Wo 1 Okt: Kosbare Bybel

Lees 1 Timoteus 4:6 – 16

“…sal jy ‘n goeie dienaar van Christus Jesus wees wat jouself voed met die woorde van die geloof en die goeie leer waarvan jy ‘n aanhanger geword het” (6).

In The Living Power of God’s Word vertel Dennis M. Mulder, wat geestelike werk onder die Sjinese doen, dat hy in ‘n kerk in Shangai langs ‘n vrou, in haar middesestiger jare, sit. Die aandagtige wy­se waarop sy na die preek luister en die eerbiedige ma­nier waarop sy die sangbundel hanteer, tref hom. Wat hom aangryp is haar verminkte hande. Dit lyk of haar vingers, teen mekaar gestrengel, ver­steen het. Na die diens spreek hy haar aan: “Het jy ‘n Bybel?” Verras dat hy haar in haar eie taal aanspreek, met ‘n gretigheid in haar houding, ant­woord sy nederig: “Nee, ek het nie ‘n Bybel nie.” Hy is nie verbaas oor haar antwoord nie, want hy weet in die hele kerk is nie veel meer as tien of vyftien  By­bels beskikbaar nie. “Ek vetrek more,” gaan Den­nis verder, “en ek het twee Bybels in my hotel­kamer. Kan ek dit vir jou en een van jou vriende gee?” Sy is dadelik gewillig. Saam stap hulle na sy hotel toe. Hy vra haar na haar hande.

“Gedurende die kulturele rewoluse hier in ons land,” vertel sy, “het die Rooi Wagte my huis binne ge­kom en deursoek vir Bybels. Ek het my Bybel in die koue as van my stoof wegge­steek, maar hulle het dit daar gekry. Een van die wagte het dit in sy han­de gehou, maar ek het dit uit sy hande gegryp en teen my vasgedruk. ‘Gee vir ons daardie boek vol mites!’ het hulle geskreeu, maar ek het dit vasge­klou. ‘Ek kan dit nie vir julle gee nie,’ het ek terug geskreeu. ‘Dis al wat ek het om my van Jesus, my Here, te vertel!’ Hulle het kwaad geword en my buite toe gesleep en my klere van my afge­stroop. Hulle het die omstanders beveel om my te be­le­dig en op my te spuug. Na ure in die warm son het hulle weer geskreeu: ‘Gee daardie boek!” Ek het weer geantwoord: ‘Ek kan dit nie prysgee nie. Dis al wat ek van Je­sus, my Here en Verlosser, weet.” Hulle het my op die sy­paad­jie platgegooi. Een van hulle het sy voet op my nek gesit en die ander drie het met loodpype oor my han­de begin slaan. Hulle het aangehou totdat daar geen ge­voel meer in my hande was nie. Die Bybel het uit my hande, in die stof op die sypaadjie, gegly. Die skare het ge­juig. Dit was die laaste keer dat ek ‘n Bybel in my hande gehou het.”

Dennis sê dit het hom net minute geneem om na sy ho­­telkamer toe te gaan en die twee Sjinese Bybels te bring. Toe hy seker is niemand kyk nie, het hy die Bybels in haar verminkte hande gesit. Sy kon nie praat nie. Sy het net met groot, traangevulde oë na hom gekyk. Sy het om­­ge­draai en in die stroom van verbygangers verdwyn. Hy het haar nooit weer gesien nie, maar hy skryf: “That day in Shangai I saw how precious the Word of God can be to someone.”

Ons is maklike besitters van Bybels. Hoe kos­baar is die Woord vir ons? The Baptist Challenge skryf ‘n op­na­me het aan die lig gebring, dat 23% van mense wat ‘n Bybel het dit nie lees nie. Net 18% van belydende Chris­te­ne het gesê hulle lees die Bybel elke dag. 18% het gesê hulle lees dit van drie tot ses keer per week. Bybelle­sers het gesê hulle be­stee gemiddeld 22 minute per dag aan die lees van hul­le Bybel. (Die Bode Aug.1997)

Die Bybel is die voedingsbron van ons geestelike lewe. Pe­trus noem God se woord die “onvervalste melk van die woord” (1 Pet.2:2). Christus het gesê: “Daar is geskrywe: ‘n Mense leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom” (Mat.4:4). Vir ‘n gesonde, groei­ende geestelike lewe, het ons nodig om God se woord gereeld, daagliks te lees.

“Here, vandag en elke dag wil ek u Woord lees.”