Vry 8 Aug: Die Kosbare Saad is Bewaar

Skrifdeel: Matteus 13: 1 – 9
 

“…ander saad het in goeie grond geval en ’n oes gelewer…(3,8)

Die sendeling, Alexander Duff het met die Lady Holland Indië toe gevaar. Al sy kosbare besittings, sy klere, sy biblioteek van 800 boeke, alles, was aan boord. ’n Paar kilometer van Indië af sink die skip. Die passasiers het almal lewend uit die wrak gekom, maar al hulle besittings het hulle verloor. Alexander Duff het saam met van die ander op die strand bly staan om te sien of daar nie dalk ietsie uitspoel nie. Toe sien hulle ’n enkele voorwerp op die branders aangedryf kom. Met angstige oë hou almal dit dop. Duff stap kniediep die water in en kry die drywende pakkie beet. Wat kan dit wees? Sy Bybel! Met blydskap gryp Duff die Bybel in albei hande vas. In die beproewing van die oomblik word Duff se hart oorweldig met die blydskap van geloof, dat God hierdie boek kosbaarder geag het as al sy ander besittings en dit vir hom bewaar het om God se werk in Indië te doen. Reeds die volgende dag begin hy sy sendingwerk met ’n samekoms van 5 seuns wat onder ’n vyeboom na die lees van daardie Bybel luister. ’n Week later groei die groep aan tot 300 luisteraars. ’n Paar jaar later staan daar ’n kerk op die plek waar die vyeboom gestaan het en byna duisend bekeerlinge, na die koninkryk van God, hef hulle stemme op in aanbidding en lof.
 

Die inhoud van die Bybel is lewende saad om die ewige lewe in mense se harte te laat ontwaak. Meeste van ons het so ’n saadkruik: ons Bybel. ’n Kruik met saad wat toegeskroef staan, kan nie lewe voortplant nie. Die oop saadkruik is ’n belofte vir lewe. Die inhoud van die Bybel voed en herleef ons eie hart. Die woorde van die Bybel wat ons ander laat hoor of laat lees, wek in hul harte lewe op: “Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit die onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God” (1 Pet.1:23). “Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde… nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Heilige Gees” (1 Kor.2:2,4).
“Here, vandag wil ek ’n saaier van u Woord wees.”