Di 21 Okt: 'n Skadelike Plant

SKRIFDEEL: Hebreërs 12: 14 – 17 Ou Vertaling

“…en pas op…dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie” (15)

Een koue oggend kyk ’n ma en haar dogtertjie deur die kombuisvenster, na die koeie wat in ’n draad­­kampie, staan en wag om water te kry. Hulle staan rus­tig en herkou. Een koei wil omdraai en stamp daarmee teen die koei naaste aan haar. Dadelik skop die koei terug, maar skop ’n ander koei raak. Dié skop ook en tref ’n ander een. Binne vyf minute, skryf Gospel Herald, is daar in die kampie ’n gemaal en gegaffel en skoppery. Die ma lag en sê vir haar dog­ter­tjie: “My skat, het jy nou gesien wat kom daarvan as jy terugskop as jy ’n stampie kry. Ek het al gesien hoe één kwaai woordjie ’n hele familie aan die gang sit om te baklei en vir mekaar kwaai dinge te sê.” ’n Rukkie later irriteer die dogtertjie se boetie haar. Net voor sy op hom skree, tree die ma tus­senbei: “Stadig kinders. Onthou hoe die bakleiery in die kampie begin het. Moet nooit terugskop as jy ’n stamp kry nie. So sal julle baie moeilikheid voorkom.”

In die sendbriewe waarsku die apostels die Chris­tene gedurig teen die sondige natuur se neiging om ru­sie te maak. In die teks bo (Heb.12:15) is ’n paar merkwaardige woorde. Rusie begin met ‘n wortel van bitterheid. ’n Klein begin, ’n wortel so fyn soos ’n ga­re­draad, kan tot ’n groot doringbos groei. Die rusie ont­­wikkel vinnig: opskiet. In die oggend is mense nog vriende en teen middag kan hulle kwaaivriende wees as gevolg van ’n onbenullige insident. ’n Slegte ge­­volg word beskryf: onrus verwek. Die vrede en har­monie is weg. Daar is ’n wye uitwerking wat volg: baie besoedel word. Daarom sê die apostel : pas op. Selfs Abraham het dit nie ontkom nie, maar hy het oorwin: “Toe sê Abraham vir Lot: Daar behoort nie ’n getwis te wees tussen my en jou …..nie, want ons is familie” (Gen.13:8). . Selfs van Paulus en Bar­na­bas lees ons: “Daar het toe ‘n verbittering ontstaan, sodat hulle van mekaar geskei het…” (Hand.15:39 Ou Vert.). Ons is veilig teen hierdie bekende, maar ska­de­like optrede, as die Heilige Gees ons lewe beheer. Die rusie ontstaan juis omdat iemand in die genade ver­agter het. Met die Christene in Galate het dit in hulle onderlinge verhoudinge nie goed gegaan nie. Paulus skryf aan hulle: “…julle byt en verskeur me­kaar…” (Gal.5:15) en dan gee hy vir daardie Christene die oplossing vir slegte verhoudinge met mekaar – dit sluit alle soorte verhoudinge in: met bure, gesins- en familielede, werksmaats, gemeentelede: “Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie…Die vrug van die Gees is: liefde, vreugde, vrede, … ” (Gal.5:16,22).

“Here, vandag open ek my hart om deur u Heilige Gees beheer te word”