“Vra, en vir julle sal gegee word… want elkeen wat vra, ontvang… (7,8).
In The Railway Messenger van Julie 1969, skryf R. Barr hoe hy een oggend in Port Elizabeth, in sy hotelkamer, die Here se leiding vra oor ’n kinderboodskap wat hy die volgende oggend voor ’n groot groep kinders moet lewer. In die stilte van sy hart weet hy so duidelik, asof dit vir hom gesê word, hy moet oor die appel en die roos met die kinders praat. Dit is een van sy goeie kinderpreke, maar hy het ’n ryp appel en ’n bloeiende roos vir dié demonstrasiepreek nodig. Weer kom dit in sy hart – hy moet vir die appel sorg, die Here sal sorg vir die roos. Dis goed. Hy het nie veel geld nie, en appels is daardie tyd van die jaar nie so duur soos rose nie. Van die hotel af loop hy met Whites Way na die hoofstraat toe. Op pad koop hy ’n pragtige ryp appel. ’n Gedagte kom in sy hart: moet hy nie vir veiligheid liewer die onkoste maak en ’n roos ook koop nie.” Hy weerstaan die versoeking en sê in sy hart: “Die Here het belowe om vir die roos te sorg.” Hy loop terug na sy hotel toe. Weer kom ‘n gedagte in hom op: net om die hoek, voor hy by die hotel kom is daar ’n goeie blommewinkel en hulle sal sekerlik rose hê. ’n Waarskuwing flits in sy hart: “Gaan na jou hotelkamer toe tot na een uur, wanneer al die blommewinkels op ’n Saterdag toemaak.” Hy kon ’n bus haal, maar hy besluit om hotel toe te stap. Later het hy gesê: “Het ek tog maar ’n bus gehaal!” Halfpad op met die steil straat, gaan hy ’n oomblik staan om te rus, en daar, net waar hy tot stilstand kom, is ’n blommewinkel. Hy skryf: “Surely this was guidance! Surely I was meant after all to buy a rose! I had forgotten that there were such things as devil’s coincidences.” Hy stap in. Op die toonbank is pragtige rose uitgestal. Hy koop twee en loop uit. In sy hart is nie vrede nie. Die rose hinder hom. Vertrou hy dan nie die Here nie? Daardie aand spreek hy ’n groot vergadering vir volwassenes toe. Toe hy uit die saal stap, wag ’n paar mense vir hom in die voorportaal. ’n Vrou stel haarself aan hom voor. Sy en haar vriende het tagtig kilometer ver gekom om die geleentheid by te woon. En hulle bly oor vir Sondagoggend se kinderdiens. Sy sê hulle weet hy is lief vir blomme en het vir hom ’n mandjie blomme gebring. “Moet tog net nie sê dis rose nie!” roep hy uit. “Ja,” sê sy. “Almal is rose”. Vyftig pragtige, groot rose! Hy sluit sy storie af: In my heart the Voice was painfully clear: ‘O, you of little faith! Did I not tell you that I would see to the roses? Wherefore didnt thou doubt? Are not all the gardens of the world mine? What are a few roses to Me?’” Ons behoefte is dat die Heilige Gees in ons ’n vertrouende hart sal opwek en laat groei.
“Here, vandag vertrou ek U om my behoefte te voorsien.”