“…die Skrif sê naby jou is die Woord, in jou mond en in jou hart” (8)
‘n Ou man het met sy kleinseun in die berge gebly. Die knaap het probeer naboots wat Oupa doen. Elke oggend douvoordag, staan Oupa op, kry die ou koolstoof aan die brand, gaan sit dan by die kombuistafel en lees uit sy gehawende ou Bybel. Die kleinseun het dan ook sy Bybel gaan haal, en net soos Oupa by die kombuistafel gaan sit en lees. Maar iets het die knapie gepla: “Oupa, ek weet nou nie so mooi nie”, sê hy een oggend, “ek probeer ook die Bybel lees soos Oupa, maar ek verstaan nie wat ek lees nie. En as ek iets verstaan, dan waai dit by my ore uit, en netnou het ek alles vergeet wat ek gelees het. Ek meen – wat is nou die nut daarvan as ek tóg alles vergeet?” Oupa het diep gedink, en toe sien hy ‘n leë steenkoolsak, pikswart gevlek van die roet, lê langs die stoof lê. “Boetie, gaan haal vir Oupa ‘n sak vol water in die stroompie hier onder”, vra hy die seun. Gretig om Oupa te plesier, spring die knaap daar weg met sy goiingsak af stroompie toe. Met die druppende sak hardloop hy terug huistoe. Natuurlik was die sak leeg teen die tyd dat hy by Oupa aankom. “Ai man!”, sug Oupa. “Jy sal maar weer moet gaan probeer jong!” Die knapie suiker weer af riviertjie toe met sy sak. Die outjie hol terug met sy sak water so vinnig as wat sy beentjies hom kan dra, maar steeds is dit verniet. “Nee Oupa,” blaas hy uitasem. “Dis onmoontlik – hierdie sak lek!”, en daarmee gooi hy die sak eenkant en gryp ‘n emmer. “Nee Boetie”, keer Oupa hom, “ek wil nie ‘n emmer water hê nie, ek wil ‘n SAK water hê! Toe jong, jy kan dit mos doen!” Die seun besef hy is besig met ‘n gejaag na wind, maar hy wou só graag vir Oupa plesier. Met sy lekkende vrag hardloop hy so vinnig as wat hy maar kan, die bultjie op terug na Oupa toe. “Nee Oupa, dit werk nie!”, huil-sê die outjie moedeloos. “Kyk hoe hard probeer ek, maar niks gebeur tog nie!” “Dink jy rêrig niks het gebeur nie?” vra Oupa. “Kyk dan ‘n slaggie na die sak. Wat sien jy anders aan die sak as toe jy begin het?” Met ‘n vraag in sy oë bekyk hy die sak – wat kan Oupa tog bedoel? Skielik besef hy dat die sak skoon is – al die steenkoolstof is uitgewas! “Oupa, die sak is skoongewas!” “Boetie”, sê Oupa, “dis wat gebeur wanneer jy die Bybel lees. Miskien verstaan jy nie alles wat jy lees nie, en dalk vergeet jy amper alles, maar terwyl jy lees gebeur iets met jou – jou binnekant verander – jy word as’t ware skoongewas van binne af terwyl jy die Bybel lees.”
In die Bybel praat God met ons en dit dring deur na ons innerlike lewe toe en bring nuutheid en krag. “Hoe kan `n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord!…Laat u Woord my op die regte pad hou…” (Ps.119:9,133)..
“Here, vandag lees ek u Woord met my hart.”