Vry 22 Aug: Lewenskrag

Lees 1 Samuel 1:9-28

“Here, Almagtige, as U …aan my ’n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee…” (11)
        
 Die Sunday School Times vertel van ’n vyf­jaar oud seuntjie wat baie jare gelede kaalvoet, koud en honger in een van Glasgow se strate staan. Hoekom gee niemand vir hom kos nie, wonder hy. Hy het ’n dag en half laas iets te ete gehad. Toe hy ses en ’n half jaar oud was, begin hy in ’n speldefabriek ’n twaalfuurskof werk, teen ’n sjieling ’n week. Watter lewens­kans het so ’n verwaar­loos­de, arm kind? Op se­wentienjarige ouder­dom hoor William vir die eerste keer die evan­gelie van God se liefde en Chris­tus Jesus se ver­lossingswerk.  Vir so ’n wonderlike bood­skap het sy hart oopgegaan en William het tot bekering gekom. Hy is reeds baie jare dood, maar ’n lieflike monument staan op aarde vir hom opgerig: Die  Orphan Home of Scotland. William Quarrier het dit opgerig. Dit is dieselfde William wat kaalvoet in die straat hom verknies het oor die lot van ’n arm weeskind op straat. Sy bekering het so ’n groot krag in sy lewe ingebring dat hy so ’n taak kon aanpak en uitvoer.

Die grootste lewensbelegging wat ‘n mens kan maak, is om sy lewe vir die Here te gee. Die Here neem ’n waardelose swak mens en bring, deur die Heilige Gees, krag en rykdom in die innerlike lewe in en die persoon word ’n nut­tige, diensbare mens op aarde, wat God ver­heerlik en sy medemens verryk. “Julle is in­der­daad uit genade gered, deur geloof…nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep, om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het” (Ef.2:9,9).
  
“ Here, vandag open ek my hart vir die rykdom wat U deur u Gees in ’n mens se lewe inbring.”