“God is vir ons ’n toevlug en sterkte, as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef” (2).
In 1947 het die sendelingegpaar, Dick en Margaret Hillis, met hulle vier kinders, by Mule River in die Honanprovinsie van Sjina, gaan woon. Die sendingkerk het sterk gegroei en Sondae het tot 1 000 Sjinese die kerkdiens bygewoon. Hulle posisie het op ’n aangename periode gedui, behalwe dat oorlog tussen Chiang Kai-Shek en Mao Tse-tung gedreig het, skryf Jan Winebrenner in sy boek: Steel in His Soul – The Dick Hillis Story.
Die Nasionale Leër se kapt. Hwang, het vir Dick Hillis kom vertel die kommunistiese magte ruk op na Mule River toe. Hy het daarop aangedring dat hulle moet vlug. Dit was egter reeds te laat. Die Rooileër het al die spoorwegbrûe opgeblaas. Daardie aand hoor die Hillise die eerste skote en nie lank nie of die geveg woed om hulle. Hulle het nie geslaap nie – heel nag gebid. Die stad is spoedig oorweldig en die strate het vol kommunistiese troepe geraak. ’n Nuwe gevaar ontstaan. Kapt. Hwang, van die Nasionale Leër, begin van buite die stad bomme op die kommuniste gooi. Gedurende die een nag het die bomme al hoe nader aan die Hillise se huis begin val. Die huis langsaan is getref en al die inwoners is gedood. Die Hillise se huis gaan die volgende wees. Dick, Margaret en die vier kinders het in ’n hoek van die kamer bymekaar gehurk toe ’n bom baie naby aan die huis ontplof. Pleister en glas het om hulle gereën. Die huis bewe onder die aanslag van die bom en die kinders gil. Die gesin maak hulle gereed vir die laaste oomblikke en wag vir die volgende bom. Skielik hou die bombardement op. Na ’n rukkie kom die Hillise versigtig uit hulle hoek uit. Die kamervloer lê vol puin, maar nie een van hulle het iets oorgekom nie. Na ’n rukkie begin Dick die kinders een vir een in die bed sit. Hy kniel langs die jongste dogter, Margaret Anne, se bed. Hy sien ’n stukkie papier onder haar kopkussing uitsteek. Op die velletjie papier, in kinderhandskrif, staan: “God is our refuge and strength, a very present help in trouble” (Ps.46:2). Hieroor skryf Jan Winebrenner: “During the Chinese nights of terror, little Margaret Anne had been resting on a very big verse from a very faithful God.”
“Here, vandag skuil ek in my nood by U.”