Wo 29 Okt: Lewenswaarde

SKRIFDEEL: Kolossense 2: 6 – 15

“In Hom is die volle wese van God beliggaam, en in ver­bondenheid met Hom deel julle in sy volheid” (9).

Marvin Bauer vertel die legende van drie groot bome wat in die woud gestaan het. Elkeen het ’n eie ideaal gehad, vir die dag wanneer hy afgekap word. Dit is ’n gemaakte legende om ’n belangrike vraag mee te antwoord: Wat bring waarde in ’n mens se lewe?

Die een boom het verlang om vir ’n sierlike paleis ge­bruik te word en só beroemd word. Die twee­de een wou vir ’n groot skip gebruik word en só roem verwerf. Die derde een wou bly staan net waar hy is, bo al die bome uitgroei en opwys na God toe en bewonder word. Op ’n dag het die houtkapper gekom en die eerste een af­ge­kap. Die hout is gebruik om ’n stal mee op te rig. Die tweede is afgekap en gebruik om ’n vissersboot mee te bou. Die derde is afgekap en gebruik om ’n kruis mee te maak. Hierdie wending, anders as hulle eie beplanning, het die drie bome onvergeetlik gemaak. Die Koning van die Hemel, Jesus, is in die stal gebore en sy warm lyfie het op die plank van die boom, waarmee die krippie gemaak was, gelê. Jesus, die Meester van die hemelse koninkryk, en sy dissipels, het in die vis­sers­boot op die see gevaar, en Jesus se voete het direk getrap op die hout van die tweede boom. Jesus die Verlosser is vas­ge­slaan aan die derde boom se balke en sy bloed het oor hierdie boom se hout gevloei.

Hierdie drie bome se geskiedenis het geseënd en vir hulle ten goede verander, omdat die Here Jesus in­getree het. Elkeen se ideaal vir ’n nuttige lewe is ver­vul, maar anders en hoër as wat hulle dit ooit vir hul­leself sou kon bewerk Wanneer Jesus in ’n lewe in­tree, vul Hy die hart met volheid van lewe en be­vre­diging: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê… in oorvloed”(Joh.10:10).

Oor die verlore seun het iemand daaraan gedink dat die seun weggegaan het, want hy het deftige kle­re en egte leerstewels begeer, juwele vir sy vingers, goeie kos, plesier. Die ver land het treurig in sy ver­wagtinge misluk. Toe kom hy terug, en wat kry hy by sy pa: “Bring klere, die beste…en skoene… bring ’n ring vir sy vinger…bring die vetgemaakte kalf…laat ons feesvier…Toe het hulle begin feesvier” (Luk.15:22). Die vervulling van die diep behoeftes van die mens­li­ke hart word in ons ewige God gevind. Ontmoet Jesus en word ryk in u siel!

“Here, vandag draai ek weg van die wêreld af na U toe.”