“Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het…” (23).
Mans, vrouens, kinders, in wie se harte die Here Jesus Christus deur sy Heilige Gees woon, verlang na ander Christene se teenwoordigheid en gemeenskap. Dit is die krag in Christelike kerk.
King’s Business vertel van `n Christenmatroos, lidmaat van `n kerk in Los Angeles, V.S.A., wat met sy eerste aand op `n Suidsee-eiland, alleen voel. Hy besluit om `n end te gaan stap, met die hoop hy loop dalk Christengeselskap raak. Hy sien drie jongmans, elkeen met `n Bybel in die hand, op die sypaadjie loop. Hy volg hulle. Hulle kom by `n vertrek waar ongeveer 25 mans, soldate en seemanne, vergader het. Die matroos verstaan hulle kom elke aand bymekaar om saam te sing en Bybelstudie te doen. Onder hulle was `n kapelaan wat af en toe saam met hulle vergader. Hulle sang word met `n trekklavier begelei, as die trekklavierspeler die aand nie dalk moet wagstaan nie. Die matroos sê: “If the accordionist couldn’t be present, we ‘sang the Lord’s song in a strange land’ without benefit of accompaniment.” Hulle groet mekaar almal met “broer”. Die matroos sê: “I don’t believe anyone can truly appreciate that word as much as a man who is in a strange land thousands of miles from home, when he walks up to a total stranger and is met with a smile, and outstreched hand, and ‘Welcome, brother!’ and knows that he is a Brother in Christ.”
In ons bekende omgewing word ons ook versterk deur ons omgang met mede Christene. By ons kerksamekomste is dit ook goed om nie net na die preek te luister die liedere te sing en huis toe te gaan nie. Bietjie gesels met mekaar, bespreking van die preek, wat vir mens tot seën was en getref het, `n getuienis oor iets wat die week gebeur het, oordra van `n persoonlike behoefte waaroor `n ander kan help bid, versterk ons Christenskap. “…waar twee of drie in my Naam is, daar is Ek by hulle (Mat.18:20.)
“Here, vandag dank ek U vir my broers en susters in Christus en bid vir hulle.”