“Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord”(6)
Die noordewind en die son het eenkeer gestry watter een van hulle twee die sterkste was. Hulle het ooreengekom dat die een wat dit kon regkry om ’n reisiger se klere van hom af te stroop, die sterkste sou wees. Die noordewind sou eerste probeer. Met al sy krag storm die wind op die man af en probeer sy klere van hom afpluk. Sy jas fladder, sy serp gryp hy met sy een hand ternouernood vas, voor die wind dit wegwaai, met sy ander hand druk hy sy hoed vas. So algaande kry hy sy klere onder beheer en woel dit stywer om sy lyf vas. Toe is dit die son se beurt. Die sontrale skyn warm op die man neer. Na die wind hom so verwaai het, is dit vir hom baie aangenaam. Die son skyn warmer en die man wikkel sy serp los. Daarna trek hy sy jas uit. Toe sy baadjie. Hy rol sy moue op, knoop sy hemp oop. Sy hoed stoot hy op sy agterkop. Die son het met sy vriendelike warmte reggekry wat die wind nie met sy geweld kon regkry nie.
Veroordeling van ’n ander, verwyte, twis en stryd maak dat die ander persoon homself net meer en meer verdedig, op sy standpunte staan, aggressief raak. Met vriendelikheid en liefde word ’n andereen gewen.
So leer die Here ons in sy Woord ook. ’n Paar wenke uit Spreuke:
“Haat verwek twis; liefde bedek alles wat aanstoot gee” (10:12). “Praat sonder om te dink kan soos dolksteke wees; wyse mense bring genesing met wat hulle sê” (12:18). “’n Sagte antwoord laat woede bedaar; `n krenkende woord laat woede ontvlam” (15:1). “’n Wyse mens praat verstandig en kies sy woorde sodat hy ander kan leer” (16:23). “Wie `n verkeerde optrede teenoor homself verontagsaam, soek goeie verhoudinge; wie ‘n saak bly ophaal, bring verwydering tussen vriende” (17:9). ”Wie antwoord voor hy die vraag gehoor het, is dwaas en kom in die skande” (18:13).
“Here vandag wil ek sag teenoor ander op te tree.”