“…die Here Jesus Christus wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld…(3).
Family Herald and Weekly Star vertel van die plaaslike predikant en `n seepfabrikant wat in die dorp se straat loop. Die seepman is nie `n Christen nie, en hy sê vir die dominee: “Die evangelie wat julle preek het regtig nog nie veel uitgerig nie. Daar is nog so baie sonde en boosheid in die wêreld en Christene is skaars.” Vir `n rukkie is die predikant stil. Hulle loop by `n seuntjie verby wat op die sypaadjie sit en modderkoekies maak. Hy is besmeer. Die predikant sê vir die seepmaker: “Seep het nog nie veel goed in die wêreld reggekry nie. Daar is nog so baie vuilheid en oral vuil mense.” Onmiddellik antwoord die seepvervaardiger, “Jy moet onthou seep het net waardie as dit gebruik word.” “Presies,” antwoord die dominee, “so is dit ook met die evangelie. Dit het net waarde en krag in die lewe van mense wat daarvan gebruik maak.”
In sy brief aan die Galasiërs kla Paulus oor hulle: “Julle Galasiërs, is julle dan so sonder begrip…Jesus Christus is tog so duidelik aan julle verkondig dat julle Hom as ’t ware aan die kruis kon sien hang….wil julle nou in eie krag eindig?” (Gal.3:1-3). Johannes skryf in sy evangelie (1:11,12): Hy het na sy eiëndom toe gekom en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het , dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” Die moordenaar aan die kruis het op die laaste oomblik na Jesus om redding geroep, en hy is gered. “’Jesus dink aan my as U in u koninkryk kom’. Jesus antwoord, ‘Vandag sal jy saam met My in die paradys wees’” (Luk.23:40-43)
“Here, vandag stel ek nie uit nie. Ek kom.”