“Kom, almal wat dors is, kom na die water toe..” (1)
Die beproewing van die woestyn is die gebrek aan water. Gospel Stories for the Young vertel van die karavaanritte deur die woestyn. Sodra die karavaan se water gedaan raak, ontstaan nood. ’n Enkele kameelruiter word vooruit gestuur om water te soek. Na `n tydjie volg `n tweede en dan `n derde. Sodra die eerste man water kry, roep hy: “Kom!” Die tweede man hoor dit en herhaal: “Kom!” Die derde man hoor hom en herhaal ook die roep. En so elkeen wat gevolg, todat die hele, omliggende woestyn, weergalm met die woord: “Kom!” Gospel Stories sluit af: “This is the great invitation word of the Gospel, come! come! come! COME!”
Ons voordeel is dat “kom” die sleutelwoord is van God se boodskap. “Op die laaste dag… van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: ‘As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!’” (Joh.7:37). Feitlik die laaste woord in die Bybel, is steeds ‘kom’: “Die Gees en die bruid sê: ‘Kom!’… En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Openb. 22:17). Ons merk dit gaan in die Here se koninkryk soos met die kameelmanne in die woestyn. Die boodskap word van een na die ander oorgedra: “Elkeen wat dit hoor moet sê: ‘Kom’” (v.17).Hoor en drink self die water van die ewige lewe en begin ander ook roep!
“Here, vandag hoor ek en wil ander ook roep.”