle elkeen 10% van die bedrag en laat ek die balans kry.” Die jare het  verby gerol en die Tweede Wêreldoorlog het uitge­breek. Paderewski het hard gewerk om sy hong­e­r, ster­wende Poolse landgenote te help voed. Pade­rew­ski het planne beraam om iemand in die buiteland om hulp te nader. Voor hy sy plan kon uitvoer, begin duisende ton voedsel instroom om die hongeres te voed. Na al die reëlings getref is om die voedsel reg uit te deel, het Paderewski Parys toe gegaan om Herbert Hoover, die sken­ker, persoonlik te gaan bedank vir sy wonderlike hulp. “Dis alles reg, mnr. Paderewski” het Hoover ge­ant­woord. “Ek het besef die nood is groot en ek is gelukkig in ’n posisie om te help. Buitendien, u sal dit seker nie onthou nie, maar u het eenkeer toe ek en ’n studente­maat in die moeilikheid was, ons uit ons ellende gehelp.”

Wat ons vir ’n ander doen, lyk soms vir ons gering, maar God, wat ’n goeie gewer liefhet, sal vir ons sorg as ons die dag in nood verkeer   “Gee, en vir julle sal gegee word: ’n goeie maat, ingestamp, propvol…” (Lukas 6:37-42). Dit is God wat ons help, maar Hy gebruik ’n menslike in­strument om dit te doen.

“Here, vandag wil ek iemand wat nood het, help.”

Om sterk te wees

Lees Filippense 4:1-9

“Die Here is naby . Moet oor niks besorg wees nie…” (5,6).

Wilson Pitner het te perd deur ’n woud gery.  Hy sien ’n wingerdstok, met ranke so dik soos sy arm. Hy kyk op. Die wingerd is ’n goeie tien meter of meer hoog, vas­ge­rank aan die tak van ’n eike­boom. By die voet van die hoë wingerd was ander wingerdstokke, klein en plat met los rankies na alle kante toe. “Ja,” sê hy vir homself, “ek sien wat die verskil maak. Die hoë wingerd het al vroeg die eikeboom se stam vasgegryp. So is dit met my ook. Ek is geneig om teen die grond te wees: moe­deloos en mistroostig. Maar as ek God vasgryp en aan Hom vas­hou, en my ranke om die dik takke van sy beloftes in sy Woord slaan, rig ek my op en ek voel getroos en sterk.”

Baie keer kry ons Dawid ook op so ’n swak plek, maar dan word hy weer deur die Here se be­lof­tes in die Here sterk gemaak. “Wees my genadig, Here, want ek is in die nood; van verdriet het my oë swak geword, ja, alles in my. My lewe vergaan van kommer en my jare van swaarkry… maar ek vertrou op U, Here, ek sê: U is my God. My tye is in u hand…Hoe groot is u goedheid: dit is altyd daar vir dié wat U dien, U bewys dit… aan die Here kom die lof toe, want Hy het sy trou op wonderbaarlike wyse aan my betoon…U het ge­luis­ter na my gesmeek toe ek na U om hulp ge­roep het…Wees sterk en hou goeie moed, julle al­mal wat julle vertroue in die Here stel” (Ps.31:10-25). Hierdie deur van hulp staan ook gedurig vir óns oop. Die Here Jesus se verdienste aan die kruis het vir ons die weg na die genadetroon toe oopge­maak. “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons…En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is…(Rom.8:26,27)

“Here, vandag voel ek swak. Ek gryp U vas om my te help.”

Die gees van kersfees

Lees Matteus 10: 26 – 31

“Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie” (29,30). 

Die eerste week van De­sem­ber 1950 het die lid­ma­te van ‘n klein ge­meen­te in Noord-Ierland, tot ak­sie oorgegaan om hulle kerkie, wat in ‘n verwaarloosde toe­stand was, vir Kerfees skoon te maak en op te knap. Twee dae voor Kersfees tref ‘n storm die dorpie en maak hulle handewerk feitlik tot niet. In die muur, voor in die kerk, word die nuwe pleis­tering wat ‘n diep kraak in die muur moes bedek, feitlik wegge­stroop. Die volgende dag, die dag voor Kersfees, bring die gemeente­le­de hul be­sems en borsels en pro­beer om die kerkie so goed moontlik reg te kry vir die Oukers­aanddiens, dáárdie aand. Juis daar­die oggend, oppad kerk toe, om self hand by te sit met die  regmakery, stap die predi­kant by ‘n veiling ver­­by. Vir ‘n klein bedraggie koop hy ‘n pragtige ge­­bor­duurde, vyf me­ter lange, tafel­kleed. Dit sou die kraak in die muur mooi bedek en was ook ‘n ver­­sier­ing vir die muur.

By die kerk gekom, word sy aandag getrek deur ‘n vreemde, eensame vrou wat met hang skou­­­ers voor die kerk staan. Hy nooi haar saam met hom in die kerk in en laat haar solank op ‘n bank sit, terwyl hy, die kleed wat hy gekoop het, voor die kraak probeer drapeer. Toe hy die kleed oop­vou en laat afhang, kom die vrou met ‘n kreet reg­op. “Dit is myne!” roep sy uit. “Kyk in die hoek staan my drie voorletters. Dit was ‘n geskenk van my man.” Sy vertel vir die pre­di­kant sy en haar man het in Viënna gewoon. Met die oorlog het hy in ‘n kon­sen­trasiekamp beland. Sy het Engeland toe ge­vlug. Haar man is in die kamp dood, het sy ver­neem. Sy is juis nou op pad terug na haar tuis­dorp toe. Sy het in die predikant se dorpie, by `n welgestelde gesin, vir `n werk as goewernante vir die kinders, aansoek kom doen. Sy het die pos nie gekry nie. Sy wou die tafelkleed nie  terug neem nie. Dit dien `n goeie doel om die kraak in die kerkmuur te bedek.

Na die Oukersaand-diens kom ‘n man met die predikant praat. Hy wys na die ta­fel­kleed en sê aangedaan: “Ek het daar­die tafel­kleed in Viënna vir my vrou gegee. In die oor­log is ons van mekaar geskei. Ek het later verneem sy is in ‘n kon­sen­tra­siekamp dood. Ek woon nou hier. Daardie kleed  ontroer my ten diepste.” Die predikant luister het met groeiende opgewondenheid na die man. Hy vertel hom hoe die vrou die oggend gereageer het toe sy die tafel­kleed sien. Hulle wil nou dadelik met haar in aanraking kom, maar die predikant besef hy het nie haar adres geneem nie. Hy kon ge­luk­kig die welgestelde gesin se naam onthou en húlle kon die vrou se adres dadelik ver­strek. Die predikant en die man is sommer nog dieselfde nag na die dorp toe waar die vrou woon. Dit was ‘n vreugdevolle herontmoeting en vir hulle twee die beste Kersfees ooit. Die man en vrou was albei Chris­tene. Hulle het toegewyde lidmate van daardie ge­meente geword. Die kleed het lank teen die muur bly hang, as versiering, maar ook as getuienis van God se goed­heid en getrouheid aan sy kinders in tye van nood. Die kerkie het die naam gekry: “Die Tafelkleedkerk.”

God wat ons liefhet weet wie ons is en waar ons ons bevind en hoe ons lewensomstandighede loop. Ons om­standighede word soms soos ‘n spinnekopnes opge­knoop. God wat uit liefde vir ons sy Seun gestuur het om ons lewens reg te maak, en wat selfs weet hoeveel hare op ons hoof is, kan ons lewens regbuig as dit aan Hom oorgegee word. Kersfees herinner ons aan God se liefde.

“Here, vandag hoop ek met blydskap op U hulp.”

In 'n Oosterse stal

Lees     Johannes 1: 1 – 14.

“In die begin was die Woord…en die Woord was God…En die Woord het vlees geword…(1,14)

Na die kommuniste se oorname van Sjina in 1949, is die Engelse sendeling in Tibet, Geoffrey T. Bull, deur die kommuniste gevange geneem en met hulle saam­ge­voer. In sy boek, When Iron Gates Yield, beskryf Bull sy veel­eisende tog oor die be­vro­re berge, as ‘n gevan­gene onder hulle wre­de bewa­king. Een aand gaan hulle ’n klein berg­dorpie bin­­ne. Hy kry ’n sol­der­kamer om in te slaap. Die kamer was verrassend skoon en ’n kon­ka met smeulende kole versprei ’n aan­gename hit­te in die kamer. Hy wou hom net aan die weelde van die skoon, warm ka­mer oorgee, toe die wag op hom skreeu om die perde in die stal te gaan voer. Hy klou­­ter af stal toe. Daar was dit pikdon­ker en baie koud. Die mis en strooi op die vloer kraak onder sy skoene. Die per­de staan met hang­­ende sterte en maan­hare steun­end aan pale vasgemaak.

Hy skryf: “Koud, moeg, alleen en siek, begin ek vir myself jammer voel. In die donker daal dit skielik in my denke: Dit is Kersaand. (Nou sy eie woorde). I stood suddenly still in that Ori­en­tal manger. To think that Jesus came all the way from hea­ven to some wretched eastern stable, and what is more, to think that He came for me.” Die indruk wat die koue, nat, stinkende stal op hom gemaak het, na die ge­ringe weelde van sy ver­warmde solderka­mer­tjie, laat hom vra, of ons die vernedering en on­ge­rief en selfs af­stootlikheid van ’n Oosterse stal en vuil krip, waarheen Chris­tus van sy hemeltroon af gekom het, in ge­dag­te, hou as ons óns Kersfees vier?

Ons vreugde met Kersfees moenie gedemp word nie, want die engel se boodskap aan die herders in die Bet­­­lehemsveld bly waar: “…ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap … Vandag is daar vir jul­le…die Verlosser gebore, Christus die Here! En…julle sal ’n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ’n krip lê” (Luk.2:10-12).

“Here, vandag loof ek U vir Kersfees.”

Dink aan ander

Lees 2 Korintiërs 6:1-11 Die Lewende Bybel

“Ons gee niemand enige aanstoot nie…in elke opsig laat ons ons ken as diensknegte van God..deur die betoning van die teenwoordigheid van die Heilige Gees, deur opregte liefde…” 3,6.

’n Groep koloniste uit New Zealand het per ge­leent­heid per skip Engeland toe gereis om familie en vriende te besoek. By die laaste hawe, voordat hulle hul bestemming sou bereik, het hulle almal vir hul mense telegramme gestuur oor hoe laat hulle die volgende dag sou aankom. Hulle boot vaar voor­spoe­dig met die Kanaal op. Teen middag sak digte mis oor hulle toe. Die kaptein gooi anker. Uur na uur lê die skip daar. Dr. W. F. Boreham was een van die passasiers. Gewoond daaraan dat sy onge­duld in ’n situasie botoon voer, soek hy die kaptein op en sê vir hom: “Kaptein, dit is darem ‘n uiters tergende situasie. Ons het ons mense laat weet hoe laat ons aankom; Dit gaan darem vir hulle baie ongerieflik wees om soveel ure by die dokke op ons te wag.” Die kaptein antwoord: “Dr Boreham, u bevind u op ‘n 10 000 ton lynboot. U wil hê ek moet in die mis vaar en die klein bootjies soos bruin papier voor my opfrommel. Nee, ons het ander om aan te dink!”

Soms het ons in ’n situasie ’n meerdere gesag en ons kán óns wil en óns sin laat geld tot skade of ongerief van ander. In so geval verloën die Chris­ten homself en dink aan die ander wat ook betrokke is. “Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander” (Fil.2:3,4).

 “Here, ek wil vandag ander se belange bo myne stel.”

Eers jaag sy - Nou vlug sy

Lees Romeine 6: 1 – 14

“Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus” (11).

`n Jong meisie het by haar plaaslike kerk aansoek gedoen om lidmaat van die kerk te word. Die kerkraad moes haar toets, om vas te stel of sy voldoen aan die geloofsoor­tuiging wat hulle van lidmate ver­wag. Die ouderling wat haar on­dervra, begin met die belangrike ba­siese vraag: “Het Chris­tus `n verskil in jou lewe gemaak?” Sy ant­woord positief; dit is sekerlik so. Die volgende vraag is `n moeiliker een: “Doen jy nog sonde?” Die jong­mei­sie erken dat sy wel nog sonde doen. Nou vra die ouderling: “As jy sonde gedoen het, voor Christus in jou lewe gekom het, en jy doen steeds son­des na Hy in jou lewe gekom het, watter verandering het Hy dan in jou lewe gemaak.” Sy oordink die vraag ’n rukkie, dan antwoord sy: “Me­neer ek dink dit is so: voor Christus in my lewe ge­kom het, het ek agter sondes aangejaag. Dit was vir my lekker. Na Christus in my lewe ingekom het, vlug ek vir die sondes. Soms haal hulle my nog in, maar ek is skaam en hartseer as dit gebeur.”

Dit is die bemoediging wat God se Woord  ons gee: “Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan die­selfe ge­meen­skap en reinig die bloed van Je­sus, sy Seun, ons van elke son­de. As ons be­weer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons ons­self en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en reg­verdig, Hy vergewe ons ons sondes en rei­nig ons van alle ongeregtig­heid…as een van ons son­dig – ons het Jesus Christus, die regver­dige, as ons voorspraak by die Va­der. Hy is ’n versoening vir ons sondes…” (1 Joh.1:7 – 2:2).

“Here, vandag bely ek my sondes aan U.”