“Die ou liggaam wat begrawe word, gaan tot niet… as God ons uit die dood lewendig maak, gee Hy vir ons ‘n nuwe liggaam wat nooit weer vergaan nie” (42).
Walter B. Knight skryf in sy boek Treasury of Illustrations dat dr. E. R. Bull ’n sendeling was op die Ryukyu Eilande, ’n reeks eilande wat voorheen aan Japan behoort het. Op die eiland Amajusa, kom hy af op ’n kolosale graf. ’n Rotsblok dui die plek aan. Op die rotsblok is geskryf: “Hier lê 11,111 koppe van Christene”. Die jaartal word aangegee: 1637. Dit was die jaar toe die Japanese al die Christene wou uitwis. Slegs die koppe is in daardie graf begrawe. Die liggame is elders in ’n ander graf begrawe. Dit was vreemd vir dr. Bull. In Nagasaki doen hy oor die verskynsel navraag. Hy is toe meegedeel die sendelinge het met groot klem, oor die opstanding van Christus en alle Christene gepreek. Die bevolking se godsdiensleiers wou seker maak die opstanding van die Christene sal verhoed word. Hulle het dus op die blink idee gekom om die koppe en liggame van die Christene apart te begrawe, om ’n opstanding van die liggame te verhoed.
Ek het hierdie storie vir Neil Verwey, sendeling in Japan (en Riekie se broer) per e-pos gestuur om te hoor of dit waar is en ek dit in ons blad kan gebruik. Sy antwoord: “Ek was ook al by Nagasaki – maar dit is ‘n lang storie en ek het baie verhale van marteling verneem! Jou storie het ek ook al gebruik met opstandingsboodskappe!”
Dáárdie godsdiensleiers van Japan het soos die Sadduseërs in Jesus se tyd, die opstanding nie verstaan nie. Ons verstaan nou ook nog nie hoe die opstanding, van die wat dood is, sal wees nie, want dit lê so ver buite ons ervaringsveld. Die Skrif leer ons dat die opstanding van die dode met Jesus se wederkoms sal geskied. In die woorde van die Die Boodskap-vertaling skryf Paulus in 1 Thessalonisense 4:13-17: “… ons glo mos dat Jesus aan die kruis dood is en dat Hy daarna uit die dood opgestaan het. Wel, net so sal al daardie gelowiges wat voor hulle eie dood in Jesus geglo het, ook saam met Hom terugkeer as Hy weer na ons toe kom… daarna sal al die Christene wat reeds dood is, lewendig word. Ons sal hulle met ons eie oë kan sien. Dan sal ons wat nog lewe, saam met hierdie gelowiges vir Christus in die lug gaan ontmoet. Daarna sal ons almal vir altyd by die Here bly.”
“Here, vandag verheug ek my in die hoop van die opstanding.”