“Moenie bang wees nie….As jy deur water moet gaan, is ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie…vuur…sal jou nie skroei nie” (1,2)
In Mei 1969 het Lord Caradon, die Britse gesant by die Verenigde Nasies, tydens `n samekoms van die American Bible Society, vertel van die tyd toe hy goewerneur van Ciprus was tydens `n stormagtige politieke situasie. Sy pa het hom ondersteun en vir hom uit Engeland `n kabel gestuur: “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie” (2 Kor.4:8). Hy het sy pa geantwoord met `n ander kabel. “Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het” (Rom.5:3-5).
In die Christen se lewe kom daar teëspoed en teleurstelling. Soos `n vaardige tuinier weet hoe om sy rose te snoei, sonder om dit te beskadig, weet God ook hoe Hy vir ons toetse moet stuur, om ons op te bou, vrugbaarder te maak, maar ons nie te beskadig nie. Sunday School Times haal aan van die chirurg wat `n delikate operasie aan iemand se oor moet doen. Hy sê vir sy pasiënt: “’I may hurt you, but I will not injure you.’ How often the great Physician speaks to us the same message, if we would only listen.”
Dikwels kry ons Dawid in `n toestand van nood en beproewing. Altyd is sy toevlug na God toe, vertrouende in sy goedheid. “Uit die benoudheid het ek die Here aangeroep; die Here het my verhoor in die ruimte” (Ps.118:5).
“Here, vandag kry ek swaar, maar ek vertrou in U.”