Vry 10 Okt: Onfeilbare Helper

Lees Psalm 62: Ou Vertaling

“Ja, my siel is stil tot God; van Hom is my heil” (2)

Ek wil graag `n persoonlik storietjie vertel, maar u moet u dit sowat 6 jaar gelede probeer voorstel. Riekie en ek het by ons kinders, Philippus en Karen en klein Lisé-Marie en Arno op Vryheid gekuier. Dit was `n rukkie na u gedeel het in die vreugde, tydens ’n oggenddiens in die Kokanjesaal, wat ons dominees groothartig aan my afgestaan het, om klein Arno te doop. `n Groot deel van u, Kokanje-inwoners, het dit met groot liefde meegemaak. Ek vertel nóú `n storietjie van toe hy begin kruip het. Hy het ook sy oupa teen dié tyd al bietjie leer ken.

Ek staan dié oggend in die hoek van ons slaapkamer by die kinders, en hy sit in die oorkantste hoek, by ’n hoërige trappie, wat hy moet uitklouter om dieper in die huis in te gaan. Na ’n paar mislukte pogings gaan hy by die trappie sit. Ek sien hy meet my, maar dit is vir ’n onbedrewe kruipertjie ‘n ver ent om af te lê na sy oupa toe. Hy kom egter tot ’n besluit en begin na my toe kruip. Eintlik skuif-skuif hy voetjie vir voetjie oor die growwe mat vorentoe. Ook nog, by ’n hopie kleurvolle speelgoed, verby. Ek hou hom dop en wag vir hom. As hy moeilikheid optel, gaan ek hom dadelik help. Hy kom uiteindelik tot by my, gaan sit plat op sy  boudjies en steek sy dik armpies op na my toe. Dadelik buig ek af, tel hom op, druk hom teen my vas, soen tederlik sy sweterige nekkie, praat sag met hom, en toe dra hom die trappies op en na sy ma toe. Ek het geweet dit is waar hy eintlik met sy honger magie wou wees.

Dié ervaring het met my gepraat. Die Bybel se oorvloedige getuienis is, God verwelkom iemand wat na Hom toe kom, met hartlikheid. Meer as wat dit my behaag het, dat my kleinseuntjie na my toe gekruip het, behaag dit Hom, ons Vader, wat ons lief het met ’n liefde wat ons nie kan peil nie, as ons doelgerig na Hom toe gaan vir hulp en soms selfs met die poging sukkel. As ons trappies in ons lewe nie kan uitkom nie, en ons beweeg doelgerig na Hom toe, dan kom Hy ons self tegemoet en Hy tel ons op, dra ons maklik, ons moeilike trappies uit, en neem ons na dít toe waaraan ons behoefte het. “Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees. Ek het die Here my God gekies as my toevlug!“ (Ps.73:28). “…laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsversekerdheid” (Heb.10:22). “Nader tot God en Hy sal tot julle nader” (Jak.4:8). God soek ons aandrang vir hulp by Hom. Hy belowe hulp as ons dit by Hom gaan soek. Gaan soek sommer nou die hulp wat u nodig het, al vind u dit nogal bietjie moeilik in die begin. Glo sy liefde, glo sy wysheid, glo sy krag.

“Here, vandag doen ek dit: Ek nader tot U en verwag U sal my in u arms optel en my sake regmaak.”