Do 30 Okt:'n Skoon Hand

SKRIFDEEL: Jesaja 1:12-18

“’Kom nou en laat ons die saak uitmaak,’ sê die Here: ‘al was julle sondes soos skarlaken, dit sal word soos sneeu…’” (18).

’n Fabel word vertel van ’n Indiese koning wat ’n dief die doodstraf opgelê het. Die dief het die tronkbewaarder geroep en vir hom gesê, hy het ’n groot geheim wat hy aan die koning wil oordra. Die koning is ingelig en hy het die oortreder na hom toe laat bring. Die man het onder groot geheimhouding vir die koning vertel, hy het ‘n saadjie wat bome laat groei wat goue vrugte dra. Deur gierigheid ge­dring, besluit die koning om ‘n maklike eksperiment te doen. Hy laat sy eerste minister, die burgemees­ter en sy priester kom. Hul­­le neem die man na ’n be­skut­te stuk grond toe en sê hy moet sy saadjie plant. Die dief roep ’n paar towerspreuke uit, haal ’n krummel­tjie goud uit sy sak en sê: “Plant hierdie saadjie en ’n boom wat goue vrugte dra sal groei.” “Nou maar, plant dit dan,” sê die koning ongeduldig. “Net ’n hand on­be­vlek van enige oneerlikheid mag dit plant, anders word die to­wer­krag ge­breek,” sê die man. “Diefstal het my hand vuil gemaak. Plant u Ma­jesteit dit.” Hy gee die stukkie goud vir die ko­ning aan. Die koning hou die kor­rel­tjie goud on­se­ker vas, toe sê hy: “As seun het ek uit my pa se laai geld geneem. Ek kan nie sê my hande is skoon nie. Ek dra dit oor aan my Eerste Minis­ter.” Die Eer­ste Mi­nister staan verleë met die stukkie goud in sy hand. “Ek vorder belas­tings in. Miskien het ek al ietsie vir myself geneem. Ek gee dit liewer vir die burge­mees­ter.” “Nee!” skreeu die burgemees­ter en hou sy hande agter sy rug. “Ont­hou ek moet pen­sioene en salarisse uitbetaal en daar is baie ver­soekings. Gee dit liewer vir die pries­ter.” Die pries­ter hou sy hande toe en draai weg. “Ont­hou ek ontvang offer­gawes en bely­de­nis­gelde. Moont­lik het ek al ietsie on­we­tend vir myself ge­neem.” Na ’n rukkie van stilte sê die veroordeel­de dief: “U Majesteit, ek dink dit sal vir die ge­meen­skap beter wees as ons al vyf gehang word, want lyk my nie een van ons is regtig eerlik nie.” Verleë oor die ont­mas­kering van sy koninklike hof, maar tog in­ge­nome met die dief se slim streek, gee die koning hom sy kwytskelding.

Dit is hoe die Here Jesus die Fariseërs se ge­veinsd­heid ontmasker het toe hulle die vrou, wat op ’n daad van owerspel betrap is, na Hom toe gebring het om haar te veroordeel. “Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het (‘sonder son­de is’ – Ou Vertaling), eerste ’n klip op haar gooi” (Joh.8:7). Net Jesus was sonder sonde. Só ’n ver­losser het ons no­dig!

“Here, vandag vlug ek met my sondeskuld na U toe.”