Skrifgedeelte: Efesiërs 3:17
"Dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon"
Die woon beteken veel meer as bloot om in te trek en te bly. Dit beteken dat jy jouself gemaklik maak, uitsprei en die spasie jou eie maak. Hoeveel van ons is eerlikwaar bereid om vir Christus volle beheer te gee?
Ons sien voorbeelde hiervan in televisie programme waar deelnemers ander mense toelaat om hul huise en tuine te kom oordoen. Soms word twee pare vriende of familielede gevra om hul huise te ruil en 'n kamer oor te doen. Daar is geen goedkeuring of waarborge nie. Die deelnemers gee hul huis se sleutels aan die aanbieder wat dit op sy beurt aan die ander paartjie oorhandig. Wanneer hulle te werk spring ruk hulle die eienaars se matte uit, haal die gordyne en portrette af, gooi meubels uit en verf die mure 'n ander kleur. Hulle doen presies wat hulle voel gedoen moet word. in een program, "Radical Home Makeover", word die eiendom gesloop en van die grond af weer opgebou. Die familie word met vakansie weg gestuur terwyl al hierdie dinge gebeur. Met hul terugkeer stort die hele familie trane van blydskap en vier die bure saam met hulle fees.
So, as ons soveel vertroue in ander mense kan plaas kan ons sekerlik vir Christus toelaat om in ons harte te kom woon. Een ding is vir seker, die resultate sal ons nie teleurstel nie. Wanneer jy die sleutels van jou hart vir Jesus gee "verfraai" hy hulle met liefde, geluk, vrede ens. Hy herbedraad jou hart sodat jy direk krag put uit die Heilige Gees. Kan enige iets beter wees as dit?