Vry 17 Okt: Depressie

SKRIFDEEL: 1 Konings 19: 1- 8

“…Elia het…’n dagreis ver die woestyn ingegaan. Daar het hy onder ’n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood”(4)

Die bekende Engelse prediker en skrywer Martyn Lloyd-Jones skryf: “Ek twyfel altyd bietjie as ’n Chris­ten voorgee hy of sy ervaar nooit neerslagtigheid nie. Ek betwyfel die woorde van die koortjie: ‘And now I am happy all the day’. Daar is dae wanneer ook die Christen on­gelukkig voel. (Sy eie woorde): “There are these states and conditions of the soul, and the sooner you learn to deal with them and how to handle them, the better it will be for you and for those with whom you live and work.” A. Naismith wat in sy boek hierdie woorde van Dr. Lloyd-Jones aan­haal, skryf so (ook sy eie woorde): “Experience confirms the words of Dr. Lloyd-Jones, for there are very few people indeed who never feel out of sorts, who are always ‘on top of the world’ and never ‘under the weather’; who never have ‘a touch of the blues’ because they are always ‘in the pink’.” Dr. Lloyd-Jones het gemoedsgenesing gevind deur die lees van ’n boek deur Dr. Sibbes: The Bruised Reed, The Soul’s Conflict. Hy sê: “Die boek was bal­sem vir my siel op ’n tydstip in my lewe toe ek oorwerk en oor­­moeg was. That book quietened, soothed, comforted, encouraged and healed me.”

Dawid het hierdie gemoedsdroefheid geken: “Waar­om is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God!” (Ps.42:6). Paulus het dit geken: “…ons het geen rus of duurte gehad nie. Van alle kante was daar druk op ons: van buite onenigheid, van binne sorge. Maar God wat die neer­slagtiges opbeur, het ons ook opgebeur…”(2 Kor.7:5). Die Here Jesus self het dit geken: “Toe het Hy be­droef en beangs geword en vir hulle gesê: ‘Ek voel doodsbenoud…’”(Mat.26:37,38). Daarom is die Here Jesus vir ons so ’n troosvolle toevlug as ons bedruk en benoud voel: “Die Hoëpriester wat ons het is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie…(Heb.4:15).

“Here, vandag kom ek met my bedruktheid na U toe.”