“Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting” (3).
Eerw. C. D. Honeyford vertel van ’n jong hulpprediker, wat een sonnige namiddag in die lente van 1776 gaan stap het. Sy pad het deur ’n kloof, met hoë kalkbanke aan weerskante en ongeveer 4km. lank, gelei. Hy het die oefening en die natuur om hom so geniet, hy het nie gemerk die weer steek op nie. Toe hy uiteindelik opkyk en die donker, donderwolke bo hom sien, draai hy om en haas hom huis toe. Die storm oorval hom egter. Reën begin in strome op hom neerstort. Hy sien ’n spleet in een van die kalkrotse en hardloop daar in. Uitasem en nat staan hy in sy skuilplek. Hy hoor die donder en sien die aanhoudende weerlig, soos die storm oor hom verbytrek. Self is hy veilig en be-skut. Diep geraak haal hy sy sakboekie en potlood uit ’n binnesak. Hy begin skryf en so neem Augustus. M. Toplady se lied, wat vir ons almal al tot soveel seën was, vorm aan:
Jesus, Rots vir my geslaan, laat my nie verlore gaan!
U was self van God verlaat. Laat u lyding sonder maat,
My tot heil wees en tot krag teen die sondeskuld en –mag.
En ek self – wat kan ek doen om my sonde te versoen?
Sou my hart met ywer gloei, sou my trane ewig vloei –
Nòg gebede, nòg geween kan my red, Heer; U alleen.
Leeg, net met my sondelas, hou ek u verdienste vas.
Ek kom om vergewing vra; U het ook my skuld gedra!
U,geslaan tot heilsfontein, wás my, Heiland, maak my rein!
Heer, my Rots, bo almal groot staan U vas in elke nood.
Trou van mense kom en gaan, maar U bly onwrikbaar staan.
Eew’ge Rots, U laat ook my, veilig, ewig in U bly!
Toplady se lied verhef die Here Jesus Christus as ons onfeilbare skuilplek. Hy word aan die kruis voor ons opgehef. Dít is wat die lied onverganklik maak. “’En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek.’ Dit het Hy gesê en daarmee ook aangedui op watter manier Hy sou sterwe” (Joh.12:32). Die boodskap van Jesus se kruisdood trek ons hart na Hom toe.
“Here, vandag vlug ek in U as my ewige skuilplek in.”