Die Meester se hand

Lees Handelinge 9: 32 – 35

“’Eneas… Jesus Christus maak jou gesond. Staan op.”’ Hy het dadelik opgestaan… die mense het hom gesien en hulle tot die Here bekeer”(34).

In mev. Charles Cowman se dagboek, Springs in the Valley, vertel sy hoe die beroemde Noor­­weeg­se violis van die middel van die 19de eeu, Ole Bull, op sy toer deur Europa, laat een aand by die klein, hout­hutjie van ’n kluisenaar aan­land. Die ou man nooi hom in en gee hom kos. Na die ete gaan hulle voor die kaggel sit en die kluisenaar probeer op sy ge­ha­wende ou viool vir sy gas musiek maak. Dit was krassende musiek. “Mag ék op jou viool speel?” vra Ole Bull. “Jy kan probeer,” antwoord die ou kluisenaar, “maar dit het my jare geneem om soos nou te leer speel.” Ole Bull het die stryk­stok sag oor die snare gestreel. Skielik was die ou kluisenaar se hut met lieflike musiek ge­­vul. Ver­stom staar die ou man Ole Bulle aan en gaan soos ’n kind aan die huil. “Ek het nie ge­weet dit kan so wees nie…Ek het nie geweet dit kan so wees nie,” snik die ou oor en oor. Mev. Cowman maak die opmerking: “We are battered instruments. Life’s strings have been snapping; life’s bow has been bent. Yet if we will only let Him take us and touch us, from this old battered broken, shattered, marred instrument, He will bring forth music fit for the angels.”

“Here, vandag wil ek my swak lewe in u hande plaas.”

Die Opheffende Gawe

Lees: Johannes 1:35-42

“Daarna het hy eers sy broer…gaan soek en…hy het hom na Jesus toe gebring” (42)

 Kort na eerw. Charles R. Goff, pastor ge­word het van die Methodist Temple (so genoem as gevolg van die tempelvoor­koms van die gebou wat as Metodiste Kerk gebruik is) in die hart van Chicago Loop, het hy gevoel dit is nodig om ’n Christelike skildery in die ingang van die Tempel te hang. Dit moes `n Christenatmosfeer skep vir die stroom van besoekers aan die Tempel. Hy het met die bekende skilder, Warner Sallman, daaroor gepraat. Die gevolg was  Sallman se bekende skildery, The Head of Christ, het ’n ereplek en `n nuttige fuksie in die voorportaal gekry.

In die loop van hulle gesprek sê Sallman vir eerw. Goff: “Ek wag al jare om vir u te sê, u het daardie prent, wat soveel sëën vir my gebring het, vir my gegee. U het Christus aan my gegéé.” Jare te vore het eerw. Goff ’n reeks Bybellesings in ‘n Y.M.C.A.-saal gelewer. Sallman het dit as jong skilder byge-woon. Gedurende een van die lesings het Sallman ’n besef van die wonderbare, gekruisigde Heiland gekry. Daardie nag, terwyl hy slaap, het hy ’n visioen van die hoof van Christus gekry. So het Christus vir hom gelyk. Hy het hy dadelik ’n skets gemaak van wat hy gesien het. Daarna het hy dit geskilder. Vyftig miljoen afdrukke van hierdie skildery, word in die aanhaling gemeld,  is wêreldwyd verkoop. Dit is meer as van enige ander prent, hedendaags of outyds, wat ooit verkoop is.

Ons gaan die Here Jesus eendag sien soos Hy werklik is. Hoe ’n vreugde sal dit dan wees as iemand sal sê: “Jy het Christus aan my gegee.”

“Here, vandag soek ek geleentheid om U aan iemand bekend te stel.”

Eie Verantwoordelikheid

LEES: Johannes 5: 24 – 29; 39 – 40

“Wie luister na wat Ek sê, en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe…hy word nie veroordeel nie…tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie” (24,40).

Tom M. Olson stap ’n haarkappersalon bin­ne. Hy hoor ’n man sê: “Ek is ’n sondaar gebore. Ek kon dit nie verhelp nie en daarom is dit nie my skuld nie. As ek nou sonde doen, is dit nie my skuld nie en God kan my nie daarvoor veroordeel nie, al sê die predikers ook wat!” Olsen gereageer dadelik daar­op. “Vriend, die Bybel sê nêrens, Hy sal jou ver­oordeel omdat jy ’n sondaar gebore is nie, maar omdat jy ’n sondaar bly, omdat jy die Ver­losser wat Hy gestuur het, verwerp.” Hy kom ag­ter al die manne in die winkel luister na hom. Hy ge­bruik ’n illustrasie: “Ver­on­der­stel, iemand loop in die middel van die nag, by jou huis verby en sien jou huis is aan die brand. Hy maak jou wakker en waarsku jou. Maar jy jaag hom weg en sê jy het nie die brand veroorsaak nie en daarom is jy nie ver­antwoordelik daarvoor as jy doodbrand nie. Die brandweer daag op met klokkegelui en skreeu­ende sirenes, maar jy hou daarby, jy het nie die brand veroorsaak nie en hulle moet jou uitlos. As jy doodbrand: wie se skuld gaan dit wees?” “Die een wat die gebou aan die brand gesteek het,” volhard die man. “Nee, ou maat,” sê ’n man uit die stoel langs hom. “Dit gaan jóú skuld wees. Jy het kans gehad om gered te word en jy het geweier.” Daar was algemene in­stem­ming. Die oor­spronk­like prater gee halfhartig toe, betaal vir die haar­sny, neem sy kleingeld en gee pad.        Dit is ’n ge­vaarlike koers om God se dui­delike boodskap oor ons redding en die ewig­heid te weier: “Pas op, moet Hom wat met julle praat, nie afwys nie… hoeveel minder sal ons ont­kom wanneer ons nie ag slaan op Hom wat van die hemel af met ons praat nie…” (Heb.12:25).

“Here, vandag luister ek as U met my praat.”

Gaan my nie verby nie!

Lees Lukas 18:35-43

“Hulle vertel hom toe: ‘Jesus van Nasaret gaan hier verby’”(37).

Fanny Crosby, wat baie liedere geskryf het en wat selfs nou nog gesing word, was blind. Sy het ’n brandende liefde vir die Here gehad. Sy sou na enige plek toe gaan om ander van Jesus te vertel. Eendag het ’n evangeniskape-laan haar op sy besoek aan ’n tronk saamgeneem. Sy het met die gevangenes oor Christus gepraat: “Hy sal in jou hart kom en jou lewe nuut maak as jy hom om genade en vergifnis sal vra.” Terwyl sy praat het ’n ou gevangene, wat al baie jare in die tronk was begin uitroep: “O, Here, gaan my nie verby nie. Wees my, ’n sondaar, genadig. Ag, gaan nie by my verby nie.” Sy ernstige smeking het Fanny diep in haar hart getref. Toe sy by haar huis kom, gaan sy dadelik na haar kamer toe, sluit die deur en sy skryf die lied wat nou nog ons harte raak:

Gaan my nie verby, o Heiland, Gaan my nie verby!

Wyl U ander seën, Heiland, seën nou ook my!

Op u soenbloed pleit ek, Heiland,

Wees my hulp en steun!

Wees my Voorspraak en my Midd’laar,

 Hoor my, o Gods Seun!

Jesus, Heiland, wees my nou naby,

Wyl U ander seën, Heiland, seën nou ook my!

“Here, vandag pleit ek ook: ‘Gaan my nie verby nie.`”

Die deurgekapte Bybel

Lees Hebreërs 5: 12 – 13

“Die woord van God is lewend en kragtig. Dit…dring deur selfs tot…siel en gees. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart” (12).

Een van die kragtige evangeliste van die 19de eeu was ’n man, “Uncle” John Vassar. Hy het opgegroei in ’n familiesaak van bierbrouery in Poughkeepsie, New York. Na sy bekering het hy sy bierbroubelange prysge­gee en ’n prediker en sielewenner vir Christus ge­word. Op 15 Mei 1850 is hy aangestel as die verteen­woor­di­ger van die American Tract Society of New York. Hy het onvermoeid geestelike leesstof verkoop en versprei en met mense oor hulle verhouding met Christus gepraat. In sy boek The Fight for Faith, vertel hy van ‘n ondervin­ding wat hy gehad het.

Hy kom eendag by die huis van ’n vrou wat die Here ken en vir haar man se bekering bid. Haar Bybel was al oud en gehawend en Vassar gee vir haar ’n pragtige, nu­we Bybel. Nie lank na hy vertrek het nie, kom die man tuis en sien die nuwe Bybel. Woedend gryp hy die Bybel, storm uit na die plek waar hy die hout kap, gryp ’n byl en kap die Bybel in die dwarste middeldeur. Hy stap huis toe, gooi die een helfte van die Bybel vir sy vrou en skreeu: “Jy sê die helfte van alles hier behoort aan jou, goed, daar is jou helfte van die Bybel.” Die ander helfte gaan gooi hy in sy werkskamer neer.

’n Paar maande later is dit reënerig en hy kan nie bui­te werk nie, maar hy wil ook nie in die huis by sy godsdienste vrou sit nie. Hy gaan sit in sy werkskamer. Die tyd begin hom verveel. Hy sien die halwe Bybel op die vloer in die stof lê. Hy neem dit en blaai die halwe stuk deur. By Lukas 15 kom hy af op die verhaal van die Verlore Seun. Hy begin dit lees en dit boei hom. Maar halfpad is dit afgekap en die einde van die verhaal is in sy vrou se halwe Bybel. Hy sluip saggies die huis binne en soek na sy vrou se halwe Bybel. Hy kan dit nie kry nie, maar daar was nou so ’n angstigheid in sy hart om te weet hoe die pa die seun terug ont­vang het, dat hy nederig vir sy vrou haar Bybel gaan vra. Hy het met die Bybel gaan sit en die verhaal ’n paar keer deurgelees en net daar, met sy vrou se hulp, sy hart vir Here gegee.

Ons sien die drie faktore wat saamgewerk het tot hierdie man se redding: Die ywerige Bybelverkoper, die biddende vrou, God se or­dening van omstandighede en die krag van sy Woord deur die werking van die Heilige Gees. Laat ons ywerig die evangelie versprei. God gee die ontkieming en wasdom. “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding aan elkeen wat glo…In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo” (Rom.1:16,17).

 “Here, vandag wil ek die evangelie na iémand toe deurgee. Help U my asseblief.”

Gebruik dit

Skrifdeel:  Galasiërs 1:1 – 5

“…die Here Jesus Christus wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld…(3).

Family Herald and Weekly Star vertel van die plaaslike predikant en `n seepfabrikant wat in die dorp se straat loop. Die seepman is nie `n Christen nie, en hy sê vir die dominee: “Die evangelie wat julle preek het regtig nog nie veel uitgerig nie. Daar is nog so baie sonde en boosheid in die wêreld en Christene is skaars.” Vir `n rukkie is die predikant stil. Hul­le  loop by `n seuntjie verby wat op die sypaadjie sit en mod­der­koekies maak. Hy is besmeer. Die predikant sê vir die seepmaker: “Seep het nog nie veel goed in die wêreld reggekry nie. Daar is nog so baie vuilheid en oral vuil mense.” Onmiddellik antwoord die seepvervaardiger, “Jy moet onthou seep het net waarde as dit gebruik word.” “Presies,” antwoord die domi­nee, “so is dit ook met die evangelie. Dit het net waarde en krag in die lewe van mense wat daarvan gebruik maak.”

In sy brief aan die Galasiërs kla Paulus oor hulle: “Julle Galasiërs, is julle dan so sonder begrip…Jesus Christus is tog so duidelik aan julle verkondig dat julle Hom as ’t ware aan die kruis kon sien hang….wil julle nou in eie krag eindig?” (Gal.3:1-3). Johannes skryf in sy evan­gelie (1:11,12): Hy het na sy eiëndom toe gekom en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het , dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” Die moordenaar aan die kruis het op die laaste oomblik na Jesus om redding geroep, en hy is gered. “’Jesus dink aan my as U in u koninkryk kom’. Jesus antwoord, ‘Vandag sal jy saam met My in die paradys wees’” (Luk.23:40-43)

 “Here, vandag stel ek nie uit nie. Ek kom.”

Heroorweeg dit eers

Lees Matteus 7: 1 – 6

“Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?” (3)

Die gewilde skrywer en prediker, F. W. Bore­ham, het eenkeer sy geduld verloor oor die kritie­se en snedige dinge wat ’n mnr. Critingden kwytge­raak en selfs in die pers oor hom geskryf het. Na nog ‘n neerhalende kritiek teen hom in die jongste koerant, het Boreham gaan sit en woe­dend aan Critingden ’n skerp brief ge­skryf. Hy het die koevert toegeplak, ‘n seël op­ge­sit en by die deur uitgestap om die brief in die pos­bus te gaan gooi. Dit was ’n lieflike aand vir stap en Boreham het by die posbus verby gestap sonder om die brief te pos, met die gedagte dat hy met die terugstap die brief sal pos. ’n Blok verder loop hy ’n vriend raak wat vir hom sê: ”Arme ou Cri­tingden is toe dood.” Boreham vra geskok: “Reg­tig? Waaraan is hy dood?” “Hy is skielik dood – vroeg vanmiddag. Jy weet, ek dink dit is vir die beste. Hy het dit moeilik gehad. Maar jy weet seker van al sy dinge.” “Nee,” antwoord die steeds ge­skok­te Boreham,” ek weet omtrent niks van hom af nie.” “O, ek het ge­dink almal weet. Hy het net twee kinders gehad, ’n seun en ’n dogter. Kort na sy vrou se dood is die seun in ’n ongeluk dood. Die dogter het haar ver­stand kwyt geraak en is nou in ’n gestig. Arme ou Critingden. Dit het hom totaal verbitter en hy het om­trent almal se vyand ge­word.” Boreham is te­rug na sy huis toe sonder om die brief te pos. Hy was in homself be­­skaamd  en diep vernederd oor sy eie kleinlikheid. Hy het die brief in klein stukkies opgeskeur en hulle een vir een in die kag­gelvuur gegooi. Toe het hy daar voor die kag­gel gekniel, sy lelike gesindheid en swak­heid bely en gebid dat hy die gena­de mag hê om voortaan moeilike mense met liefde en vriende­likheid te behandel, soos hy graag wil hê mense met hom moet doen.

Ons menslike natuur is vinnig om nyd met nyd te beantwoord. Tensy ons in ons geestelike lewe so groei deur die Heilige Gees se werk in ons, dat Christus se lewe en ge­sind­heid in ons die oorhand kry, sal ons gedurig ru­sie met rusie antwoord. “Laat julle steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor be­geer­tes van julle sondige natuur nie…vyandskap, haat, na­ywer, woede, rusies…Die vrug van die Gees daarteenoor is, liefde, vreugde, vrede, geduld, vrien­delikheid, goedhartigheid…” (Gal.5:16,19,22).

“Here, vandag bid ek dat die Heilige Gees my versterk.”

Kosbaar Bo Woorde

Lees Lukas 15:1-7

“Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer…” (7)

Bruce Crozier, ’n sewejarige seuntjie, het weggedwaal van sy pa se jagkamp in Arizona af. Na ’n week is hy byna 50km. van die kamp af opgespoor. Toe sy ma hom omhels, na hy gevind is, het sy uitgeroep: “Dis amper onmoontlik om te glo ek het my seun­tjie teruggekry!” Oorweldig deur blydskap het sy haar bewussyn verloor. Sy pa was in die veld, waar hy nagenoeg ’n duisend spoor­snyers en ander soekers na die seun, gelei het. Hy is telefonies in kennis gestel die seun is gevind. By die aanhoor van die nuus het hy ook sy bewussyn verloor. Hy het verwag hy is dood, of sy verskeurde liggaam­pie sal gekry word. Toe vind hulle hom lewend en gesond terug! Die oorweldigende blydskap van so ‘n pa en ma kan nie gepeil word nie.

Die Here Jesus het gesê:“Daar is blydskap in die hemel oor een sondaar wat hom be­keer.” Hy probeer vir ons daardie blydskap be­skryf uit ’n liefde wat ons ook ken: die liefde van ’n pa vir sy seun! Jesus het uit die gely­kenis van die verlore seun die pa se gedrag beskryf: “Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom….Hy sê vir sy werksmense: ‘Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan …ons kan tog nie anders as om bly te wees nie…hy was verlore en ons het hom te­ruggekry!’”(Luk.15:20-30).

Nadat Jesus met die Sa­maritaanse vrou gepraat en Homself as Messias openbaar het, en haar uit haar sondige le­we tot redding gelei het, wil sy dissipels vir hom sy ete gee. Die vrou se redding het Hom egter tenvolle bevredig. Hy sê vir hulle: “Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie…My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi… Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes” (Joh.4:32-35). En Hy het hulle met sy bloed gekoop!



“Here, vandag wil ek my hart instel om in U blydskap te deel oor ’n verlore mens wat vir U gewen word.”

Kosbare Bybel

Lees 1 Timoteus 4:6 – 16

“…sal jy ‘n goeie dienaar van Christus Jesus wees wat jouself voed met die woorde van die geloof en die goeie leer waarvan jy ‘n aanhanger geword het” (6).

 In The Living Power of God’s Word vertel Dennis M. Mulder, wat geestelike werk onder die Sjinese doen, dat hy in ‘n kerk in Shangai langs ‘n vrou, in haar middesestiger jare, sit. Die aandagtige wy­se waarop sy na die preek luister en die eerbiedige ma­nier waarop sy die sangbundel hanteer, tref hom. Wat hom aangryp is haar verminkte hande. Dit lyk of haar vingers, teen mekaar gestrengel, ver­steen het. Na die diens spreek hy haar aan: “Het jy ‘n Bybel?” Verras dat hy haar in haar eie taal aanspreek, met ‘n gretigheid in haar houding, ant­woord sy nederig: “Nee, ek het nie ‘n Bybel nie.” Hy is nie verbaas oor haar antwoord nie, want hy weet in die hele kerk is nie veel meer as tien of vyftien  By­bels beskikbaar nie. “Ek vetrek more,” gaan Den­nis verder, “en ek het twee Bybels in my hotel­kamer. Kan ek dit vir jou en een van jou vriende gee?” Sy is dadelik gewillig. Saam stap hulle na sy hotel toe. Hy vra haar na haar hande.

“Gedurende die kulturele rewoluse hier in ons land,” vertel sy, “het die Rooi Wagte my huis binne ge­kom en deursoek vir Bybels. Ek het my Bybel in die koue as van my stoof wegge­steek, maar hulle het dit daar gekry. Een van die wagte het dit in sy han­de gehou, maar ek het dit uit sy hande gegryp en teen my vasgedruk. ‘Gee vir ons daardie boek vol mites!’ het hulle geskreeu, maar ek het dit vasge­klou. ‘Ek kan dit nie vir julle gee nie,’ het ek terug geskreeu. ‘Dis al wat ek het om my van Jesus, my Here, te vertel!’ Hulle het kwaad geword en my buite toe gesleep en my klere van my afge­stroop. Hulle het die omstanders beveel om my te be­le­dig en op my te spuug. Na ure in die warm son het hulle weer geskreeu: ‘Gee daardie boek!” Ek het weer geantwoord: ‘Ek kan dit nie prysgee nie. Dis al wat ek van Je­sus, my Here en Verlosser, weet.” Hulle het my op die sy­paad­jie platgegooi. Een van hulle het sy voet op my nek gesit en die ander drie het met loodpype oor my han­de begin slaan. Hulle het aangehou totdat daar geen ge­voel meer in my hande was nie. Die Bybel het uit my hande, in die stof op die sypaadjie, gegly. Die skare het ge­juig. Dit was die laaste keer dat ek ‘n Bybel in my hande gehou het.”

Dennis sê dit het hom net minute geneem om na sy ho­­telkamer toe te gaan en die twee Sjinese Bybels te bring. Toe hy seker is niemand kyk nie, het hy die Bybels in haar verminkte hande gesit. Sy kon nie praat nie. Sy het net met groot, traangevulde oë na hom gekyk. Sy het om­­ge­draai en in die stroom van verbygangers verdwyn. Hy het haar nooit weer gesien nie, maar hy skryf: “That day in Shangai I saw how precious the Word of God can be to someone.”

Ons is maklike besitters van Bybels. Hoe kos­baar is die Woord vir ons? The Baptist Challenge skryf ‘n op­na­me het aan die lig gebring, dat 23% van mense wat ‘n Bybel het dit nie lees nie. Net 18% van belydende Chris­te­ne het gesê hulle lees die Bybel elke dag. 18% het gesê hulle lees dit van drie tot ses keer per week. Bybelle­sers het gesê hulle be­stee gemiddeld 22 minute per dag aan die lees van hul­le Bybel. (Die Bode Aug.1997)

Die Bybel is die voedingsbron van ons geestelike lewe. Pe­trus noem God se woord die “onvervalste melk van die woord” (1 Pet.2:2). Christus het gesê: “Daar is geskrywe: ‘n Mense leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom” (Mat.4:4). Vir ‘n gesonde, groei­ende geestelike lewe, het ons nodig om God se woord gereeld, daagliks te lees.

“Here, vandag en elke dag wil ek u Woord lees.”

'n Rusplek vir die kop

Lees Psalm 46: 1 – 12  (Ou Vertaling).

“God is vir ons ’n toevlug en sterkte, as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef” (2).

In 1947 het die sendelingegpaar, Dick en Mar­garet Hillis, met hulle vier kinders, by Mule Ri­­ver in die Honanprovinsie van Sjina, gaan woon. Die sendingkerk het sterk gegroei en Son­­­dae het tot `n duisend Sjinese die kerkdiens by­ge­woon. Hulle po­sisie het op ’n aangename periode gedui, behalwe dat oorlog tussen Chiang kai-Shek en Mao Tse-tung gedreig het, skryf Jan Wine­­brenner in sy boek: Steel in His Soul: The Dick Hillis Story.

Die Nasionale Leër se kapt. Hwang, het vir Dick Hillis kom vertel die kom­mu­nis­tiese mag­­te ruk op na Mule River toe. Hy het daarop aan­gedring hulle moet vlug. Dit was egter reeds te laat. Die Rooileër het al die spoor­weg­brûe opgeblaas. Daardie aand hoor die Hillise die eerste skote en nie lank nie of die geveg woed om hulle. Hulle het nie geslaap nie – heel nag gebid. Die stad is spoe­dig oorweldig en die strate het vol kommu­nistie­se troepe ge­raak. ’n Nuwe gevaar doem op. Kapt. Hwang, van die Nasionale Leër, begin van buite die stad bomme op die kommuniste gooi. Een nag val die bomme al hoe nader aan die Hillise se huis. Die huis langsaan word ge­tref en al die inwoners word gedood. Die Hillise se huis gaan die volgende wees. Dick, Mar­garet en die vier kinders hurk in ’n hoek van die ka­mer by­mekaar toe ’n bom baie naby aan die huis ontplof. Pleister en glas rëën om hulle. Die huis is bewe onder die aanslag van die bom en die kinders gil. Die gesin maak hulle ge­reed vir die laaste oomblikke en wag vir die volgen­de bom. Skie­lik hou die bombar­dement op. Na ’n ruk­kie kom die Hillise versigtig uit hulle hoek uit. Die ka­­mervloer lê vol puin, maar nie een van hulle het iets oorgekom nie. Na ’n rukkie begin Dick die kin­ders een vir een in die bed sit. Hy kniel langs die jong­ste dogter, Margaret Anne, se bed. Hy sien ’n stukkie papier onder haar kopkussing uitsteek. Op die velletjie papier, in kinderhandskrif, staan geskryf: “God is our refuge and strength, a very present help in trouble” (Ps.46:2). Hieroor skryf Jan Winebrenner: “During the Chinese nights of terror, little Margaret Anne had been resting on a very big verse from a very faithful God.”

“Here, vandag skuil ek in my nood by U.”

Onfeilbare Helper

Lees Psalm 62: Ou Vertaling

“Ja, my siel is stil tot God; van Hom is my heil” (2)

Ek wil graag `n persoonlik storietjie vertel, maar u moet u dit sowat 6 jaar gelede probeer voorstel. Riekie en ek het by ons kinders, Philippus en Karen en klein Lisé-Marie en Arno op Vryheid gekuier. Dit was `n rukkie na u gedeel het in die vreugde, tydens ’n oggenddiens in die Kokanjesaal, wat ons dominees groothartig aan my afgestaan het, om klein Arno te doop. `n Groot deel van u, Kokanje-inwoners, het dit met groot liefde meegemaak. Ek vertel nóú `n storietjie van toe hy begin kruip het. Hy het ook sy oupa teen dié tyd al bietjie leer ken.

Ek staan dié oggend in die hoek van ons slaapkamer by die kinders, en hy sit in die oorkantste hoek, by ’n hoërige trappie, wat hy moet uitklouter om dieper in die huis in te gaan. Na ’n paar mislukte pogings gaan hy by die trappie sit. Ek sien hy meet my, maar dit is vir ’n onbedrewe kruipertjie ‘n ver ent om af te lê na sy oupa toe. Hy kom egter tot ’n besluit en begin na my toe kruip. Eintlik skuif-skuif hy voetjie vir voetjie oor die growwe mat vorentoe. Ook nog, by ’n hopie kleurvolle speelgoed, verby. Ek hou hom dop en wag vir hom. As hy moeilikheid optel, gaan ek hom dadelik help. Hy kom uiteindelik tot by my, gaan sit plat op sy  boudjies en steek sy dik armpies op na my toe. Dadelik buig ek af, tel hom op, druk hom teen my vas, soen tederlik sy sweterige nekkie, praat sag met hom, en toe dra hom die trappies op en na sy ma toe. Ek het geweet dit is waar hy eintlik met sy honger magie wou wees.

Dié ervaring het met my gepraat. Die Bybel se oorvloedige getuienis is, God verwelkom iemand wat na Hom toe kom, met hartlikheid. Meer as wat dit my behaag het, dat my kleinseuntjie na my toe gekruip het, behaag dit Hom, ons Vader, wat ons lief het met ’n liefde wat ons nie kan peil nie, as ons doelgerig na Hom toe gaan vir hulp en soms selfs met die poging sukkel. As ons trappies in ons lewe nie kan uitkom nie, en ons beweeg doelgerig na Hom toe, dan kom Hy ons self tegemoet en Hy tel ons op, dra ons maklik, ons moeilike trappies uit, en neem ons na dít toe waaraan ons behoefte het. “Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees. Ek het die Here my God gekies as my toevlug!“ (Ps.73:28). “…laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsversekerdheid” (Heb.10:22). “Nader tot God en Hy sal tot julle nader” (Jak.4:8). God soek ons aandrang vir hulp by Hom. Hy belowe hulp as ons dit by Hom gaan soek. Gaan soek sommer nou die hulp wat u nodig het, al vind u dit nogal bietjie moeilik in die begin. Glo sy liefde, glo sy wysheid, glo sy krag.

“Here, vandag doen ek dit: Ek nader tot U en verwag U sal my in u arms optel en my sake regmaak.”

Ons jare glip vinnig verby

Lees Psalm 39:1-7

“Kyk, U het my dae ‘n paar handbreedtes gemaak, en my leeftyd is soos niks voor U nie …”(6) Ou Vertaling.

‘n Russies weten­skap­like,Dr. Alexander Bogomolets, het ‘n serum ontwikkel wat A.C. genoem is. Volgens hom sou hierdie serum die veroude­ring van die liggaam se weefsels vertraag. Sy ver­wag­ting was om die proses van ‘n mens se leeftyd tot 150 jaar te verleng. Hy het verklaar die By­belse uitspraak wat die normale menslike leef­tyd van 70 of 80 jaar bepaal, is ‘n onnodige beperking op die mens se leeftyd.

‘n Mens wil graag die tyd wat so vinnig verbysnel pro­beer rem. Skaars het die jaar begin, voel dit, of ons trek alweer oor die helfte van die jaar en voor ons ons oë uit vee, is dit Kersfees en weer ‘n nuwe jaar. Gouer as wat ‘n mens dit verwag, betree ons daardie be­lang­rikste dag van ons lewe: die oorgaan na die ewigheid toe – ons sterfdag. Ons merk hoe ons eie uurglasie leegloop, as die Bybel ons leeftyd op 70 of 80 jaar vasbind en ons uit ondervinding weet, min mense styg veel hoër as 90 jaar. Ongelukkig kon dr. Bogomolets sy na­vor­sing nie voltooi nie. Hy is op 64-jarige ouderdom dood.

Dit is wysheid om van elke lewensjaar en elke ge­leentheid die beste gebruik te maak. Dit is groter wysheid om ons tyd wat verbygaan ‘n ewigheids­waarde te gee. Die Here Jesus het vir ons die ewige lewe ontsluit deur sy kruisdood en opstan­ding. Deur geloof in Christus as ons Verlosser en ‘n lewe van ge­hoorsaamheid aan God na sy Woord, bewerk die Heilige Gees ewige lewe in ons.  Dit is Paulus se trant in Romeine 13:11-14: “Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale ver­los­sing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het … julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.”

“Here, vandag wil ek hiérdie dag se groot waarde opnuut waardeer en benut.”

Oorwinning deur Die Woord

Lees Psalm 91

“Omdat jy die Here as skuilplek geneem het, die Allerhoogste as jou beskermer, sal geen onheil jou tref en geen plaag naby jou woonplek kom nie” (9,10)

In Update Magazine word vertel hoe Delisa Boyd­ston, ‘n 24-jarige musiekstudent, na ’n les na haar motor, in die parkeer­area, toe loop. Sy sluit die deur oop en toe merk sy ’n man op wat direk agter haar staan. Dit lyk of hy vir haar ’n blaadjie wil gee. Sy dank dit af. Hy neem haar arm stewig in sy een hand en met die ander hand bring hy ’n mes te voorskyn. “Klim in,” beveel hy kortaf. Verward roep sy uit haar hart: “Here, beskerm my!” Sy probeer losruk, maar die vreem­deling dwing haar in die motor in en druk haar tot op die pas­sasiersitplek. Sy probeer die deur oop­maak, maar die deur is gesluit. Met die sleutel wat hy uit haar hand gegryp het, skakel die man die motor aan en trek vinnig weg. “Ek sal jou nie seermaak nie. By die volgende hoek laai ek jou af,” beloof hy. Hy ry eg­ter by straat­hoek na straathoek  verby. Sy besef hul­le is op pad na die snelweg toe. Teen die deur gedruk, met die mes teen haar, kom ’n mag­te­lo­se wanhoop in Delisa op. Geen mens kan haar help nie – net God! Delisa was omtrent twee jaar ’n Christen. Haar Bybel lê op die agterste sit­plek. Die Bybel het haar al deur talle krisisse gedra. Dit gaan weer haar toevlugs­oord wees. Sy word kalm. “Neem die mes weg, asse­blief,” sê sy beleefd vir die man. “Teen hierdie spoed kan ek nie uitspring nie.” Vreemd genoeg bemerk sy in die man se oë ook verskrikte paniek. Hy is bang, besef sy. Hy trek die mes terug, en dit lyk of hy ook kalmer word. “Mag ek my Bybel hardop sit en lees?” vra sy. “Dit help my altyd as ek bang is.” Hy knik. Sy neem haar Bybel op die agterste sitplek en maak dit by Psalm 23 oop. Sy begin hardop lees – vir haar eie ontwil, eer­der as syne. “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig” (Ps.23:4). Toe sy die hele Psalm gelees het, kyk die man na haar kant toe en sê. “Jy weet, ek het nog nooit die Bybel en sulke dinge verstaan nie. Iemand moet dit vir my verduidelik.” Delisa is nou kalm. In haar hart het hoop opgekom. Sy verduidelik vir die man dit soos sy die Psalm verstaan. En sy gaan voort en vertel vir haar kaper dat God hom liefhet en wat nou ge­beur, kan God se manier wees om hom te bereik. Hy gee ’n diep sug, bring die motor tot stilstand, maak ’n u-draai. “Ek neem jou terug,” sê hy kortaf. Sy vra hom om na haar kerk toe te ry. Daar ge­kom, klim hy ook gewillig uit. Saam met haar gaan hy na die kerk se dominee toe, wat die evangelie verder vir hom verduidelik. Deur trane sien Delisa hoe die man kniel en die Here vir ge­na­de en red­ding bid. Sy dink nie eers daaraan om die man nou by die polisie aan te kla nie. As God hom vergewe het, wie is sy om hom te vervolg? Die vol­gende Sondag sit die kaper en sy gyselaar saam in die­selfde kerk om die Here te dien. (Die Bode Aug.1999)

In ’n noodsituasie kan ons die Here aanroep om ons uit te red. “Op die dag van gevaar sal die Here my weg­steek in sy huis, my veilig laat skuil in sy woon­plek…” (Ps.27:5). “Die Engel van die Here slaan sy laer op rondom dié wat die Here dien, en red hulle” (Ps.34:8). “In jul­le nood het julle geroep en Ek het julle gered” (Ps.81:8)

“Here, vandag soek ek veiligheid by U.”

Voel Veilig

Lees Psalm 57 (Dawid se woorde)

“Wees my genadig, o God! … onder u vleuels sal ek skuil tot die bedreiging verby is … Ek voel weer veilig, o God … Ek wil ‘n lied sing … want u liefde reik tot in die hemel, u trou tot in die wolke!” (2,8,11)

In Preacher’s Lantern skryf William Gurnall oor ‘n tyd toe die London Bridge met huise bebou was. Hy vertel die bewoners van die huise wat op die brug gebou was, het snags net so vas en rustig ge­slaap as die inwoners van die huise in Whitehall of Cheapside. Die see se branders het onder die brug deur gestorm en gedreun, maar dit het die in­woners van die huise op die brug nie ontstel nie. Die branders kon hulle nie skaad nie. Hulle het veilig gevoel, want hulle het geweet die brug rus op groot, sterk pilare. In Psalm 57, skryf Gurnal, het Da­­wid onder net so ‘n stormende gedreun van ge­vare verkeer. Dawid het hom, volgens die Psalm se in­lei­ding, in die grot van Adullam, waar hy vir die vervolging van sy groot vyand, koning Saul ge­skuil het, be­vind. In daardie gevaarlike posisie voel Dawid veilig, omdat hy by God skuil, en hy sing: “Ek voel weer veilig…”

Om ons is daar ook dikwels die gedreun van om­­­standig­­heidsbranders wat ons bang maak. As ons meer bewus kan wees van God se liefde en ge­trou­heid, voel ons onder die aanslag van bedrei­ging veilig. So ‘n vertroue in God is nie ‘n natuur­li­ke, menslike bewussyn nie. Die Heilige Gees wek hierdie vertroue op in ons hart as ons in die Woord al die beloftes van God se liefde en getrouheid lees. Jesus het dit baie eenvoudig vir sy dissipels geleer: “Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie…” (Mat.10:29-31). En Petrus bemoe­dig ons ook: “Onderwerp julle daarom in ne­de­rig­heid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle”

“Here, vandag skuil ek met geruste hart by U.”

Wat mense wil hê

Lees Matteus 11:16-19

“Ons het vir julle op die fluit gespeel en julle het nie gedans nie! Ons het ’n treurlied gesing, en julle het nie gehuil nie!”(17)

 Die bekende sendelingpionier, C. T. Studd, vertel die storie van die meulenaar se donkie, om te verduidelik (seker uit eie ervaring!) hoe onmootlik dit is om álle mense áltyd tevrede te stel.

Die meulenaar, sy seun en die donkie het mark toe gegaan. Die meulenaar het op die donkie gery. Toe sê die mense: “Wat ’n wrede man! Hy ry op die donkie en sy seun moet loop.” Hy klim af en laat sy seun ry. Daarop het die mense gereageer: “Wat ’n bedorwe kind! Hy ry op die donkie en sy arme pa moet loop.” Die pa en seun besluit om saam op die donkie te ry. Hierop was die mense se reaksie: “Dis wreedheid teenoor diere! Kyk net die arme donkie. Hy moet altwee dra.” Die twee klim toe maar van die donkie af, sê die storie, maak hom aan `n paal vas en so dra hulle hom. Die mense het gelag en gesê: “Kyk twee donkies dra ‘n ander donkie!” Hulle het die donkie toe losgemaak en aldrie het saam mark toe gestap. Hierop was die mense se reaksie: “Hoe dom kan ’n mens tog wees! Hulle het ’n donkie, maar ry hom nie.” `n Ongelooflike en lawwe storie, maar `n groot waarheid word oorgedra! `n Oorvloed oral van kritiek,.

Hieruit leer ons: Ons moet geduldig voortgaan met ons roeping en ons nie deur mense se opmerkings en reaksies van stryk laat bring nie. Sekerlik is daar mense na wie se raad en kritiek ons moet luister. Hulle kén ons en ons omstandighede, en na húlle moet ons ook luister

“Here, vandag kyk ek na Ú en ek wil hoor wat Ú van my verlang.”

Hande wat leisels vashou

Lees Romeine 6: 16 – 18

“Ons dank God dat julle van die sonde vrygemaak is en slawe van God geword het wat sy wil doen” (18).

Prof. Henry Drummond, een van die vorige eeu se gevierde predikers, was een dag per koets tus­sen twee dorpe op reis. Die koetsier was `n vaar­dige koetsier, maar meesal was hy dronk. Dié be­paal­de dag was egter een van sy nugter dae. Dr. Drummond gaan langs die koetsier sit.

Hulle het lekker gesels. Meesal oor perde. Die man het dr. Drummond se belangstelling in sy ken­­nis en vaardigheid met perde geniet. Onder­weg swenk die pad langs `n gevaarlike afgrond ver­­by. Die koetsier hanteer die vurige perde met kon­sentrasie en behendigheid. Dr. Drummond prys hom opreg. Toe vra hy: “Wat sal gebeur as ék die leisels hou en die perde gaan hier op loop?” Die man lag. “Menéér! Dán is verongeluk ons voorland.” “Watter raad sou jy my gee. Wat sal jy my voorsê om te doen.” Die ou antwoord self­versekerd: “Ek sal net skreeu: ‘Gee vir my die lei­sels.’ Ek sou hulle góú bymekaar vat.” Dr. Drummond sit sy hand op die man se knie. “My vriend, is daar nie in jóú `n span wilde perde wat keer op keer met jou op loop gaan nie?” Die man laat sy kop hang. Hy weet presies waarvan dr. Drum­mond praat. Na `n paar oomblikke van stilte tussen die twee, sê dr. Drummond: “Daar is Ie­mand wat jou span wilde perde bymekaar kan vat en beheer. Géé vir Hom die leisels.”

Die geselskap het tussen hulle opgedroog. In stil­te het hulle hulle bestemming bereik. Dr. Drum­mond groet die koetsier en bedank hom weer vir sy goeie werk. Hy hou sy hand `n oomblik vas,  sê dringend: “Géé vir Hóm die leisels.”

Meer as `n jaar later moes dr. Drummond weer langs dieselfde roete reis. Dit kom so dat dieselfde koetsier by die koets is. Toe hulle by mekaar kom, lig die koetsier sy pet op en sê met `n blye glimlag vir dr. Drummond: “Meneer, ek het toe vir Hom die leisels gegee.”

Die roete van `n lewe wat in die Here Jesus se hande gegee is, loop dikwels ook langs gevaarlike steiltes verby. Omstandighede is nie altyd maklik nie. “Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm” (Ps.121:7). In die hart is ook wilde perde wat kan handuitruk. Sondige drifte wel ook in die kind van God se hart op. “Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor be­geertes van julle sondige natuur nie. Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil … “ (Gal.5:16,17). Met die leisels van ons lewe in die Here Jesus se onfeilbare hande is ons altyd veilig. Dit verg `n daaglikse oorgawe van ons wil aan die Here, om ons lewe se leisels in sy hande te laat bly.

“Here, vandag gee ek die leisels van my lewe in u hande.”

Hulp met bemoediging

Lees 1 Tessalonisense 5 : 1 – 11                             

“God het ons…bestem…om deur ons Here Jesus Christus verlos te word. Hy het ter wille van ons gesterwe sodat ons….saam met Hom kan lewe. Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen” (9,10,11)

In die Gospel Herald vertel die bekende evan­­gelis, D. L. Moody, die bekende verhaal, hoe ’n klein dogtertjie, onder groot gevaar deur ’n brand­­weerman, uit ’n hoë brandende gebou gered is. Hy gee aan die begin van die storie  te kenne hoekom hy dit vertel. “It is very easy to preach when others are all the time praying for you.” Dan volg sy ver­duidelikende storie.

’n Brand het in ’n vier verdieping gebou ge­woed. ’n Skok gaan deur die versamelde ska­re toe ’n dogtertjie voor die venster van die vier­de verdieping, wat toe ook begin brand het, verskyn en skreeu om gehelp te word. ’n Brand­weerman storm vorentoe en klim met die brandleer op om die dogtertjie te gaan haal. Die wind waai die vlamme na sy kant toe en sy posisie word so hewig warm dat hy tot stilstand kom en dit lyk of hy sonder die kindjie gaan afklim. Duisende kyk en hul harte krimp ineen by die gedagte dat sy aan die vlam­me oorgelaat gaan word. Moody se woor­­de: “Someone in the crowd cried, ‘Give him a cheer!’ Cheer after cheer went up, and as the man heard them he gathered fresh courage. Up hy went into the midst of the smoke and the fire, and brought down the child to safety.”

Mnr. Moody sluit af met die aanmoediging: “In the day when rewards are given, the one who did the cheering in die service for the Lord, shall in no wise loose his reward’ (Mat.10:42). Beloved if you cannot do much, you can at least be among the ones that ‘helped every one his neighbour; and every one said to his brother, be of good courage.’”

Brother, for Christ’s Kingdom sighing,

help a little, help a little;

Help to save the millions dying,

help just a little.

’n Woordjie van bemoediging, ’n belofte van voor­bid­ding, ’n brokkie hulpvolle raad, en die Here se werker kry sommer moed.

“Here, vandag sien ek die mense wat u werk doen raak en ek bid vir hulle.”

Hy weet hoe dit voel

Lees Jesaja 50: 4 – 9

“Ek het my rug gehou vir dié wat my slaan, my wang vir dié wat my baard uittrek. Ek het my gesig nie weg­ge­draai toe ek bespot en bespoeg is nie” (6)

Joni Eareckson Tada was na ’n mo­tor­ongeluk ’n kwa­­drupleeg, wat beteken alvier haar ledemate was verlam. In sy boek, Healing for Damaged Emotions, vertel David A. Seamands hoe sy in die beproewing van haar onge­luk Christus as haar Verlosser leer ken het. Die fi­siese en emosionele eise van die ongeluk en haar totale ver­lamming was egter vir haar te groot om dit gees­te­lik te hanteer. Haar vriende het gereeld die lang pyn­like nag­­te saam met haar deurgemaak. Een nag, in die greep van diepe depressie, vra sy vir Cindy, die vrien­din wat dié nag by haar is, om vir haar ’n handvol pil­le in te gee. Sy wil nie meer leef nie. Die vriendin wei­er verskrik. Joni roep uit: “Ek kan nie eers sélf pille vat om te sterf nie!” Woede, bitter­heid en emosionele pyn oor­wel­dig haar. Sy val snikkend terug op haar bed. Cin­dy soek benoud na iets om te sê om Joni te troos. Skie­lik stamel sy dit uit: “Joni, Jesus weet hoe jy voel. Jy is nie die enigste een wat verlam is nie. Hy was ook ver­lam.” Joni gluur haar aan: “Cindy, waarvan praat jy?” “Dit is waar! Dit is waar, Joni. Onthou hy was vas­ge­spy­ker aan die kruis. Sy rug was rou van die ge­sel­houe, soos jou rug ook partykeer seer en rou word. O, hoe het Hy nie verlang om net te kon roer nie, effens van po­si­sie te verander en om te draai nie. Maar Hy kon nie roer nie, Joni. Hy weet hoe jy voel.” Joni het nog nooit so daar­aan gedink nie. Later het sy gesê: “God het so na­by aan my ge­kom. My vriende se aandag en liefde het vir my so kosbaar geword. Jesus het vir my so ’n naby Vriend geword. Ek het besef God het my lief.”

Jesus het Hom nie net met ons sondes ver­eenselwig om vir ons ‘n verlosser te wees nie, maar ook met ons fi­siese lyding om vir ons ’n simpatieke Helper te wees. Ons moeilike om­stan­dighede ken Hyself. “Jesus sê vir hom: ‘Die jak­kal­se het gate en die voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens ’n rusplek vir sy kop nie’” (Mat.8:20). Daar­om roep Jesus ons na Hom toe: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig” (Mat.10:28-30).

“Here, vandag neem ek my toevlug tot U.”

Iemand om by te huil

Lees Johannes 11: 25 – 30

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig” (28,29 30)

In Baptist Standard word vertel van die dogter­tjie in die weeshuis, wat almal se aandag getrek het omdat sy nooit huil nie. Een van die huismoe­ders het op ’n dag met haar gepraat. “Hoekom huil jy dan nooit nie? Ek het jou nog nooit sien huil nie.” Die dogtertjie het geantwoord: “Vandat my mammie dood is, het ek nog nooit iemand gehad by wie ek kon huil nie.” Hartseer het nie net ’n oor nodig nie, maar ook ’n hart wat omgee en saam met jou voel en jou droefheid verstaan. Baie van ons loop ’n eensame pad en ons het niemand om by te huil nie. Wie gee genoeg om vir my hart­seer? Die skrywer van hierdie mooi storietjie in Baptist Standard sluit dit af met hierdie woor­de: “It was a glorious thing for every Christian that Christ said, ‘Lo, I am with you alway,”(Mat.28:20) meaning every day, under all circumstances. The Christian can cry to Him, call upon Him, trust in Him, and share with Him whatever come into life.”

Aan Christus kan ons ons hartseer, ons frustra­sies, ons behoeftes vertel. Hy nooi ons om dit te doen. Daar is ’n ou liedjie met die woorde: In die skadu van beproewing vind ek Jesus. Dit is die taal in die Psalms. In een asem kla Dawid sy lot by God en in die ander asem loof Hy God weer. Ons Vader in die hemel neem die pyn van ons leed weg en bedek die seer plek met die sagte salf van sy liefde en nabyheid. In die Ou Vertaling van ons Bybel, word die Heilige Gees genoem, die Trooster. Dit is die Heilige Gees wat ons inner­lik heelmaak as ons by die Here Jesus ons hart­seer na God ons Vader toe bring.

`n Onderwyseres het vir haar klas die teks ge­lees, waar Jesus sê: “My juk is sag, my las is lig.” “Wat is `n juk?” was haar eerste vraag. Dadelik het `n seuntjie geantwoord: “Dit is `n hout paal wat hulle op die nekke van diere sit.”  Toe vra die onderwyseres: “Wat is dan die juk waarvan Jesus gepraat het?” `n Rukkie was daar stilte. `n Dogtertjie steek die handjie op. “Juffrou, dis wanneer ons swaarkry en God sit sy arm om ons nekke.”

  “Here, vandag vertel ek vir U my leed.”

Kans vir Hom

Lees Matteus 11: 25 – 30.

“Kom na My toe…Ek sal julle rus gee.” (28).

’n Erg beseerde lugmagman is tydens Wê­reld­oorlog II van iewers uit Frankryk, na ’n hos­pitaal iewers in die Noorde van Engeland, ge­neem. Na die dokter sy wonde verbind het, sê die gewonde man vir die lugmagman in die ander bed: “Maat, jy kan ’n ou nie dalk met bietjie godsdiens help nie? Ek het groot geskrik, jy weet.” “Jammer, jong,” ant­woord die ander man, “ek sal nie kan nie. Maar elke Donderdag kom ’n vrou hierlangs met Bybels en traktaatjies, sy sal jou help.” “Dalk is ek Don­derdag nie meer hier nie,” sê die eerste man. “Jy kan nie dalk vir my net iets sê nie?” Die tweede een skud net die kop. Na ’n rukkie sê die eerste man weer: “Ek het gelê en dink. Ek weet nie of dit in die Bybel is en of dit net ’n lied is nie, maar dis iets soos: Laat die kindertjies na my toe kom, want die koninkryk van die hemel is hulle s’n.” “Ja, dis definitief in die Bybel,” antwoorde die tweede een.  “As Jesus Christus wou hê die kinder­tjies moes na Hom toe kom, dink jy Hy sal my darem ook vat? Ek het Hom baie nodig, jy weet. In elk geval ek gaan probeer en Hom vra.” Hiermee trek hy die laken oor sy kop. Die laken het nie weer afgekom nie. Sy liggaam is later net verwyder.

’n Lugmagkapelaan vertel die storie op ’n dag vir ’n groep lugmagmanne in Kingston, Ontario. Na die samekoms kom vra een van die vlieëniers vir hom: “Eerwaarde, dink u daardie man het enige kans gehad?” Die kapelaan vertel in die storie, in Prairie Pastor: “I replied. ‘No! He had no chance at all; he had an absolute certainty!’”

Jesus self het gesê: “Ek sal hom wat na My toe kom nooit verwerp nie…Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê..” (Joh.6:37,40).

“Here, vandag het ek U nodig. Ek kom.”

Kom

Skrifdeel: Jesaja 55: 1 – 6

“Kom, almal wat dors is, kom na die water toe..” (1)

Die beproewing van die woestyn is die ge­brek aan water. Gospel Stories for the Young vertel van die karavaanritte deur die woestyn.  Sodra die karavaan se water gedaan raak, ontstaan nood. ’n Enkele kameel­ruiter word vooruit gestuur om water te soek. Na `n tydjie volg `n tweede en dan `n derde. Sodra die eerste man water kry, roep hy: “Kom!” Die tweede man hoor dit en herhaal: “Kom!” Die derde man hoor hom en herhaal ook die roep. En so elkeen wat volg, totat die hele, omlig­gende woes­tyn, weergalm met die woord: “Kom!” Gospel Stories sluit af: “This is the great invitation word of the Gospel, come! come! come! COME!”

Ons voordeel is dat “kom” die sleu­­­tel­woord is van God se bood­skap. “Op die laaste dag… van die huttefees, het Je­sus daar ge­staan en uitgeroep: ‘As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!’” (Joh.7:37). Feitlik die laaste woord in die Bybel, is steeds ‘kom’: “Die Gees en die bruid sê: ‘Kom!’… En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Openb. 22:17). Ons merk dit gaan in die Here se ko­nink­ryk soos met die ka­meelmanne in die woes­tyn. Die bood­skap word van een na die ander oor­ge­dra: “Elkeen wat dit hoor moet sê: ‘Kom’” (v.17).Hoor en drink self die water van die ewige lewe en begin ander ook roep!

 “Here, vandag hoor ek en wil ander ook roep.”

Kosbaar vir God

Lees Lukas 12: 4 – 7

“Word vyf mossies nie vir twee sent verkoop nie? Tog word nie een van hulle deur God vergeet nie” (6)

In die King’s Business word vertel van `n Spaan­se seuntjie in Vigo, wat `n toegewyde volge­ling van die Here Jesus geword het. `n Christen Engelsman vra hom, wat het tot sy bekering gelei? Op die man se vraag antwoord hy: “Dis die ek­stra mossie wat dit bewerk het.” “Die ekstra mos­sie?” vra die man verwonderd. “Sien, Senór, dit het so gewerk. `n Man het eendag vir my `n Bybel ge­gee. Ek lees toe op een plek dat Nuestro Senór Je­sus (ons Here Jesus) gesê het, twee mossies word vir een chico verkoop. Op `n ander plek lees ek Hy sê, vyf mossies word vir twee chicos verkoop. Toe dink ek, Nuestro Senór Jesus ken darem ons ge­woon­te om voëls te verkoop baie goed. Senór weet mos, ons vang voëls en verkoop dit: twee vir een chico en vier vir twee chicos, maar dan gooi ons sommer `n ekstra voëltjie, die vyfde een, by. Hy tel nie eintlik nie. Hy word sommer net gegee. Toe dink ek by myself: ek is so arm en nikswerd en klein, niemand tel my ooit by nie. Ek is sommer net niks. Ek is soos daardie ekstra mossie. En tog, is dit nie wonderlik nie, Nuestro Senór Jesus sê: ‘nie een van hulle word deur God vergeet nie.’ Ook nie die ekstra, verniet, een nie. Ek het nog nooit so iets gehoor nie, Senór. Niemand as net Nuestro Senór Jesus sou aan so iets kon dink nie! Toe weet ek ek tel ook by Hom en toe bid ek en ek sê: ‘Nuestro Senór Jesus, vat my ook asseblief.’ Toe weet ek hy het my gevat. En nou lewe ek vir Hom.”

“Here, vandag weet ek ek tel ook vir U. Ek wil aan U  behoort.”