Ma 1 Sept: Die Beter Pad

Skrifeel: Jesaja 30: 19 – 26

“Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou `n stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs.’” (21)

Die Gospel Herald vertel van ’n buiten­ge­woon aan­treklike en bekwame jongmei­sie, in­woner van een van die Sendinginstituut se weeshuise, in Indië. Sy het op ’n waardige jongman verlief geraak en hul­­le sou, met die Instituut se goedkeuring, trou. Kort voor die huwelik, be­gin sere aan haar hande ver­skyn. Dit is vasgestel sy is melaats. Die troue is af­gestel en sy is na ’n me­laat­se gestig oor­ge­plaas. Mooi aangetrek gaan sy die dag na die melaatse gestig toe. Saam met haar broer stap sy die ver­skrik­like plek in. Al die vroue om haar is vuil en verwaarloos, hulle gesigte droe­wig en vol wanhoop. Sy gryp haar broer vas en gaan droewig aan die huil. “Moet ek soos hulle word?” snik sy. So wanhopig was sy, sy is dop­ge­hou, dat sy nie dalk in die diep water­put sou spring nie. Die sen­delinge het saam met haar gevoel, diep met haar gesimpatiseer. Een van hulle sê vir haar: “Wil jy nie vir die arme vroue ’n hulp wees nie.?” ’n Straaltjie lig beek vir haar deur. Sy het ’n skool begin en die vroue en jongmeisies in die gestig leer lees en skryf. Die sendelinge het vir haar ’n vou­or­rel gebring. Sy kon dit bespeel en die vroue leer sing. Stadigaan het ’n transformasie be­gin plaasvind. Die huise is skoon en netjies ge­maak. Die vroue het hulself en hul klere begin was en hulle hare gekam. ’n Atmosfeer van hoop en vreugde het posgevat. Dit het ’n plek van seën geword. Na sy ’n lang ruk daar was, het sy getuig, sy het met haar aankoms in die gestig, in God begin twyfel. Dan gaan sy voort om te sê: “Now I know God had a work for me to do, and if I had not become a leper, I never would have discovered my work. Every day I live, I thank Him for having sent me here, and had given me this work to do.” Die pad waarlangs die Here ons soms neem om vir Hom nuttig te wees, kan ’n steil en moeilike pad wees. So het Paulus en Silas dit ervaar toe hulle die evangelie in Filippi se tronk moes indra. Hulle is aangekla, ge­slaan en met hulle voete in ’n blok opge­sluit. Baie groot seën en redding het hier­uit voortgevloei (Hand.16). Ons is veilig as ons ons aan God se wil onderwerp. Hy weet hoe om ons langs die regte pad te lei, om te kom waar Hy ons wil hê en gebruik. In sy swaarkry, was dit ge­du­rig Dawid se gerusstellende wete: “Maar ek vertrou op U, want ek weet U is my God. U het beheer oor my omstandighede” (Ps.31)

“Here, vandag luister ek om u stem te hoor.”

Vry 29 Aug: Ingeperk deur ons sintuie

Skrifgedeelte: 2 Kor 5:7 NV

"Ons lewe deur geloof, nie deur sien nie"

Ons geloof strek nie verby dit wat ons sien nie en dit is die rede hoekom baie van ons nie geestelik groei nie. Ware geloof begin waar ons sintuie eindig. Wanneer ons iets kan sien, voel ons dat dit nie nodig is om in God daarvoor te vertrou nie. Aangesien ons nie baie ver kan sien nie leef ons baie ingeperk.

Dink maar aan die Rooibok, 'n wonderlike dier wat hoog kan spring en met net een sprong ver spring. Maar het jy geweet dat jy 'n bok in 'n hok van 1 meter hoog sonder 'n dak kan sit en die dier sal nie probeer ontsnap nie? Dit is omdat die bok nie sal spring as hy nie kan sien waar hy sy voete moet neersit nie. Die bok leef volgens wat hy sien en is dit dus maklik om hom gevange te hou. Dieselfde geld vir jou!

Laat ons egter 'n belangrike waarheid noem. Baie kinders glo aan die Paas Haas. Die probleem daarmee is dat hul geloof oneffektief is omdat die objek van hul geloof nie bestaan nie. Die Bybel sê: "Here, ek weet dat alles wat U sê die waarheid is en dat ek my lewe daarop kan bou." Geloof staaf wat ons oor God glo. Te veel mense gee voor dat hulle meer vertroue in hulself het as in God. As geloof die aksie is waardeur ons die krag en beloftes van God ontvang, sal 'n tekort aan geloof beteken dat ons nie die bonatuurlike werk van God in ons lewens raaksien nie. Dan sal ons lewe in die wêreld met al sy tekortkominge.

Do 28 Aug: Wees 'n vriend wat bid

Skrifgedeelte: Jakobus 4:16

"Die gebed van 'n gelowige het 'n kragtige uitwerking"

Markus teken die volgende aan: "Daar kom toe mense wat 'n verlamde man na Hom toe bring. Vier van hulle het hom gedra. Toe hulle hom weens die gedrang nie by Jesus kon kry nie, breek hulle die dak reg bokant Hom oop... en laat hulle die draagbaar waarop die man gelê het, daardeur afsak. Toe Jesus hulle geloof gesien, sê Hy vir die verlamde: "Vriend, jou sondes word vergewe!" (Mark 2:3-5 NV)

Die woord gebed word nie eenkeer in die paragraaf gebruik nie. Maar as jy dit van nader bekyk, sal jy dit in aksie sien: vier mans wat hul siek vriend deur die dak laat afsak tot in Jesus se teenwoordigheid. Hy hou op preek, kyk na die man en deel hom dan mee, "Vriend, jou sondes word vergewe!" Wat het Jesus so aangeroer? Markus antwoord, "Toe Jesus hulle geloof sien." Die geloof van die vier vriende het die mag van Christus namens die siek man bewerkstellig. Let op dat die siek man geen beweging gemaak het nie, geen behandeling, geen antwoorde en geen hoop nie. Wat hy wel het, is vriende wat weet hoe om hom tot in die teenwoordigheid van Christus te bring. Die verlamde mag dalk benoud wees ("moenie my laat val nie!"). Die huiseienaar mag kreun (dakbou is baie anti-sosiaal). Maar Jesus? Hy glimlag! Hulle geloof roer hom aan. Hy genees die man. Die verlamde verlaat die huis met 'n skoon siel en 'n sterk liggaam.

Getroue vriende dra hul geliefdes op vlerke van gebed tot in God se teenwoordigheid. En wanneer dit gebeur antwoord God. Hoe? Wanneer? Die vier mans het nie geweet nie en ons weet ook nie, maar ons weet wel: "Die gebed van 'n gelowige het 'n kragtige uitwerking." Wees daardie tipe vriend. Probeer dit, dra jou geliefdes tot in Jesus se teenwoordigheid en kyk wat gebeur!

Wo 27 Aug: Die Voordeel van Laste

Lees Matteus 11:25-30

“My juk is sag en my las is lig” (30)

Dr. Lambie, geneesheersendeling in Abes­si­nië, moes dik­wels vinnige en diep riviere oor­steek, skryf  Christian Victory. Die gevaar van die vinnigvloeiende riviere was dat ‘n mens van jou voete afgeruk word en dan met die vin­nige stroom meegesleur word na ‘n dieper stroom, of na ‘n waterval, of dat mens teen een van die baie rotse verpletter kon word. Dr. Lambie het van die inboorlinge die geheim geleer om veiliger deur so ‘n stroom te kom. ‘n Mens soek ‘n groot klip. Hoe groter en swaarder hoe beter. Die gewig word op die skouer geneem en dit dien as ballas. Die bykomstige gewig druk die voete stewiger op die bodem vas en jy kruis die rivier met groter vei­ligheid. Jou voete word nie so gou onder jou uitgespoel nie. Dr. Lambie se gevolgrekking:  While crossing the dan­gerous stream of life… we need the ballast of burdenbearing, a load of affliction, to keep us from being swept off our feet.” Romeine 5:3-5 sê: “Ons verheug ons ook in die swaar­kry, want ons weet: swaarkry kweek vol­hard­ing, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof  kweek hoop; en die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het”.
        
Dwarsdeur die Skrif kry ons hierdie nega­tie­we elemente en swaarkry, wat gelowiges soos laste moes dra. Abraham moet kinderloos voortbeweeg, Jakob se broer veg met hom, Josef word as slaaf verkoop en beland in Egipte in die tronk, Job ervaar groot teëspoed en word deur sy vriende mis­verstaan, Dawid moet gedurig vir Saul vlug, Daniël beland in die leeukuil en sy vriende in ‘n brandende oond, Jeremia word vervolg en in ‘n put gegooi. So loop hierdie patroon deur die Skrif. Salomo wat geen laste moes dra nie, se voete is op die ou end onder hom uitgespoel en word deur sy vroue verlei en word ‘n afgodsdienaar.

“Here, vandag dank ek U vir die las wat my voete in die lewenstroom beter laat vasstaan.”

Di 26 Aug: Die Hoogste Prys

Lees Markus 15: 21 – 32

“Hulle bring Jesus toe na…Golgota…toe kruisig hul­le Hom en verdeel sy klere onder mekaar “ (22-24)).

In die Alliance Weekly is `n beskrywing van die manier waarop die Romeine misdadigers ge­kruisig het. Die kruis is op die grond neer­ge­lê en die man wat gekruisig moes word, word op die kruis vasgedruk en sy hande en voete  vas­­gespyker. Die gat waarin die kruis gesit sou word, is vooraf gegrawe. “Then the cross was carried to the hole and dropped into it. This, of course, drew every nerve and muscle in tension and produced the greatest imagin­able suffering”, skryf  die Alliance.
 
Op `n dag neem `n onderwyseres haar klas jong­­­meisies om na `n staalgravering, volgens `n beroemde skildery van die kruisigingsto­neel van Jesus en die twee misdadigers, te gaan kyk. Drie kruise lê op die grond en by twee van die kruise stoei en worstel soldate met die twee misdadigers om hulle vasgenael te kry. Op die middelste kruis, lê Jesus, en soos die Alliance dit skilder: “Christ lay down quietly and extended the quivering palms to receive the spikes.” Terwyl die jongmeisies so na die aan­gryp­ende toneel staan en kyk, skreeu een skie­lik geskok: “Het Jesus dan nog gelewe toe Hy gekruisig is? Ek het altyd gedink Hy was reeds dood toe hulle Hom op die kruis vas­ge­spy­ker het!”  Die onderwyseres antwoord, en ek haal weer die Alliance se eie woorde aan: “Yes, He was nailed there alive for you.” The girl, weeping, said: “Then I am His forever.”

"Here, vandag oordink ek U groot lyding om vir my sondeskuld te betaal en my vry te koop"

Ma 25 Aug: Oral Hartseer

Lees 1 Petrus 2:1-18

…omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ‘n voorbeeld gestel het…’(21)

In How to Face Life deur Charles F. Banning, vertel hy ‘n  fabel wat die Sjinese meesters graag ver­tel. ‘n Vrou het haar enigste seun verloor. Sy was verslae van droefheid. Elke dag het sy oor hom getreur. Uiteindelik het sy met ‘n wyse ou filosoof gaan praat. Hy het vir haar gesê: “Ek sal jou seun aan jou teruggee, as jy vir my ‘n mostertsaadjie sal bring. Daar is egter ‘n voorwaarde: die saadjie moet van ‘n huis af kom waar daar nog nooit droefheid was nie. Sy het dadelik haar soektog begin en van huis tot huis gegaan. Elke huis waar sy gekom het, het ‘n eie droefheid gehad. “Hoe selfsugtig was ek,” het sy geroep, “droefheid is almal se deel!”

Die prediker, C. H. Spurgeon, troos ons bedroef­de harte dieper. God is in Christus Je­sus saam met ons in ons hartseer. Hy skryf: “There is no pang that rends the hearts, I might almost say not one which disturbs the body, but what Jesus Christ has been with you in it all.” Voel jy die druk van armoed, gaan hy voort? Jesus het “..nie eens ‘n rusplek vir sy kop nie” (Luk.9:58). Ondervind jy die droefheid van ‘n geliefde se verlies? Jesus het by sy vriend Lasarus se graf, saam met Lasarus se susters, gehuil. Is jy beskinder en is daar van jou sleggepraat? In Psalm 69 hoor ons die Messias se stem: “U weet hoe ek beledig en verkleineer is… beledigings het my gebreek…” (20). Het jou vriende jou verraai? Jesus se eie dissipel het Hom verraai, een het hom verloën, en die ander het weggehardloop toe Hy gevangegeneem is. Bevind jy jou in ‘n storm? Jesus was elke keer saam met sy dissipels in die storms wat hulle getref het. Ly jy pyn? Wie se pyn kan vergelyk word met die pyn wat Hy aan die kruis gely het? “He cries, ‘I am with you; be not dismayed ; for I am both thy Companion and thy God.’”


“Here, vandag dank ek U dat U saam met my in my beproewing is.”

Vry 22 Aug: Lewenskrag

Lees 1 Samuel 1:9-28

“Here, Almagtige, as U …aan my ’n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee…” (11)
        
 Die Sunday School Times vertel van ’n vyf­jaar oud seuntjie wat baie jare gelede kaalvoet, koud en honger in een van Glasgow se strate staan. Hoekom gee niemand vir hom kos nie, wonder hy. Hy het ’n dag en half laas iets te ete gehad. Toe hy ses en ’n half jaar oud was, begin hy in ’n speldefabriek ’n twaalfuurskof werk, teen ’n sjieling ’n week. Watter lewens­kans het so ’n verwaar­loos­de, arm kind? Op se­wentienjarige ouder­dom hoor William vir die eerste keer die evan­gelie van God se liefde en Chris­tus Jesus se ver­lossingswerk.  Vir so ’n wonderlike bood­skap het sy hart oopgegaan en William het tot bekering gekom. Hy is reeds baie jare dood, maar ’n lieflike monument staan op aarde vir hom opgerig: Die  Orphan Home of Scotland. William Quarrier het dit opgerig. Dit is dieselfde William wat kaalvoet in die straat hom verknies het oor die lot van ’n arm weeskind op straat. Sy bekering het so ’n groot krag in sy lewe ingebring dat hy so ’n taak kon aanpak en uitvoer.

Die grootste lewensbelegging wat ‘n mens kan maak, is om sy lewe vir die Here te gee. Die Here neem ’n waardelose swak mens en bring, deur die Heilige Gees, krag en rykdom in die innerlike lewe in en die persoon word ’n nut­tige, diensbare mens op aarde, wat God ver­heerlik en sy medemens verryk. “Julle is in­der­daad uit genade gered, deur geloof…nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep, om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het” (Ef.2:9,9).
  
“ Here, vandag open ek my hart vir die rykdom wat U deur u Gees in ’n mens se lewe inbring.”

Do 21 Aug: Soek Jesus

Lees Johannes 6 : 22 – 40

“Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê…” (40).
          
Die groot en bekende Engelse prediker en skry­wer van meer as `n eeu gelede, C. H. Spurgeon, se preke tussen 1855 en 1917 is in 62 volumes saamgevat. Uit­gegee deur Pilgrim Publications. Elke volume bevat een jaar se preke. Omdat ek so baie van die kan­sel af oor Spurgeon se preke gepraat het, het `n ge­meente vir my `n aantal van sy preek­bundels as `n geskenk gegee. Ek het self `n paar bygekoop, so­­dat ek nou sy volumes tot by nr.34 het. Ek pro­beer elke twee, drie dae een van sy pre­ke lees. Ver­lede week lees ek “Seek­ing for Jesus” oor Johan­nes 6:24 in vol.16 (1870). Die vekondig­ing van die weg van saligheid het my weer getref en ek wil vir van­dag se oordenking net enkele para­gra­we  aan­­haal. Die hele preek is van blds. 469 – 480.
       
Ek gee Spurgeon se eie woorde. Ek kan dit nie ver­taal reg weergee nie.Hy begin sy preek met die woor­de: I shall apply the words before us to those who really and spi­ritually seek Jesus, seek him as Je­sus – the Sa­viour who saves his people from their sins.” Hy probeer soekende mense oorhaal om te glo en Jesus te vertrou en so te weet hulle is gered. “I am glad that Jesus is the object of your search, for nothing else is worth seeking, for: sal­va­tion from sin and hell should be the first object of our soul’s desire.”
       
Hy maak `n verrassende, maar waar, op­merk­ing, oor die soeke na Jesus vir redding: “The seek­er after Christ remains disobedient to the great command of the gospel. If he were obedient to the great gospel precept, he would at once cease to be a seeker, and become a happy finder. What is the command of the gos­pel? ‘Believe in the Lord Jesus Christ, and thou shalt be saved.’ Christ is not an object for seek­ing, he is not far from any of us. He is not so much to be looked for as looked at. Jesus is Immanuel, God with us. A prayer will reach him, a wish will find him, a groan will pierce his heart – do but confide in him, and he is yours. The way for me as a sinner is simply this, that I, being a sinner, do now put my trust in Christ Jesus the subsitute for sinners. The way of salvation is that I accept him for what God had send him forth, namely, as the atonement for my sin, in which I place my sole reliance. I trust him, and I obtain thereby the bles­sed results of his sufferings – I am in fact thereby sav­ed. Stand not by the fountain’s brim, but wash in it and be clean. Jesus is not to be dis­co­vered as a secret, he stands before thee openly. Behold his hands and his feet, mark well his riven side, and as thou lookest, trust, and henceforth he is all thine own. To believe in Jesus, as we say again, and again, and again, is simply to trust in Jesus, to take God at his word, to take Christ for what God says he is, namely, the atone­ment, the satisfaction for sin, the Saviour of sinners, and thank God – thou art saved.”
       
Die Heilige Gees wek uit hierdie verseker­inge uit God se woord, geloof in ons harte en dan skenk Hy die nuwe lewe uit Jesus se op­standing in ons hart en bring in ons die ver­se­kering van saligheid. “…julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: ‘Abba!’ Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” (Rom.8:15,16).

“Here, vandag glo ek Jesus is my Redder en U is my Vader.”

Wo 20 Aug: Christenbroederskap

Lees Johannes 17: 17 – 26

“Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het…” (23).

Mans, vrouens, kinders, in wie se harte die Here Jesus Christus deur sy Heilige Gees woon, ver­lang na ander Christene se teenwoordigheid en gemeen­skap. Dit is die krag in Christelike kerk.

King’s Business vertel van `n Christen­ma­troos, lidmaat van `n kerk in Los Angeles, V.S.A., wat met sy eerste aand op `n Suidsee-eiland, alleen voel. Hy besluit om `n end te gaan stap, met die hoop hy loop dalk Christen­ge­selskap raak. Hy sien drie jongmans, elkeen met `n Bybel in die hand, op die sypaadjie loop. Hy volg hulle. Hulle kom by `n vertrek waar ongeveer 25 mans, soldate en see­manne, vergader het. Die matroos verstaan hulle kom elke aand by­me­kaar om saam te sing en Bybelstudie te doen. Onder hulle was `n kapelaan wat af en toe saam met hulle ver­gader. Hulle sang word met `n trek­klavier be­ge­lei, as die trek­kla­vier­speler die aand nie dalk moet wagstaan nie. Die matroos sê: “If the accordionist couldn’t be pre­sent, we ‘sang the Lord’s song in a strange land’ without benefit of accom­paniment.” Hulle groet mekaar almal met “broer”.  Die matroos sê: “I don’t believe anyone can truly appreciate that word as much as a man who is in a strange land thousands of miles from home, when he walks up to a total stranger and is met with a smile, and outstreched hand, and ‘Welcome, bro­ther!’ and knows that he is a Brother in Christ.”

In ons bekende omgewing word ons ook ver­sterk deur ons omgang met mede Chris­tene. By ons kerksamekomste is dit ook goed om nie net na die preek te luister die liedere te sing en huis toe te gaan nie. Bietjie gesels met mekaar, bespreking van die preek, wat vir mens tot seën was en getref het, `n getuienis oor iets wat die week gebeur het, oordra van `n per­soon­like behoefte waaroor `n ander kan help bid, versterk ons Christenskap. “…waar twee of drie in my Naam is, daar is Ek by hulle (Mat.18:20.)

“Here, vandag dank ek U vir my broers en susters in Christus en bid vir hulle.”

Di 19 Aug: Maak Uself tuis, Here!

Skrifgedeelte: Efesiërs 3:17

"Dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon"

Die woon beteken veel meer as bloot om in te trek en te bly. Dit beteken dat jy jouself gemaklik maak, uitsprei en die spasie jou eie maak. Hoeveel van ons is eerlikwaar bereid om vir Christus volle beheer te gee?

Ons sien voorbeelde hiervan in televisie programme waar deelnemers ander mense toelaat om hul huise en tuine te kom oordoen. Soms word twee pare vriende of familielede gevra om hul huise te ruil en 'n kamer oor te doen. Daar is geen goedkeuring of waarborge nie. Die deelnemers gee hul huis se sleutels aan die aanbieder wat dit op sy beurt aan die ander paartjie oorhandig. Wanneer hulle te werk spring ruk hulle die eienaars se matte uit, haal die gordyne en portrette af, gooi meubels uit en verf die mure 'n ander kleur. Hulle doen presies wat hulle voel gedoen moet word. in een program, "Radical Home Makeover", word die eiendom gesloop en van die grond af weer opgebou. Die familie word met vakansie weg gestuur terwyl al hierdie dinge gebeur. Met hul terugkeer stort die hele familie trane van blydskap en vier die bure saam met hulle fees.

So, as ons soveel vertroue in ander mense kan plaas kan ons sekerlik vir Christus toelaat om in ons harte te kom woon. Een ding is vir seker, die resultate sal ons nie teleurstel nie. Wanneer jy die sleutels van jou hart vir Jesus gee "verfraai" hy hulle met liefde, geluk, vrede ens. Hy herbedraad jou hart sodat jy direk krag put uit die Heilige Gees. Kan enige iets beter wees as dit?

Ma 18 Aug: Groei in vier areas

Skrifgedeelte: Lukas 2:52 NV

"En Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem"

Groei is iets wat selfs Jesus gedoen het. Hy het in vier areas gegroei: (1) Hy het "verstandelik" gegroei - intelektuele ontwikkeling. (2) Hy het "liggaamlik" gegroei - fisiese ontwikkeling. (3) Hy het "in guns by God" gegroei - Geestelike groei. (4) Hy het gegroei "in guns by die mense" - sosiale en emosionele ontwikkeling. Jou geestelike groei moet nooit in kompartemente gedeel word nie, maar moet deel word van alle ander aspekte van jou lewe. Dit is waar ons die pot mis sit! Jy kan nie een area afskeep sonder om jou groei in alle areas te benadeel nie. Moet dus nie vir Jesus beperk tot een of ander godsdienstige onderafdeling in jou lewe nie - " 'n Hoofstuk 'n dag laat die duiwel wag" is nie die antwoord nie. Word wakker en besef dat jy jou God meer beheer kan gee oor alle aspekte van jou bestaan. Dit is juis dit wat die Christen se lewe dinamies maak, in plaas van staties. Ons is almal in verskillende fases van ons ontwikkeling en juis daarom is dit dwaas om jou ontwikkeling met iemand anders te vergelyk. Moenie jouself die heeltyd met ander vergelyk nie. Hulle is nie jy nie, maar jy is! Ondersoek elke dag hierdie vier areas in jou lewe en vra: "God, hoe vorder ek?" In sommige areas sal dit goed gaan en in ander sal daar nog baie spasie wees vir groei.

Wanneer dit kom by jou waardes en gewoontes sal jy sien dat: (a) sommige goed moet bloot herbevestig word; (b) sommiges is veranderlik en moet versterk word; (c) sommiges onderontwikkel is en gelouter moet word; (d) sommiges skadelik is en dit berou moet word. Die punt? Jy kan net groei as jy jouself heelhartig daartoe verbind!

Vry 15 Aug: Bemoedig Mekaar

Skrifdeel: Jesaja 43: 1 – 5
 

“Moenie bang wees nie….As jy deur water moet gaan, is ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie…vuur…sal jou nie skroei nie” (1,2)

In Mei 1969 het Lord Caradon, die Britse gesant by die Verenigde Nasies, tydens `n samekoms van die American Bible Society, vertel van die tyd toe hy goewerneur van Ciprus was tydens `n stormagtige politieke situasie. Sy pa het hom ondersteun en vir hom uit Engeland `n kabel gestuur: “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie” (2 Kor.4:8). Hy het sy pa geantwoord met `n ander kabel. “Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het” (Rom.5:3-5).
 

In die Christen se lewe kom daar teëspoed en teleurstelling. Soos `n vaardige tuinier weet hoe om sy rose te snoei, sonder om dit te beskadig, weet God ook hoe Hy vir ons toetse moet stuur, om ons op te bou, vrugbaarder te maak, maar ons nie te beskadig nie. Sunday School Times haal aan van die chirurg wat `n delikate operasie aan iemand se oor moet doen. Hy sê vir sy pasiënt: “’I may hurt you, but I will not injure you.’ How often the great Physician speaks to us the same message, if we would only listen.”
 

Dikwels kry ons Dawid in `n toestand van nood en beproewing. Altyd is sy toevlug na God toe, vertrouende in sy goedheid. “Uit die benoudheid het ek die Here aangeroep; die Here het my verhoor in die ruimte” (Ps.118:5).
 

“Here, vandag kry ek swaar, maar ek vertrou in U.”

Do 14 Aug: Gebruik Dit

Skrifdeel: Galasiërs 1:1 – 5
 

“…die Here Jesus Christus wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld…(3).

Family Herald and Weekly Star vertel van die plaaslike predikant en `n seepfabrikant wat in die dorp se straat loop. Die seepman is nie `n Christen nie, en hy sê vir die dominee: “Die evangelie wat julle preek het regtig nog nie veel uitgerig nie. Daar is nog so baie sonde en boosheid in die wêreld en Christene is skaars.” Vir `n rukkie is die predikant stil. Hulle loop by `n seuntjie verby wat op die sypaadjie sit en modderkoekies maak. Hy is besmeer. Die predikant sê vir die seepmaker: “Seep het nog nie veel goed in die wêreld reggekry nie. Daar is nog so baie vuilheid en oral vuil mense.” Onmiddellik antwoord die seepvervaardiger, “Jy moet onthou seep het net waardie as dit gebruik word.” “Presies,” antwoord die dominee, “so is dit ook met die evangelie. Dit het net waarde en krag in die lewe van mense wat daarvan gebruik maak.”
 

In sy brief aan die Galasiërs kla Paulus oor hulle: “Julle Galasiërs, is julle dan so sonder begrip…Jesus Christus is tog so duidelik aan julle verkondig dat julle Hom as ’t ware aan die kruis kon sien hang….wil julle nou in eie krag eindig?” (Gal.3:1-3). Johannes skryf in sy evangelie (1:11,12): Hy het na sy eiëndom toe gekom en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het , dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” Die moordenaar aan die kruis het op die laaste oomblik na Jesus om redding geroep, en hy is gered. “’Jesus dink aan my as U in u koninkryk kom’. Jesus antwoord, ‘Vandag sal jy saam met My in die paradys wees’” (Luk.23:40-43)
“Here, vandag stel ek nie uit nie. Ek kom.”

Wo 13 Aug: Die Ongewone Vuurtoring

Skrifdeel: Johannes 4: 1 – 26
"As jy geweet het…sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het” (10).

Vuurtorings word gewoonlik op gevaarlike plek­ke en by onverwagte rotsformasies in die see gekry. Die eintlike booskap van `n vuurtoring is: “Bly hier weg!” Iemand skryf egter in “Good News”: ”I know of a lighthouse that says just the opposite, for it says, ‘come’. This lighthouse is in the middle of the Arizona Desert. There is no water to be had for over thirty miles in every direction, but just where that lighthouse stands there is a well.” Daardie toring bedags, en die lig snags, sê: “Hier is water.” Dit is `n beeld van die Here Jesus. In ons wêreld, met sy dors en behoefte, staan Jesus en sê: “As iemand dors is, laat hom na My toe kom en drink.”

Dit is die tipiese verhaal wat in Johannes 4 af­speel, toe die Samaritaanse vrou uit gewoonte die dag, by haar bekende put, gaan water skep het. By die put vind sy Jesus, wat vir haar sê: “As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat nou met jou praat, sou jy Hom gevra het en Hy sou vir jou lewende water ge­gee het.” Sy hoor hoe goed Jesus haar ken. Dit is `n aanmoedigende wete: ‘Jesus ken my lewe’: “Jy het reeds vyf mans gehad en die een wat jy nou het is nie jou man nie.” Sy hoor wat Hy vir haar wil doen: “Elkeen…wie drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie..en Ek sal hom die ewige lewe gee.” En sy ervaar hoe Jesus Homself aan haar bekend maak: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.” Sy het nuwe lewe en redding gevind.

Op `n dag, in ons gewone lewensloop, vind ons die uitnodigende vuurtoring; die Heilige Gees bring die bekende evangelieboodskap na ons hart toe. Ons begryp: “Ek het sondeskuld. Ek is nie seker van die ewige lewe nie. Ek het vrymoedigheid om Jesus daarvoor te vra en Hom te vertrou.” Neem dan die stap en sê vir Hom: “Red my, Here Jesus.” “Wie bely dat Jesus die Seun van God is – God bly in hom en hy in God.”
“Here, vandag neem ek U aan.”

Di 12 Aug: Kom!

Skrifdeel: Jesaja 55: 1 – 6

“Kom, almal wat dors is, kom na die water toe..” (1)
Die beproewing van die woestyn is die ge­brek aan water. Gospel Stories for the Young vertel van die karavaanritte deur die woestyn. Sodra die karavaan se water gedaan raak, ontstaan nood. ’n Enkele kameel­ruiter word vooruit gestuur om water te soek. Na `n tydjie volg `n tweede en dan `n derde. Sodra die eerste man water kry, roep hy: “Kom!” Die tweede man hoor dit en herhaal: “Kom!” Die derde man hoor hom en herhaal ook die roep. En so elkeen wat gevolg, todat die hele, omlig­gende woes­tyn, weergalm met die woord: “Kom!” Gospel Stories sluit af: “This is the great invitation word of the Gospel, come! come! come! COME!”

Ons voordeel is dat “kom” die sleu­­­tel­woord is van God se bood­skap. “Op die laaste dag… van die huttefees, het Je­sus daar ge­staan en uitgeroep: ‘As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!’” (Joh.7:37). Feitlik die laaste woord in die Bybel, is steeds ‘kom’: “Die Gees en die bruid sê: ‘Kom!’… En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Openb. 22:17). Ons merk dit gaan in die Here se ko­nink­ryk soos met die ka­meelmanne in die woes­tyn. Die bood­skap word van een na die ander oor­ge­dra: “Elkeen wat dit hoor moet sê: ‘Kom’” (v.17).Hoor en drink self die water van die ewige lewe en begin ander ook roep!

“Here, vandag hoor ek en wil ander ook roep.”

Ma 11 Aug: Hantering van Irritasies

Skrifdeel: Markus 8: 34 – 38
 
“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën…en My volg” (34)
 
Onder die opskrif, The Blessing of Irritations, maak Sunday School Times die opmerking: “Most of us rebel agains the things that irritate us…the oyster is wiser. When an irritating object, like a bit of sand, gets under the ‘mantle’ of his shell, he covers it with the most precious part of his being and makes of it a pearl.” `n Pêrel is die oester se oorwinning oor `n irritasie.
Ek het ons ou Kinderensiklopedie hieroor ge­raad­pleeg. Die ou Hindoes het ge­glo `n doudruppel be­land in `n oop oester en word dan `n pêrel. Die ensi­klopedie sê egter pê­rels word langs die moei­liker weg gekweek, soos die Sun­day School Times dit vertel. `n Irritasie, bv. `n sand­korrel, beland in die oester se binneweef­sels, en word dan lagie op lagie met `n innerlike en kosbare stof van die oester, perlemoenuitwas, bedek om die irritasie teë te werk, en so vorm die kosbare pê­rel. Sunday School Times maak hierdie toe­pas­sing: “Every irritation that gets into our lives today is an opportunity for pearl culture. We only need to welcome it and cover it completely with love, that most precious part of us, and the irritation will be smothered out as the pearl comes into being.”
 
Prof. Hennie Stan­der se vertaling van 1 Ko­rin­ti­ërs 13: 4, 5, vir kinders bedoel en daarom vir ons ver­staanbaar, klink so: “As ’n mens regtig lief is vir Jesus en vir mense dan: sal jy nie lelik wees met iemand wat vir almal ’n pyn gee nie…altyd gaaf wees met mense…nie oor jouself loop en praat nie… nie dink dat jy darem baie belangrik is nie… nie met ander mense lelik maak nie… nie altyd net aan jouself dink nie…nie oor elke ding kwaad raak en dan net wil stry of baklei nie…nie altyd terugdink aan dit wat ander verkeerd teen jou gedoen het nie…” So word die geestelike pêrels in ons lewe gevorm. So `n lewenshouding is nie uit ons eie krag moont­lik nie. Ons is van die Heilige Gees se werk­ing in ons hart afhanklik. Die Heilige Gees gebruik God se Woord en vestig ons aandag op Jesus, en só kom die pêrelproses in ons lewe in.


“Here, vandag wil ek deur u krag uit my irritasies pêrels vorm en nie kwaad word nie.”

Vry 8 Aug: Die Kosbare Saad is Bewaar

Skrifdeel: Matteus 13: 1 – 9
 

“…ander saad het in goeie grond geval en ’n oes gelewer…(3,8)

Die sendeling, Alexander Duff het met die Lady Holland Indië toe gevaar. Al sy kosbare besittings, sy klere, sy biblioteek van 800 boeke, alles, was aan boord. ’n Paar kilometer van Indië af sink die skip. Die passasiers het almal lewend uit die wrak gekom, maar al hulle besittings het hulle verloor. Alexander Duff het saam met van die ander op die strand bly staan om te sien of daar nie dalk ietsie uitspoel nie. Toe sien hulle ’n enkele voorwerp op die branders aangedryf kom. Met angstige oë hou almal dit dop. Duff stap kniediep die water in en kry die drywende pakkie beet. Wat kan dit wees? Sy Bybel! Met blydskap gryp Duff die Bybel in albei hande vas. In die beproewing van die oomblik word Duff se hart oorweldig met die blydskap van geloof, dat God hierdie boek kosbaarder geag het as al sy ander besittings en dit vir hom bewaar het om God se werk in Indië te doen. Reeds die volgende dag begin hy sy sendingwerk met ’n samekoms van 5 seuns wat onder ’n vyeboom na die lees van daardie Bybel luister. ’n Week later groei die groep aan tot 300 luisteraars. ’n Paar jaar later staan daar ’n kerk op die plek waar die vyeboom gestaan het en byna duisend bekeerlinge, na die koninkryk van God, hef hulle stemme op in aanbidding en lof.
 

Die inhoud van die Bybel is lewende saad om die ewige lewe in mense se harte te laat ontwaak. Meeste van ons het so ’n saadkruik: ons Bybel. ’n Kruik met saad wat toegeskroef staan, kan nie lewe voortplant nie. Die oop saadkruik is ’n belofte vir lewe. Die inhoud van die Bybel voed en herleef ons eie hart. Die woorde van die Bybel wat ons ander laat hoor of laat lees, wek in hul harte lewe op: “Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit die onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God” (1 Pet.1:23). “Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde… nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Heilige Gees” (1 Kor.2:2,4).
“Here, vandag wil ek ’n saaier van u Woord wees.”

Do 7 Aug: 'n Rusplek vir die Kop

Skrifdeel Psalm 46: 1 – 12 (Ou Vertaling).
 

“God is vir ons ’n toevlug en sterkte, as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef” (2).

In 1947 het die sendelingegpaar, Dick en Margaret Hillis, met hulle vier kinders, by Mule River in die Honanprovinsie van Sjina, gaan woon. Die sendingkerk het sterk gegroei en Sondae het tot 1 000 Sjinese die kerkdiens bygewoon. Hulle posisie het op ’n aangename periode gedui, behalwe dat oorlog tussen Chiang Kai-Shek en Mao Tse-tung gedreig het, skryf Jan Winebrenner in sy boek: Steel in His Soul – The Dick Hillis Story.
 

Die Nasionale Leër se kapt. Hwang, het vir Dick Hillis kom vertel die kommunistiese magte ruk op na Mule River toe. Hy het daarop aangedring dat hulle moet vlug. Dit was egter reeds te laat. Die Rooileër het al die spoorwegbrûe opgeblaas. Daardie aand hoor die Hillise die eerste skote en nie lank nie of die geveg woed om hulle. Hulle het nie geslaap nie – heel nag gebid. Die stad is spoedig oorweldig en die strate het vol kommunistiese troepe geraak. ’n Nuwe gevaar ontstaan. Kapt. Hwang, van die Nasionale Leër, begin van buite die stad bomme op die kommuniste gooi. Gedurende die een nag het die bomme al hoe nader aan die Hillise se huis begin val. Die huis langsaan is getref en al die inwoners is gedood. Die Hillise se huis gaan die volgende wees. Dick, Margaret en die vier kinders het in ’n hoek van die kamer bymekaar gehurk toe ’n bom baie naby aan die huis ontplof. Pleister en glas het om hulle gereën. Die huis bewe onder die aanslag van die bom en die kinders gil. Die gesin maak hulle gereed vir die laaste oomblikke en wag vir die volgende bom. Skielik hou die bombardement op. Na ’n rukkie kom die Hillise versigtig uit hulle hoek uit. Die kamervloer lê vol puin, maar nie een van hulle het iets oorgekom nie. Na ’n rukkie begin Dick die kinders een vir een in die bed sit. Hy kniel langs die jongste dogter, Margaret Anne, se bed. Hy sien ’n stukkie papier onder haar kopkussing uitsteek. Op die velletjie papier, in kinderhandskrif, staan: “God is our refuge and strength, a very present help in trouble” (Ps.46:2). Hieroor skryf Jan Winebrenner: “During the Chinese nights of terror, little Margaret Anne had been resting on a very big verse from a very faithful God.”
“Here, vandag skuil ek in my nood by U.”

Wo 6 Aug: Die Uithou

Skrifdeel: Galasiërs 5: 13 – 26

“Laat julle lewe steeds deur die Heilige Gees beheers word, dan sal julle nooit swig… nie” (16)

Onder die naam Percy word in Paul Lee Tan se boek, Encyclopedia of 7 700 Illustra­tions, vertel van die 87-jarige ou man Firmin Abautiz. Ek haal Percy aan: “He was a person of such a serene disposition, that he was not known to have been out of temper during the whole of his long life.” 

Hierdie getuienis oor hom, deur die wat hom geken het, is deur an­der mense in twyfel getrek en hulle het besluit om dit te toets. Hulle het sy huishoudster van 30-jaar­lank oor­gehaal om, teen betaling, hom kwaad te maak. Wetende hy hou daarvan dat sy bed elke ogg­end netjies en gemaklik op­ge­maak word, slaan sy dit oor. Die volgende og­gend met ontbyt sê Abautiz dit vir haar. Sy maak die verskoning sy het vergeet. Die og­gend daar­na gebeur dit weer en weer bring Abautiz dit onder haar aandag. Sy maak weer `n flou ver­sko­ning. Die derde dag sê Abautiz vir haar. “Jy het weer nie my bed opgemaak nie. Dit lyk my jy het besluit om dit nie meer te doen nie. Ek dink dit is vir jou `n lastige taak. Dit maak nie reg­tig saak nie. Ek begin dit al­reeds gewoond raak.” Geraak deur haar mees­ter se geduld en vrien­delikheid, vertel sy hom die hele storie. Hulle lag albei daaroor en hy gee haar `n geldgeskenkie om op te maak vir die geld wat sy sou kry.

Ek wens Percy het vir ons meer beson­der­hede oor Firmin Abautiz se verhouding met die Here gegee, want sy gedrag was teen­stry­dig met die ingebore, sondige natuur van die mens wat maklik geïrriteer en ongeduldig raak. Deur ons verbintenis met Christus bring die Heilige Gees `n ander lewensbenadring in ons hart na vore: “Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het…” (Ef.5:2). “Wees…me­de­ly­dend, liefdevol, goedhartig, nederig. Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met bele­dig­ing nie…antwoord met `n seënwens… Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na… (1 Pet.3:8,9,11,15).

“Here, vandag verlang ek na u manier van lewe.”

Di 5 Aug: Begrawe die verlede (2)

Skrifgedeelte: Rom 7:25

"Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?"

In die tyd van die Nuwe Testament was die doodstraf soms uitgevoer deur die slagoffer op die moordenaar se rug vas te bind. Orals waar hy gaan, is hy letterlik neergedruk deur sy misdaad, met geen manier om van die stank van die verrottende liggaam weg te kom nie. Uiteindelik sou die bakterië van die lyk hom ook besmet en sou hy 'n pynlike dood sterf. Sommige dae het Paulus die gewig van sy ou natuur voel druk, dit het hom herinner aan die dinge uit sy verlede wat hy nooit kon vernader of verdelg nie. Juis omdat hy besef hoe gebeure uit die verlede die hede kan beinvloed, beskryf hy homself as 'n "Ellendelige mens" en vra dan, "Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?"

Dit is 'n feit dat jy nie kan aanbeweeg met die "ou mens" wat steeds aan jou klou nie; jy moet hom begrawe. Selfs die dood het nie die finaliteit wat 'n begrafnis het nie; 'n deel van die genesingsproses is om afsluiting te kry deur van die liggaam ontslae te raak. Begrafnisse is vir die lewendes; dit gee mens kans om te aanvaar dat hul geliefde weg is en dat die verhouding wat hulle gehad het verby is. Soos jy die nuwe jaar ingaan is dit dalk tyd dat jy ophou om die verlede op jou rug (en jou gemoed) saam te dra. Paulus sê, "Stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is" (Rom 6:13). Met ander woorde, weier dat ou herinneringe 'n houvas op jou kry. Begrawe hulle en doen dit vandag nog. Jy kan nie bekostig om 'n geheime liefdesverhouding met 'n lyk te hê nie! Dit is tyd vir 'n grafskrif, nie 'n oorlewing nie! Daar is dinge in die lewe wat die moeite werd is om te herleef, maar nie die sondes waarvoor Jesus betaal het  en lank al vergewe het nie.

Ma 4 Aug: Begrawe die verlede (1)

Skrifgedeelte: Rom 6:4 NV

"Sodat  ... ons ook so 'n nuwe lewe kan lei"

Sommige mense bly tot  middernag wakker om die Nuwe Jaar te begroet. Ander bly wakker om seker te maak die ou jaar gaan verby! Op 'n ernstige noot, soos jy die Nuwe Jaar ingaan, kan jy nie bekostig dat die verlede jou hede vergiftig, of jou toekoms saboteur nie. Dit is hoekom sommige dinge wat nie gesond word nie, laat gaan en vergeet moet word! Daar is mense wat God aanbid elke Sondag in die kerk, maar wat in privaatheid van hul eie huise wakker lê en ou koeie uit die sloot grawe, krap aan ou wonde en ou herinneringe laat herleef. Jy moet aanvaar dat sekere sake nooit opgelos sal word nie en dat hulle in jou kop sal bly as jy hulle dit toelaat.

Dank die Vader dat Paulus eerlik genoeg was om te erken dat hy ook wroeginge gehad het. Hy was nie soos ander met 'n skynheilige gees nie. Hy het nie ander veroordeel vir dinge wat hy self gedoen het nie. Paulus sê: "Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee wat die wet goed is. Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon" (Rom 7:15-18) "Dankie Paulus" van die res van ons wat gedink het dat ons wroeginge sal ophou sodra ons Christene word! Dan sê Paulus, "Onthou dat ook julle vir die sonde dood is" (Rom 6:11); "Net soos wat Christus uit die dood opgestaan het ... moet ons ook in ons nuwe lewens gaan." Met ander woorde, hou op om ou sake oop te krap; erken dat dit gebeur het, los hulle uit en vergeet van hulle! In plaas daarvan probeer mense verander aan dit wat nie verander kan word nie. Laat God se nuwe krag deur jou lewe beweeg en die band verbreek tussen jou en al daardie herinneringe. Laat hulle vandag nog gaan, in Jesus se Naam!