Vry 31 Okt: Die Sterkste

SKRIFDEEL: Kol. 4:2-6

“Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord”(6)

Die noordewind en die son het eenkeer gestry watter een van hulle twee die sterkste was. Hulle het ooreengekom dat die een wat dit kon regkry om ’n reisiger se klere van hom af te stroop, die sterk­ste sou wees. Die noordewind sou eerste probeer. Met al sy krag storm die wind op die man af en pro­beer sy klere van hom afpluk. Sy jas fladder, sy serp gryp hy met sy een hand ternouernood vas, voor die wind dit wegwaai, met sy ander hand druk hy sy hoed vas. So algaande kry hy sy klere onder beheer en woel dit stywer om sy lyf vas. Toe is dit die son se beurt. Die sontrale skyn warm op die man neer. Na die wind hom so verwaai het, is dit vir hom baie aangenaam. Die son skyn warmer en die man wikkel sy serp los. Daarna trek hy sy jas uit. Toe sy baadjie. Hy rol sy moue op, knoop sy hemp oop. Sy hoed stoot hy op sy agterkop. Die son het met sy vriendelike warmte reggekry wat die wind nie met sy geweld kon regkry nie.

Veroordeling van ’n ander, verwyte, twis en stryd maak dat die ander persoon homself net meer en meer verdedig, op sy standpunte staan, aggressief raak. Met vriendelikheid en liefde word ’n andereen gewen.

So leer die Here ons in sy Woord ook. ’n Paar wenke uit Spreuke:

“Haat verwek twis; liefde bedek alles wat aan­stoot gee” (10:12). “Praat sonder om te dink kan soos dolksteke wees; wyse mense bring genesing met wat hulle sê” (12:18). “’n Sagte antwoord laat woe­de bedaar; `n krenkende woord laat woe­de ont­vlam” (15:1). “’n Wyse mens praat ver­standig en kies sy woorde sodat hy ander kan leer” (16:23). “Wie `n verkeerde optrede teenoor homself ver­ont­agsaam, soek goeie verhou­dinge; wie ‘n saak bly ophaal, bring verwydering tussen vriende” (17:9). ”Wie antwoord voor hy die vraag gehoor het, is dwaas en kom in die skan­de” (18:13).

“Here vandag wil ek sag teenoor ander op te tree.”

Do 30 Okt:'n Skoon Hand

SKRIFDEEL: Jesaja 1:12-18

“’Kom nou en laat ons die saak uitmaak,’ sê die Here: ‘al was julle sondes soos skarlaken, dit sal word soos sneeu…’” (18).

’n Fabel word vertel van ’n Indiese koning wat ’n dief die doodstraf opgelê het. Die dief het die tronkbewaarder geroep en vir hom gesê, hy het ’n groot geheim wat hy aan die koning wil oordra. Die koning is ingelig en hy het die oortreder na hom toe laat bring. Die man het onder groot geheimhouding vir die koning vertel, hy het ‘n saadjie wat bome laat groei wat goue vrugte dra. Deur gierigheid ge­dring, besluit die koning om ‘n maklike eksperiment te doen. Hy laat sy eerste minister, die burgemees­ter en sy priester kom. Hul­­le neem die man na ’n be­skut­te stuk grond toe en sê hy moet sy saadjie plant. Die dief roep ’n paar towerspreuke uit, haal ’n krummel­tjie goud uit sy sak en sê: “Plant hierdie saadjie en ’n boom wat goue vrugte dra sal groei.” “Nou maar, plant dit dan,” sê die koning ongeduldig. “Net ’n hand on­be­vlek van enige oneerlikheid mag dit plant, anders word die to­wer­krag ge­breek,” sê die man. “Diefstal het my hand vuil gemaak. Plant u Ma­jesteit dit.” Hy gee die stukkie goud vir die ko­ning aan. Die koning hou die kor­rel­tjie goud on­se­ker vas, toe sê hy: “As seun het ek uit my pa se laai geld geneem. Ek kan nie sê my hande is skoon nie. Ek dra dit oor aan my Eerste Minis­ter.” Die Eer­ste Mi­nister staan verleë met die stukkie goud in sy hand. “Ek vorder belas­tings in. Miskien het ek al ietsie vir myself geneem. Ek gee dit liewer vir die burge­mees­ter.” “Nee!” skreeu die burgemees­ter en hou sy hande agter sy rug. “Ont­hou ek moet pen­sioene en salarisse uitbetaal en daar is baie ver­soekings. Gee dit liewer vir die pries­ter.” Die pries­ter hou sy hande toe en draai weg. “Ont­hou ek ontvang offer­gawes en bely­de­nis­gelde. Moont­lik het ek al ietsie on­we­tend vir myself ge­neem.” Na ’n rukkie van stilte sê die veroordeel­de dief: “U Majesteit, ek dink dit sal vir die ge­meen­skap beter wees as ons al vyf gehang word, want lyk my nie een van ons is regtig eerlik nie.” Verleë oor die ont­mas­kering van sy koninklike hof, maar tog in­ge­nome met die dief se slim streek, gee die koning hom sy kwytskelding.

Dit is hoe die Here Jesus die Fariseërs se ge­veinsd­heid ontmasker het toe hulle die vrou, wat op ’n daad van owerspel betrap is, na Hom toe gebring het om haar te veroordeel. “Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het (‘sonder son­de is’ – Ou Vertaling), eerste ’n klip op haar gooi” (Joh.8:7). Net Jesus was sonder sonde. Só ’n ver­losser het ons no­dig!

“Here, vandag vlug ek met my sondeskuld na U toe.”

Wo 29 Okt: Lewenswaarde

SKRIFDEEL: Kolossense 2: 6 – 15

“In Hom is die volle wese van God beliggaam, en in ver­bondenheid met Hom deel julle in sy volheid” (9).

Marvin Bauer vertel die legende van drie groot bome wat in die woud gestaan het. Elkeen het ’n eie ideaal gehad, vir die dag wanneer hy afgekap word. Dit is ’n gemaakte legende om ’n belangrike vraag mee te antwoord: Wat bring waarde in ’n mens se lewe?

Die een boom het verlang om vir ’n sierlike paleis ge­bruik te word en só beroemd word. Die twee­de een wou vir ’n groot skip gebruik word en só roem verwerf. Die derde een wou bly staan net waar hy is, bo al die bome uitgroei en opwys na God toe en bewonder word. Op ’n dag het die houtkapper gekom en die eerste een af­ge­kap. Die hout is gebruik om ’n stal mee op te rig. Die tweede is afgekap en gebruik om ’n vissersboot mee te bou. Die derde is afgekap en gebruik om ’n kruis mee te maak. Hierdie wending, anders as hulle eie beplanning, het die drie bome onvergeetlik gemaak. Die Koning van die Hemel, Jesus, is in die stal gebore en sy warm lyfie het op die plank van die boom, waarmee die krippie gemaak was, gelê. Jesus, die Meester van die hemelse koninkryk, en sy dissipels, het in die vis­sers­boot op die see gevaar, en Jesus se voete het direk getrap op die hout van die tweede boom. Jesus die Verlosser is vas­ge­slaan aan die derde boom se balke en sy bloed het oor hierdie boom se hout gevloei.

Hierdie drie bome se geskiedenis het geseënd en vir hulle ten goede verander, omdat die Here Jesus in­getree het. Elkeen se ideaal vir ’n nuttige lewe is ver­vul, maar anders en hoër as wat hulle dit ooit vir hul­leself sou kon bewerk Wanneer Jesus in ’n lewe in­tree, vul Hy die hart met volheid van lewe en be­vre­diging: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê… in oorvloed”(Joh.10:10).

Oor die verlore seun het iemand daaraan gedink dat die seun weggegaan het, want hy het deftige kle­re en egte leerstewels begeer, juwele vir sy vingers, goeie kos, plesier. Die ver land het treurig in sy ver­wagtinge misluk. Toe kom hy terug, en wat kry hy by sy pa: “Bring klere, die beste…en skoene… bring ’n ring vir sy vinger…bring die vetgemaakte kalf…laat ons feesvier…Toe het hulle begin feesvier” (Luk.15:22). Die vervulling van die diep behoeftes van die mens­li­ke hart word in ons ewige God gevind. Ontmoet Jesus en word ryk in u siel!

“Here, vandag draai ek weg van die wêreld af na U toe.”

Din 28 Okt: 'n Stroom wat Skoonmaak

SKRIFDEEL: 1 Timoteus 1:12-20

“…die Skrif sê naby jou is die Woord, in jou mond en in jou hart” (8)

‘n Ou man het met sy kleinseun in die berge ge­bly. Die knaap het probeer na­boots wat Oupa doen. Elke oggend douvoordag, staan Oupa op, kry die ou­ kool­­­stoof aan die brand, gaan sit dan by die kombuistafel en lees uit sy gehawende ou Bybel. Die klein­seun het dan ook sy Bybel gaan haal, en net soos Oupa by die kombuis­ta­fel gaan sit en lees. Maar iets het die knapie gepla: “Ou­pa, ek weet nou nie so mooi nie”, sê hy een oggend, “ek probeer ook die Bybel lees soos Oupa, maar ek verstaan nie wat ek lees nie. En as ek iets verstaan, dan waai dit by my ore uit, en netnou het ek alles vergeet wat ek gelees het. Ek meen – wat is nou die nut daarvan as ek tóg alles vergeet?” Oupa het diep gedink, en toe sien hy ‘n leë steenkoolsak, pik­swart ge­vlek van die roet, lê langs die stoof lê. “Boetie, gaan haal vir Ou­pa ‘n sak vol water in die stroompie hier onder”, vra hy die seun. Gretig om Oupa te plesier, spring die knaap daar weg met sy goiingsak af stroom­pie toe. Met die druppende sak hard­­loop hy te­rug huistoe. Natuurlik was die sak leeg teen die tyd dat hy by Oupa aan­kom. “Ai man!”, sug Oupa. “Jy sal maar weer moet gaan probeer jong!” Die knapie suiker weer af riviertjie toe met sy sak. Die outjie hol terug met sy sak water so vin­nig as wat sy beentjies hom kan dra, maar steeds is dit verniet. “Nee Oupa,” blaas hy uit­asem. “Dis on­moont­lik – hierdie sak lek!”, en daar­mee gooi hy die sak eenkant en gryp ‘n em­mer. “Nee Boetie”, keer Oupa hom, “ek wil nie ‘n emmer water hê nie, ek wil ‘n SAK water hê! Toe jong, jy kan dit mos doen!” Die seun besef hy is be­sig met ‘n gejaag na wind, maar hy wou só graag vir Oupa ple­sier. Met sy lekkende vrag hard­loop hy so vinnig as wat hy maar kan, die bul­tjie op terug na Oupa toe. “Nee Oupa, dit werk nie!”, huil-sê die outjie moedeloos. “Kyk hoe hard pro­beer ek, maar niks gebeur tog nie!” “Dink jy rêrig niks het gebeur nie?” vra Oupa. “Kyk dan ‘n slaggie na die sak. Wat sien jy anders aan die sak as toe jy begin het?” Met ‘n vraag in sy oë be­kyk hy die sak – wat kan Oupa tog bedoel? Skielik besef hy dat die sak skoon is – al die steen­kool­stof is uitgewas! “Oupa, die sak is skoon­ge­was!” “Boetie”, sê Oupa, “dis wat gebeur wan­neer jy die Bybel lees. Miskien verstaan jy nie alles wat jy lees nie, en dalk vergeet jy amper alles, maar terwyl jy lees gebeur iets met jou – jou binnekant verander – jy word as’t ware skoon­gewas van binne af terwyl jy die Bybel lees.”

In die Bybel praat God met ons en dit dring deur na ons innerlike lewe toe en bring nuutheid en krag. “Hoe kan `n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord!…Laat u Woord my op die regte pad hou…” (Ps.119:9,133)..

“Here, vandag lees ek u Woord met my hart.”

Ma 27 Okt: Die Onbekende Oes

SKRIFDEEL: Matteus 9: 35 – 38

“Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry… Hy sê toe vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die arbeiders min” (36,37)

Die Engelse handelsreisiger, Rigby, het op sy kwar­­taalikse rondte deur sy streek, ’n naweek in Eden­burgh moes deurbring. Dan gaan hy tuis in ’n hotel, wat besonder gewild onder die handelsreis­ig­ers was. Sondae gaan hy na St. George’s Church toe, om na Dr. Alexander Whyte, ’n kragtige evan­ge­lie­­pre­diker, te luister. Hy het altyd probeer om een van die ander handelsreisigers, wat ook in die hotel tuisgaan, saam te neem kerk toe. Een keer neem hy ’n Roomskatolieke kollega saam. Dr. Whyte se preek het die man diep getref en terug by die hotel kon Rig-by die vreugde smaak om hom na Christus te lei. Sy hart het hom gedring om Dr. Whyte te bel en hom van die man se bekering te vertel. Hy het gehoor dit bemoedig ’n dominee om te hoor van vrug op sy pre­diking. (Dit is so. Bel gerus u dominee as sy preek in u of ’n kennis se hart seën gebring het!) Dr. Whyte het met vreugde na Rigby se vertelling geluis­ter. “Sê tog asseblief weer wie praat,” versoek Dr. Whyte na­dat Rigby klaar sy storie vertel het. Rigby noem weer sy naam. “Weet jy, jare al soek ek na jou!” roep dr. Whyte uit. “Bly ’n oomblik aan.” Rigby kon hoor hoe daar met papiere gevroetel word. Toe praat Dr. Whyte weer. “Ek staan hier met briewe in my hand. Luis­ter na dié een: ‘Ek moes ’n paar weke gelede ’n na­week in Edenburgh deurbring. ’n Medehandels­reisiger, met die naam Rigby, het my dié Sondag saamgenooi St. George’s toe. Die preek het tot my bekering gelei.’ Ek het 12 sulke briewe in my hand. Van dié manne het 4 predikante geword!”

Rigby het nie geweet van die omvang van die oes, wat gespruit het uit sy getrouheid om iemand met hom saam te neem om die evangelie te hoor nie. Die Here se koninkryk word van mens tot mens in hierdie wêreld voortgeplant. Gelukkig is elkeen wat doelbewus die evangeliesaad saai. Miskien sal hy nooit eers hoor dat daar ’n oes was nie. Iemand anders sal dalk die maaier wees, van die oes waarvan hy die saaiwerk gedoen het. “Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes. Nou al ontvang die man wat oes, sy loon en samel hy die oes in vir die ewige lewe. Die een wat saai, en die een wat oes, saam bly (Joh.4:35,36).

“Here, vandag wil ek ’n saaier van u evangelie wees.”

Vr 24 Okt: Kunstenaar by die Orrel

Lees Galasiërs 5:13-26

“Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie” (16).

In die Senior Teacher word vertel dat die bekende komponis, Mendelsohn, ’n katedraal be­soek het. Hy het gehoor een van Europa se kos­baar­ste orrels word in daardie katedraal gebruik. Hy het ’n rukkie gestaan en luister hoe die bejaarde orrelis op die orrel speel en hom voorberei vir die komende Sondag se kerkdiens. Toe die ou man by die einde van die stuk kom wat hy besig was om te speel, gaan Mendelsohn nader en vra om op die orrel te speel. “Ek ken jou nie,” antwoord die orrelis, “en ons laat nie enigeen op hierdie orrel speel nie. Uiteindelik oorreed Mendelsohn die ou man en hy laat Mendelsohn by die orrel plaasneem. Mendel­sohn begin speel en die kerk word gevul met musiek soos die orrelis nog nooit in sy lewe gehoor het nie. Diep geraak lê hy sy hand op Mendelsohn se skouer. “Wie is jy,” vra hy met ’n ge­broke stem. “Mendelsohn,” antwoord die komponis. Verslae sê die ou orrelis: “Om te dink ek was so dwaas om te weier dat Mendelsohn op my orrel speel!” Die per­soon en die hande wat die orrel bespeel het, het bepaal watter musiek uit daardie orrelpype kon vloei.

’n Mens het ’n wonderlike lewe, met wonderlike eienskappe, want God het die mens na sy eie beeld geskape. Die soort lewe wat uit die mens vloei, sy dade, sy woorde, het bedorwe geraak, want Satan het baas van ons lewensorrel se klawers geword. Solank Satan die orrelis in ons lewe is, sal daar net wanklanke uit ons lewe te voorskyn kom. Met ’n mens se bekering word Jesus die Een wat ons lewe beheer. Soos die ou kerkorrelis kan ons ook weerstand bied en Hom verhinder om sy musiek uit ons lewens te laat voortkom. Die Here Jesus het in sy Persoon teruggegaan hemel toe, maar na Hy verheerlik is het hy die Heilige Gees uitgestort en deur die Heilige Gees woon Christus in sy dissipels. As ons al die klawers van ons lewe oorgee aan die Heilige Gees dan bring hy die musiek uit ons lewens te voorskyn wat God verheerlik, vir ons medemens aangenaam is en in ons hart vrede laat woon. “Ek bid dat God deur sy Gees…aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees”(Ef.3:16).

“Here, vandag gee ek my hele lewe aan U oor.”

Do 23 Okt: Die Helper

Lees Handelinge 1:1-11

“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees…tot in die uithoeke van die wêreld” (8)

’n Sendeling onder die Karrévolk van Frans Ekwatoriaal-Afrika, Estella Myers, wou die be­grip van die Persoon en die werk van die Heilige Gees aan hulle oordra. In Johannes 14:16 word die Heilige Gees in die Engelse Bybel the Com­forter genoem: “And I will pray the Father, and he shall give you another Comforter, that he may abide with you for ever; even the Spirit of truth…”. In ons Ou Vertaling word die Heilige Gees, die Trooster genoem en in die nuwe vertaling word Hy die Helper genoem. Die Christian Herald vertel hoe Stella Myers aan daardie mense die werk van die Heilige Gees probeer verduidelik het. Hy ondersteun ons, het sy vir hulle gesê, en Hy moedig ons aan, vermaan ons, beskerm ons, troos ons en lei ons. Hulle het ’n woord uitgeroep wat beteken: Hy is die een wat langs ons neerval. Sy het geweet wat hulle met hierdie woord bedoel. As ’n As­ka­ri­draer ’n swaar vrag op sy kop dra, en dit is ’n ver pad, word die draer soms siek van vermoeienis. Hy begin uitsak en die ander draers loop by hom verby. Hy raak agter en later val hy onder sy vrag. As hy alleen bly lê kan hy deur ’n roofdier ver­skeur word. Soms ontferm iemand hom oor so ’n draer, kniel langs hom, help hom op en ondersteun hom. Die inboorlinge het vir dáárdie helper ’n woord wat beteken: Hy is die een wat langs ons neerval. Dit het die woord geword, wat die vertalers van die Bybel in daardie mense se taal, vir die Heilige Gees gebruik.

Meeste van ons is te swak, selfs vir ons wêreldse plig­te en laste; ons is almal te swak vir ons gees­te­like lewe vir die Here se koninkryk. Ons het nie ge­loof nie, nie verdraagsaamheid nie, nie motivering om die Here se koninkryk te help uitbrei nie en om te getuig nie, nie lus vir God se dinge, soos sy woord en gebed, nie. Onder al die laste val ons menslike natuur neer en ons word ’n prooi vir die duiwel, “…want die duiwel loop rond soos ’n brul­lende leeu…op soek na iemand om te verslind” (1 Pet.5:8). Die Heilige Gees, wat in ons hart kom woon, wan­neer ons Christus aanneem as Saligmaker, onder­steun ons om ons vrag te kan dra. “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie” (Rom.8:26).

“Here, vandag vertrou ek in die Heilige Gees wat in my woon.”

Wo 22 Okt: 'n Nuwe Omgewing

SKRIFDEEL : Psalm 28

“Die Here is my sterkte en my beskermer, op Hom het ek vertrou. Hy het my gehelp. Daarom is ek bly en wil Hom loof, met my lied” (7).

’n Jong bruid uit die Ooste volg haar man na ’n VSA-weermagkamp, geleë aan die rand van die woestyn in Kalifornië. `n Moeilike leefwyse, met hoë dagtemperature en `n ge­du­ri­ge wind wat alles met sand bestrooi. Die dae was lank en vervelig. Geen bure met wie sy ge­meen­skaplike belange kon deel nie. En toe ver­trek haar man na die gevegs­front! Uit moe­de­loosheid skryf sy vir haar ma sy kom huis­toe. Alles het vir haar net te veel geword.

Haar wyse moeder skryf terug: “Twee man­ne kyk deur die tralies van hul tronkselle; die een sien die modder, die ander een, sterre.” Die jong bruid lees die brief van haar ma oor en oor en sy bid die Here om ’n verandering in gesind­heid te laat posvat. Sy neem `n posi­tie­we houding teenoor haar omgewing in. Sy begin die woestyn bestudeer. Nie lank nie, of sy kom agter die voorheen onherbergsame, af­ge­sonderde woonplek, verander na ’n won­der­wêreld. Sy bestudeer die kaktusplante en ver­sa­mel skulpe wat daar was toe die sand nog deel van die seebodem was! Die kennis wat sy op­doen, maak haar ’n kenner op dié gebied en sy skryf ’n boek daaroor.

Wat het by haar verander? Die woestyn, hitte, sand, wind én die mense was steeds daar. Die verskil is, God het haar gesindheid ver­ander; deur die tralies van haar self­ge­maak­te selvenster het sy nou sterre begin waar­neem!

Met geloof in God, is daar ’n buitengewone verandering van krag wat alle omstandighede kan hanteer. Die blydskap van dié wat geleer het om in Hom te vertrou, is groot!

“Here, vandag vra ek uit u krag nuutheid in my omgewing.”

Di 21 Okt: 'n Skadelike Plant

SKRIFDEEL: Hebreërs 12: 14 – 17 Ou Vertaling

“…en pas op…dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie” (15)

Een koue oggend kyk ’n ma en haar dogtertjie deur die kombuisvenster, na die koeie wat in ’n draad­­kampie, staan en wag om water te kry. Hulle staan rus­tig en herkou. Een koei wil omdraai en stamp daarmee teen die koei naaste aan haar. Dadelik skop die koei terug, maar skop ’n ander koei raak. Dié skop ook en tref ’n ander een. Binne vyf minute, skryf Gospel Herald, is daar in die kampie ’n gemaal en gegaffel en skoppery. Die ma lag en sê vir haar dog­ter­tjie: “My skat, het jy nou gesien wat kom daarvan as jy terugskop as jy ’n stampie kry. Ek het al gesien hoe één kwaai woordjie ’n hele familie aan die gang sit om te baklei en vir mekaar kwaai dinge te sê.” ’n Rukkie later irriteer die dogtertjie se boetie haar. Net voor sy op hom skree, tree die ma tus­senbei: “Stadig kinders. Onthou hoe die bakleiery in die kampie begin het. Moet nooit terugskop as jy ’n stamp kry nie. So sal julle baie moeilikheid voorkom.”

In die sendbriewe waarsku die apostels die Chris­tene gedurig teen die sondige natuur se neiging om ru­sie te maak. In die teks bo (Heb.12:15) is ’n paar merkwaardige woorde. Rusie begin met ‘n wortel van bitterheid. ’n Klein begin, ’n wortel so fyn soos ’n ga­re­draad, kan tot ’n groot doringbos groei. Die rusie ont­­wikkel vinnig: opskiet. In die oggend is mense nog vriende en teen middag kan hulle kwaaivriende wees as gevolg van ’n onbenullige insident. ’n Slegte ge­­volg word beskryf: onrus verwek. Die vrede en har­monie is weg. Daar is ’n wye uitwerking wat volg: baie besoedel word. Daarom sê die apostel : pas op. Selfs Abraham het dit nie ontkom nie, maar hy het oorwin: “Toe sê Abraham vir Lot: Daar behoort nie ’n getwis te wees tussen my en jou …..nie, want ons is familie” (Gen.13:8). . Selfs van Paulus en Bar­na­bas lees ons: “Daar het toe ‘n verbittering ontstaan, sodat hulle van mekaar geskei het…” (Hand.15:39 Ou Vert.). Ons is veilig teen hierdie bekende, maar ska­de­like optrede, as die Heilige Gees ons lewe beheer. Die rusie ontstaan juis omdat iemand in die genade ver­agter het. Met die Christene in Galate het dit in hulle onderlinge verhoudinge nie goed gegaan nie. Paulus skryf aan hulle: “…julle byt en verskeur me­kaar…” (Gal.5:15) en dan gee hy vir daardie Christene die oplossing vir slegte verhoudinge met mekaar – dit sluit alle soorte verhoudinge in: met bure, gesins- en familielede, werksmaats, gemeentelede: “Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie…Die vrug van die Gees is: liefde, vreugde, vrede, … ” (Gal.5:16,22).

“Here, vandag open ek my hart om deur u Heilige Gees beheer te word”

Ma 20 Okt: 'n Rots om in te Skuil

SKRIFDEEL: Psalm 18: 1 – 7

“Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting” (3).

Eerw. C. D. Honeyford vertel van ’n jong hulp­prediker, wat een sonnige namiddag in die len­te van 1776 gaan stap het. Sy pad het deur ’n kloof, met hoë kalkbanke aan weerskante en ongeveer 4km. lank, gelei. Hy het die oefening en die natuur om hom so geniet, hy het nie gemerk die weer steek op nie. Toe hy uiteindelik opkyk en die don­ker, donderwolke bo hom sien, draai hy om en haas hom huis toe. Die storm oorval hom egter. Reën begin in strome op hom neerstort. Hy sien ’n spleet in een van die kalkrotse en hardloop daar in. Uit­asem en nat staan hy in sy skuilplek. Hy hoor die don­der en sien die aanhoudende weerlig, soos die storm oor hom verbytrek. Self is hy veilig en be-skut. Diep geraak haal hy sy sakboekie en potlood uit ’n binnesak. Hy begin skryf en so neem Au­gus­tus. M. Toplady se lied, wat vir ons almal al tot soveel seën was, vorm aan:

Jesus, Rots vir my geslaan, laat my nie verlore gaan!
U was self van God verlaat. Laat u lyding sonder maat,
My tot heil wees en tot krag teen die sondeskuld en –mag.

En ek self – wat kan ek doen om my sonde te versoen?
Sou my hart met ywer gloei, sou my trane ewig vloei –
Nòg gebede, nòg geween kan my red, Heer; U alleen.

Leeg, net met my sondelas, hou ek u verdienste vas.
Ek kom om vergewing vra; U het ook my skuld gedra!
U,geslaan tot heilsfontein, wás my, Heiland, maak my rein!

Heer, my Rots, bo almal groot staan U vas in elke nood.
Trou van mense kom en gaan, maar U bly onwrikbaar staan.
Eew’ge Rots, U laat ook my, veilig, ewig in U bly!

Toplady se lied verhef die Here Jesus Christus as ons onfeilbare skuilplek. Hy word aan die kruis voor ons opgehef. Dít is wat die lied onverganklik maak. “’En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek.’ Dit het Hy gesê en daarmee ook aangedui op watter manier Hy sou sterwe” (Joh.12:32). Die boodskap van Jesus se kruisdood trek ons hart na Hom toe.

“Here, vandag vlug ek in U as my ewige skuilplek in.”

Vry 17 Okt: Depressie

SKRIFDEEL: 1 Konings 19: 1- 8

“…Elia het…’n dagreis ver die woestyn ingegaan. Daar het hy onder ’n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood”(4)

Die bekende Engelse prediker en skrywer Martyn Lloyd-Jones skryf: “Ek twyfel altyd bietjie as ’n Chris­ten voorgee hy of sy ervaar nooit neerslagtigheid nie. Ek betwyfel die woorde van die koortjie: ‘And now I am happy all the day’. Daar is dae wanneer ook die Christen on­gelukkig voel. (Sy eie woorde): “There are these states and conditions of the soul, and the sooner you learn to deal with them and how to handle them, the better it will be for you and for those with whom you live and work.” A. Naismith wat in sy boek hierdie woorde van Dr. Lloyd-Jones aan­haal, skryf so (ook sy eie woorde): “Experience confirms the words of Dr. Lloyd-Jones, for there are very few people indeed who never feel out of sorts, who are always ‘on top of the world’ and never ‘under the weather’; who never have ‘a touch of the blues’ because they are always ‘in the pink’.” Dr. Lloyd-Jones het gemoedsgenesing gevind deur die lees van ’n boek deur Dr. Sibbes: The Bruised Reed, The Soul’s Conflict. Hy sê: “Die boek was bal­sem vir my siel op ’n tydstip in my lewe toe ek oorwerk en oor­­moeg was. That book quietened, soothed, comforted, encouraged and healed me.”

Dawid het hierdie gemoedsdroefheid geken: “Waar­om is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God!” (Ps.42:6). Paulus het dit geken: “…ons het geen rus of duurte gehad nie. Van alle kante was daar druk op ons: van buite onenigheid, van binne sorge. Maar God wat die neer­slagtiges opbeur, het ons ook opgebeur…”(2 Kor.7:5). Die Here Jesus self het dit geken: “Toe het Hy be­droef en beangs geword en vir hulle gesê: ‘Ek voel doodsbenoud…’”(Mat.26:37,38). Daarom is die Here Jesus vir ons so ’n troosvolle toevlug as ons bedruk en benoud voel: “Die Hoëpriester wat ons het is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie…(Heb.4:15).

“Here, vandag kom ek met my bedruktheid na U toe.”

Do 16 Okt: Die Rooskweker se Manier

SKRIFDEEL: Romeine 6: 1 – 11

“Ons het saam met Christus gesterwe….onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus” (8,11).

Dr. A. S. Gumbart se Hollandse vriend se ma¬nier om goeie rose te kweek, het vir dr. Gumbart ’n waardevolle geestelike les geleer. Die kweker se manier was om ’n minderwaardige roossoort langs ’n kosbare roosvariteit te plant. Hy hou die minderwaardige roos goed dop en sodra die meeldrade verskyn, knip hy dit kort, sodat die minderwaardige roos hom nie self bestuif nie. Die bestuiwing van die minderwaardige roos moet van die goeie roos af kom. Gaandeweg ontwikkel die swak roos die goeie eienskappe van die meerderwaardige roos. Nie lank nie of dit lyk en ruik soos daardie goeie roos waarlangs hy groei. Dr. Gumbart sê: “This is indeed a beautiful illustration of the blessing that comes to the life that knows the companionship of Jesus. If our lifes are pollenized, as it were, by his righteousness; if his life transforming truth is received into the heart, and self be sacrified to make room for the incoming of his superior life, it cannot be other than, that gradually the life loses its own inferior characteristics and develops the characteristics of the blessed life of Him who is Himself the Rose of Sharon.

So ’n proses vra tyd van omgang met Jesus, luister na sy Woord en sy stem deur die Heilige Gees in ons hart, belydenis en aflegging van ons slegte meeldrade van selfsug, oneerlikheid, wellus en ongehoorsaamheid. Dit is die lonende, lieflike groeiproses in die lewe van die dissipels van Jesus wat stadigaan soos hulle Meester begin word.

“Here, vandag bly ek naby U en wil met U verkeer.”

Wo 15 Okt: Lewe Uit Die Saad

SKRIFDEEL : Johannes 12: 20 – 28

“As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ’n groot oes in” (24)

’n Vrou wat in Midde-Afrika sendingwerk ge­doen het, het aan die inboorlinge, wat saam in ’n koringland gewerk het en om haar kom staan het, die betekenis van Jesus se opstanding probeer verduidelik. “Jesus het aan die kruis vir ons almal gesterf. Hy het self die straf vir ons sondes, alles wat ons gedoen het wat verkeerd was, in ons plek gedra. Hulle het, na Hy dood is, sy liggaam van die kruis afgehaal en dit in ’n graf gesit, wat in ’n rots uitgekap was. Op die derde dag na sy dood het Hy weer lewendig geword en uit die graf uitgegaan. Ons wat in Hom glo, sal ook eendag, na ons ’n tyd lank in ons graf was, as Hy weer kom, uit ons graf uitgaan en lewe.”

Hulle het hulle koppe ongelowig geskud. Die leier van die groep het haar geantwoord: “Ek glo dit nie. Iets wat begrawe is, kan nie weer uit die grond uit kom en lewe nie.” “Plant jy koring?” vra sy hom. “Ja, natuurlik,” antwoord hy half ver­ontwaardig. “Jy gooi die koringkorrels in die grond, nie waar nie? Wat gebeur met daardie korringkorrels?” vra sy verder. “Ons maak die koringkorrels toe met grond en hulle lê daar.” “Lank?” “Ja, natuurlik.” “En dan?” “Dan kom die koring natuurlik op.” “Waar kom die koring­plant­jies wat opkom vandaan?” wil sy nou weet. Hy knip sy oë. “Van die koring af wat ons daar geplant het, natuurlik.” “Jy het korringkorrels in die grond begrawe. Hulle het ’n lang tyd daar onder die grond gelê en toe kom die lewendige koringplante van hulle af op, nie waar nie?” Die ou man se houding verander. Sy gesig word vrien­delik en hy sê: “Ek verstaan nie alles nie, maar ek glo nou Jesus het uit die graf gekom en ek sal ook eendag uit die graf uit opstaan.” Hy knik en, voeg met ’n glimlag by: “Dis hoe dit werk, natuurlik.”

“Here, vandag is dit my blye hoop dat ek in u opstanding deel.”

Di 14 Okt: 11 111 KOPPE AFGEKAP

SKRIFDEEL : 1 Korintiërs 15: 35 – 49 Lewende Bybel

“Die ou liggaam wat begrawe word, gaan tot niet… as God ons uit die dood lewendig maak, gee Hy vir ons ‘n nuwe liggaam wat nooit weer vergaan nie” (42).

Walter B. Knight skryf in sy boek Treasury of Illustrations dat dr. E. R. Bull ’n sendeling was op die Ryukyu Eilande, ’n reeks eilande wat voorheen aan Japan behoort het. Op die eiland Amajusa, kom hy af op ’n kolosale graf. ’n Rotsblok dui die plek aan. Op die rotsblok is geskryf: “Hier lê 11,111 koppe van Christene”. Die jaartal word aangegee: 1637. Dit was die jaar toe die Japanese al die Christene wou uit­wis. Slegs die koppe is in daardie graf be­gra­we. Die liggame is elders in ’n ander graf be­­grawe. Dit was vreemd vir dr. Bull. In Na­ga­sa­ki doen hy oor die verskynsel navraag. Hy is toe meegedeel die sendelinge het met groot klem, oor die opstanding van Christus en alle Chris­tene gepreek. Die bevolking se gods­diens­leiers wou seker maak die opstanding van die Christene sal verhoed word. Hulle het dus op die blink idee gekom om die koppe en lig­game van die Christene apart te begrawe, om ’n opstanding van die liggame te verhoed.

Ek het hierdie storie vir Neil Verwey, sende­ling in Japan (en Riekie se broer) per e-pos ge­­­stuur om te hoor of dit waar is en ek dit in ons blad kan gebruik. Sy antwoord: “Ek was ook al by Nagasaki – maar dit is ‘n lang storie en ek het baie verhale van marteling verneem! Jou storie het ek ook al gebruik met opstandingsboodskappe!”

Dáárdie godsdiensleiers van Japan het soos die Sadduseërs in Jesus se tyd, die opstanding nie verstaan nie. Ons verstaan nou ook nog nie hoe die opstanding, van die wat dood is, sal wees nie, want dit lê so ver buite ons ervarings­veld. Die Skrif leer ons dat die opstanding van die dode met Jesus se wederkoms sal geskied. In die woorde van die Die Boodskap-vertaling skryf Paulus in 1 Thessalonisense 4:13-17: “… ons glo mos dat Jesus aan die kruis dood is en dat Hy daarna uit die dood opgestaan het. Wel, net so sal al daardie gelowiges wat voor hulle eie dood in Jesus geglo het, ook saam met Hom terugkeer as Hy weer na ons toe kom… daarna sal al die Christene wat reeds dood is, lewendig word. Ons sal hulle met ons eie oë kan sien. Dan sal ons wat nog lewe, saam met hierdie gelowiges vir Christus in die lug gaan ontmoet. Daarna sal ons almal vir altyd by die Here bly.”

“Here, vandag verheug ek my in die hoop van die opstanding.”

Ma 13 Okt: Bid en Verwag

SKRIFDEEL: Matteus 7: 7 – 12

“Vra, en vir julle sal gegee word… want elkeen wat vra, ontvang… (7,8).

In The Railway Messenger van Julie 1969, skryf R. Barr hoe hy een oggend in Port Eli­za­beth, in sy hotelkamer, die Here se leiding vra oor ’n kinder­boodskap wat hy die volgende og­gend voor ’n groot groep kinders moet lewer. In die stilte van sy hart weet hy so duidelik, asof dit vir hom gesê word, hy moet oor die appel en die roos met die kinders praat. Dit is een van sy goeie kinderpreke, maar hy het ’n ryp appel en ’n bloeiende roos vir dié de­mon­stra­sie­preek nodig. Weer kom dit in sy hart – hy moet vir die appel sorg, die Here sal sorg vir die roos. Dis goed. Hy het nie veel geld nie, en appels is daardie tyd van die jaar nie so duur soos rose nie. Van die hotel af loop hy met Whites Way na die hoofstraat toe. Op pad koop hy ’n pragtige ryp appel. ’n Gedagte kom in sy hart: moet hy nie vir veiligheid lie­wer die onkoste maak en ’n roos ook koop nie.” Hy weer­staan die versoe­king en sê in sy hart: “Die Here het be­lowe om vir die roos te sorg.” Hy loop terug na sy hotel toe. Weer kom ‘n gedagte in hom op: net om die hoek, voor hy by die hotel kom is daar ’n goeie blom­me­winkel en hulle sal sekerlik rose hê. ’n Waarskuwing flits in sy hart: “Gaan na jou hotelkamer toe tot na een uur, wan­neer al die blommewinkels op ’n Saterdag toemaak.” Hy kon ’n bus haal, maar hy besluit om hotel toe te stap. La­ter het hy gesê: “Het ek tog maar ’n bus gehaal!” Halfpad op met die steil straat, gaan hy ’n oomblik staan om te rus, en daar, net waar hy tot stilstand kom, is ’n blomme­winkel. Hy skryf: “Surely this was guidance! Surely I was meant after all to buy a rose! I had forgotten that there were such things as devil’s coincidences.” Hy stap in. Op die toonbank is pragtige rose uitgestal. Hy koop twee en loop uit. In sy hart is nie vrede nie. Die rose hinder hom. Vertrou hy dan nie die Here nie? Daardie aand spreek hy ’n groot verga­de­ring vir volwassenes toe. Toe hy uit die saal stap, wag ’n paar mense vir hom in die voorportaal. ’n Vrou stel haar­self aan hom voor. Sy en haar vriende het tagtig kilometer ver gekom om die geleentheid by te woon. En hulle bly oor vir Sondagoggend se kinderdiens. Sy sê hul­le weet hy is lief vir blomme en het vir hom ’n mandjie blomme gebring. “Moet tog net nie sê dis rose nie!” roep hy uit. “Ja,” sê sy. “Almal is rose”. Vyftig pragtige, groot rose! Hy sluit sy storie af: In my heart the Voice was painfully clear: ‘O, you of little faith! Did I not tell you that I would see to the roses? Wherefore didnt thou doubt? Are not all the gardens of the world mine? What are a few roses to Me?’” Ons behoefte is dat die Heilige Gees in ons ’n ver­trouende hart sal opwek en laat groei.

“Here, vandag vertrou ek U om my behoefte te voorsien.”

Vry 10 Okt: Onfeilbare Helper

Lees Psalm 62: Ou Vertaling

“Ja, my siel is stil tot God; van Hom is my heil” (2)

Ek wil graag `n persoonlik storietjie vertel, maar u moet u dit sowat 6 jaar gelede probeer voorstel. Riekie en ek het by ons kinders, Philippus en Karen en klein Lisé-Marie en Arno op Vryheid gekuier. Dit was `n rukkie na u gedeel het in die vreugde, tydens ’n oggenddiens in die Kokanjesaal, wat ons dominees groothartig aan my afgestaan het, om klein Arno te doop. `n Groot deel van u, Kokanje-inwoners, het dit met groot liefde meegemaak. Ek vertel nóú `n storietjie van toe hy begin kruip het. Hy het ook sy oupa teen dié tyd al bietjie leer ken.

Ek staan dié oggend in die hoek van ons slaapkamer by die kinders, en hy sit in die oorkantste hoek, by ’n hoërige trappie, wat hy moet uitklouter om dieper in die huis in te gaan. Na ’n paar mislukte pogings gaan hy by die trappie sit. Ek sien hy meet my, maar dit is vir ’n onbedrewe kruipertjie ‘n ver ent om af te lê na sy oupa toe. Hy kom egter tot ’n besluit en begin na my toe kruip. Eintlik skuif-skuif hy voetjie vir voetjie oor die growwe mat vorentoe. Ook nog, by ’n hopie kleurvolle speelgoed, verby. Ek hou hom dop en wag vir hom. As hy moeilikheid optel, gaan ek hom dadelik help. Hy kom uiteindelik tot by my, gaan sit plat op sy  boudjies en steek sy dik armpies op na my toe. Dadelik buig ek af, tel hom op, druk hom teen my vas, soen tederlik sy sweterige nekkie, praat sag met hom, en toe dra hom die trappies op en na sy ma toe. Ek het geweet dit is waar hy eintlik met sy honger magie wou wees.

Dié ervaring het met my gepraat. Die Bybel se oorvloedige getuienis is, God verwelkom iemand wat na Hom toe kom, met hartlikheid. Meer as wat dit my behaag het, dat my kleinseuntjie na my toe gekruip het, behaag dit Hom, ons Vader, wat ons lief het met ’n liefde wat ons nie kan peil nie, as ons doelgerig na Hom toe gaan vir hulp en soms selfs met die poging sukkel. As ons trappies in ons lewe nie kan uitkom nie, en ons beweeg doelgerig na Hom toe, dan kom Hy ons self tegemoet en Hy tel ons op, dra ons maklik, ons moeilike trappies uit, en neem ons na dít toe waaraan ons behoefte het. “Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees. Ek het die Here my God gekies as my toevlug!“ (Ps.73:28). “…laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsversekerdheid” (Heb.10:22). “Nader tot God en Hy sal tot julle nader” (Jak.4:8). God soek ons aandrang vir hulp by Hom. Hy belowe hulp as ons dit by Hom gaan soek. Gaan soek sommer nou die hulp wat u nodig het, al vind u dit nogal bietjie moeilik in die begin. Glo sy liefde, glo sy wysheid, glo sy krag.

“Here, vandag doen ek dit: Ek nader tot U en verwag U sal my in u arms optel en my sake regmaak.”

Do 9 Okt: Die Opheffende Gawe

Lees: Johannes 1:35-42

“Daarna het hy eers sy broer…gaan soek en…hy het hom na Jesus toe gebring” (42)

Kort na eerw. Charles R. Goff, pastor ge­word het van die Methodist Temple (so genoem as gevolg van die tempelvoor­koms van die gebou wat as Metodiste Kerk gebruik is) in die hart van Chicago Loop, het hy gevoel dit is nodig om ’n Christelike skildery in die ingang van die Tempel te hang. Dit moes `n Christenatmosfeer skep vir die stroom van besoekers aan die Tempel. Hy het met die bekende skilder, Warner Sallman, daaroor gepraat. Die gevolg was  Sallman se bekende skildery, The Head of Christ, het ’n ereplek en `n nuttige fuksie in die voorportaal gekry.

In die loop van hulle gesprek sê Sallman vir eerw. Goff: “Ek wag al jare om vir u te sê, u het daardie prent, wat soveel sëën vir my gebring het, vir my gegee. U het Christus aan my gegéé.” Jare te vore het eerw. Goff ’n reeks Bybellesings in ‘n Y.M.C.A.-saal gelewer. Sallman het dit as jong skilder byge-woon. Gedurende een van die lesings het Sallman ’n besef van die wonderbare, gekruisigde Heiland gekry. Daardie nag, terwyl hy slaap, het hy ’n visioen van die hoof van Christus gekry. So het Christus vir hom gelyk. Hy het hy dadelik ’n skets gemaak van wat hy gesien het. Daarna het hy dit geskilder. Vyftig miljoen afdrukke van hierdie skildery, word in die aanhaling gemeld,  is wêreldwyd verkoop. Dit is meer as van enige ander prent, hedendaags of outyds, wat ooit verkoop is.

Ons gaan die Here Jesus eendag sien soos Hy werklik is. Hoe ’n vreugde sal dit dan wees as iemand sal sê: “Jy het Christus aan my gegee.”

“Here, vandag soek ek geleentheid om U aan iemand bekend te stel.”

Wo 8 Okt: Gaan my nie Verby nie

Lees Lukas 18:35-43

“Hulle vertel hom toe: ‘Jesus van Nasaret gaan hier verby’”(37).

Fanny Crosby, wat baie liedere geskryf het en wat selfs nou nog gesing word, was blind. Sy het ’n brandende liefde vir die Here gehad. Sy sou na enige plek toe gaan om ander van Jesus te vertel. Eendag het ’n evangeniskape-laan haar op sy besoek aan ’n tronk saamgeneem. Sy het met die gevangenes oor Christus gepraat: “Hy sal in jou hart kom en jou lewe nuut maak as jy hom om genade en vergifnis sal vra.” Terwyl sy praat het ’n ou gevangene, wat al baie jare in die tronk was begin uitroep: “O, Here, gaan my nie verby nie. Wees my, ’n sondaar, genadig. Ag, gaan nie by my verby nie.” Sy ernstige smeking het Fanny diep in haar hart getref. Toe sy by haar huis kom, gaan sy dadelik na haar kamer toe, sluit die deur en sy skryf die lied wat nou nog ons harte raak:

Gaan my nie verby, o Heiland, Gaan my nie verby!
Wyl U ander seën, Heiland, seën nou ook my!
Op u soenbloed pleit ek, Heiland,
Wees my hulp en steun!
Wees my Voorspraak en my Midd’laar,
 Hoor my, o Gods Seun!
Jesus, Heiland, wees my nou naby,
Wyl U ander seën, Heiland, seën nou ook my!

“Here, vandag pleit ek ook: ‘Gaan my nie verby nie.`”

Di 7 Okt: Wat Mense Wil Hê

Lees Matteus 11:16-19

“Ons het vir julle op die fluit gespeel en julle het nie gedans nie! Ons het ’n treurlied gesing, en julle het nie gehuil nie!”(17)

Die bekende sendelingpionier, C. T. Studd, vertel die storie van die meulenaar se donkie, om te verduidelik (seker uit eie ervaring!) hoe onmootlik dit is om álle mense áltyd tevrede te stel.

Die meulenaar, sy seun en die donkie het mark toe gegaan. Die meulenaar het op die donkie gery. Toe sê die mense: “Wat ’n wrede man! Hy ry op die donkie en sy seun moet loop.” Hy klim af en laat sy seun ry. Daarop het die mense gereageer: “Wat ’n bedorwe kind! Hy ry op die donkie en sy arme pa moet loop.” Die pa en seun besluit om saam op die donkie te ry. Hierop was die mense se reaksie: “Dis wreedheid teenoor diere! Kyk net die arme donkie. Hy moet altwee dra.” Die twee klim toe maar van die donkie af, sê die storie, maak hom aan `n paal vas en so dra hulle hom. Die mense het gelag en gesê: “Kyk twee donkies dra ‘n ander donkie!” Hulle het die donkie toe losgemaak en aldrie het saam mark toe gestap. Hierop was die mense se reaksie: “Hoe dom kan ’n mens tog wees! Hulle het ’n donkie, maar ry hom nie.” `n Ongelooflike en lawwe storie, maar `n groot waarheid word oorgedra! `n Oorvloed oral van kritiek,.

Hieruit leer ons: Ons moet geduldig voortgaan met ons roeping en ons nie deur mense se opmerkings en reaksies van stryk laat bring nie. Sekerlik is daar mense na wie se raad en kritiek ons moet luister. Hulle kén ons en ons omstandighede, en na húlle moet ons ook luister

“Here, vandag kyk ek na Ú en ek wil hoor wat Ú van my verlang.”

Ma 6 Okt: Kosbaar Bo Woorde

Lees Lukas 15:1-7

“Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer…” (7)

Bruce Crozier, ’n sewejarige seuntjie, het weggedwaal van sy pa se jagkamp in Arizona af. Na ’n week is hy byna 50km. van die kamp af opgespoor. Toe sy ma hom omhels, na hy gevind is, het sy uitgeroep: “Dis amper onmoontlik om te glo ek het my seun­tjie teruggekry!” Oorweldig deur blydskap het sy haar bewussyn verloor. Sy pa was in die veld, waar hy nagenoeg ’n duisend spoor­snyers en ander soekers na die seun, gelei het. Hy is telefonies in kennis gestel die seun is gevind. By die aanhoor van die nuus het hy ook sy bewussyn verloor. Hy het verwag hy is dood, of sy verskeurde liggaam­pie sal gekry word. Toe vind hulle hom lewend en gesond terug! Die oorweldigende blydskap van so ‘n pa en ma kan nie gepeil word nie.

Die Here Jesus het gesê:“Daar is blydskap in die hemel oor een sondaar wat hom be­keer.” Hy probeer vir ons daardie blydskap be­skryf uit ’n liefde wat ons ook ken: die liefde van ’n pa vir sy seun! Jesus het uit die gely­kenis van die verlore seun die pa se gedrag beskryf: “Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom….Hy sê vir sy werksmense: ‘Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan …ons kan tog nie anders as om bly te wees nie…hy was verlore en ons het hom te­ruggekry!’”(Luk.15:20-30).

Nadat Jesus met die Sa­maritaanse vrou gepraat en Homself as Messias openbaar het, en haar uit haar sondige le­we tot redding gelei het, wil sy dissipels vir hom sy ete gee. Die vrou se redding het Hom egter tenvolle bevredig. Hy sê vir hulle: “Ek het voedsel om te eet waarvan julle nie weet nie…My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi… Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes” (Joh.4:32-35). En Hy het hulle met sy bloed gekoop!

“Here, vandag wil ek my hart instel om in U blydskap te deel oor ’n verlore mens wat vir U gewen word.”

Vry 3 Okt: Die Koperslang

Lees Numeri 21: 4 – 9

“Moses het toe ‘n koperslang gemaak en dit op ‘n paal gesit. As iemand wat deur ‘n slang gepik is, na die koperslang opkyk, het hy bly leef” (9).

D. L. Moody, die bekende prediker, ver­tel  hoe hy een nag, tydens die Amerikaanse Burger­oor­­log, na die hospi­taaltent toe geroep is. ‘n Ge­wonde man het hom nodig gehad. Hy sê vir Moo­dy: “Ek het u laat roep om my te help sterf.” Moody antwoord: “As ek jou in my arms die koninkryk van God kon indra het ek dit dadelik gedoen. Maar ek kan nie. Jy moet in jou hart in Christus as jou Ver­losser ver­trou. Hy sal jou in sy arms in God se ko­ninkryk in­dra.” Die man het sy kop geskud. “Hy kan my nie red nie. Ek het te veel gesondig.” Moody noem een na die ander van die belof­tes van redding in die Bybel vir hom, maar hy bly net pas­sief lê. Toe sê Moody vir hom: “Ek gaan nou vir jou ‘n gesprek lees, wat Jesus met ‘n man, wat ook ang­­stig oor die ewige lewe was, gehad het.” Moody lees vir hom in Johannes 3 Jesus se ge­sprek met Nikodemus. Terwyl Moody lees maak die man sy oë oop en vestig dit strak op Moody.  Toe Moody by die woorde in vers 14 kom: “Moses het die slang in die woestyn hoog op ‘n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê,” val die man hom in die rede. “Staan dit net so daar?” “Ja,” bevestig Moody dit. “Ek het nie geweet dis in die Bybel nie. Lees dit weer, asseblief.” Hy lig hom in die bed effens op en stut hom op sy elmboë, sy hande styf in mekaar geklem. Na Moo­dy die woorde weer gelees het, sê die man: “Dis goed. Lees dit nog ‘n keer.” Na Moody die woorde ‘n derde keer gelees het, lê die man te­rug, maar die strak uitdrukking op sy gesig het nou plek ge­maak vir ‘n uitdrukking van ont­span­ne vre­de. Die man se lippe beweeg. Moody leun voor­oor om te hoor wat hy sê. Hy prewel: “Soos Moses die slang in die woestyn opgehef het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Hy maak sy oë oop. “Dis genoeg; u hoef dit nie weer te lees nie.” Die volgende oggend het Moody gaan kyk hoe dit met die man gaan. Hy was reeds dood en sy bed was leeg. Die verpleër op diens sê vir Moody: “Na u weg is, was hy baie kalm. Hy het net kort-kort herhaal: ‘Wie in Hom glo sal nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe hê.’” 

Christus het vir ons sonde geword toe Hy aan die kruis gehang het. Al ons sonde het Hy daar gedra, sodat ons vergifnis kan ontvang en deel kan kry in die ewige le­we. “Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons” (Rom.8.34). Ons kan met vry­moe­dig­­heid ons toevlug tot Hom neem.

“Here, vandag vertrou ek in U vir my redding.”

Do 2 Okt: Oorwinning Deur Die Woord

Lees Psalm 91

“Omdat jy die Here as skuilplek geneem het, die Allerhoogste as jou beskermer, sal geen onheil jou tref en geen plaag naby jou woonplek kom nie” (9,10)

In Update Magazine word vertel hoe Delisa Boyd­ston, ‘n 24-jarige musiekstudent, na ’n les na haar motor, in die parkeer­area, toe loop. Sy sluit die deur oop en toe merk sy ’n man op wat direk agter haar staan. Dit lyk of hy vir haar ’n blaadjie wil gee. Sy dank dit af. Hy neem haar arm stewig in sy een hand en met die ander hand bring hy ’n mes te voorskyn. “Klim in,” beveel hy kortaf. Verward roep sy uit haar hart: “Here, beskerm my!” Sy probeer losruk, maar die vreem­deling dwing haar in die motor in en druk haar tot op die pas­sasiersitplek. Sy probeer die deur oop­maak, maar die deur is gesluit. Met die sleutel wat hy uit haar hand gegryp het, skakel die man die motor aan en trek vinnig weg. “Ek sal jou nie seermaak nie. By die volgende hoek laai ek jou af,” beloof hy. Hy ry eg­ter by straat­hoek na straathoek  verby. Sy besef hul­le is op pad na die snelweg toe. Teen die deur gedruk, met die mes teen haar, kom ’n mag­te­lo­se wanhoop in Delisa op. Geen mens kan haar help nie – net God! Delisa was omtrent twee jaar ’n Christen. Haar Bybel lê op die agterste sit­plek. Die Bybel het haar al deur talle krisisse gedra. Dit gaan weer haar toevlugs­oord wees. Sy word kalm. “Neem die mes weg, asse­blief,” sê sy beleefd vir die man. “Teen hierdie spoed kan ek nie uitspring nie.” Vreemd genoeg bemerk sy in die man se oë ook verskrikte paniek. Hy is bang, besef sy. Hy trek die mes terug, en dit lyk of hy ook kalmer word. “Mag ek my Bybel hardop sit en lees?” vra sy. “Dit help my altyd as ek bang is.” Hy knik. Sy neem haar Bybel op die agterste sitplek en maak dit by Psalm 23 oop. Sy begin hardop lees – vir haar eie ontwil, eer­der as syne. “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig” (Ps.23:4). Toe sy die hele Psalm gelees het, kyk die man na haar kant toe en sê. “Jy weet, ek het nog nooit die Bybel en sulke dinge verstaan nie. Iemand moet dit vir my verduidelik.” Delisa is nou kalm. In haar hart het hoop opgekom. Sy verduidelik vir die man dit soos sy die Psalm verstaan. En sy gaan voort en vertel vir haar kaper dat God hom liefhet en wat nou ge­beur, kan God se manier wees om hom te bereik. Hy gee ’n diep sug, bring die motor tot stilstand, maak ’n u-draai. “Ek neem jou terug,” sê hy kortaf. Sy vra hom om na haar kerk toe te ry. Daar ge­kom, klim hy ook gewillig uit. Saam met haar gaan hy na die kerk se dominee toe, wat die evangelie verder vir hom verduidelik. Deur trane sien Delisa hoe die man kniel en die Here vir ge­na­de en red­ding bid. Sy dink nie eers daaraan om die man nou by die polisie aan te kla nie. As God hom vergewe het, wie is sy om hom te vervolg? Die vol­gende Sondag sit die kaper en sy gyselaar saam in die­selfde kerk om die Here te dien. (Die Bode Aug.1999)

In ’n noodsituasie kan ons die Here aanroep om ons uit te red. “Op die dag van gevaar sal die Here my weg­steek in sy huis, my veilig laat skuil in sy woon­plek…” (Ps.27:5). “Die Engel van die Here slaan sy laer op rondom dié wat die Here dien, en red hulle” (Ps.34:8). “In jul­le nood het julle geroep en Ek het julle gered” (Ps.81:8)

“Here, vandag soek ek veiligheid by U.”

Wo 1 Okt: Kosbare Bybel

Lees 1 Timoteus 4:6 – 16

“…sal jy ‘n goeie dienaar van Christus Jesus wees wat jouself voed met die woorde van die geloof en die goeie leer waarvan jy ‘n aanhanger geword het” (6).

In The Living Power of God’s Word vertel Dennis M. Mulder, wat geestelike werk onder die Sjinese doen, dat hy in ‘n kerk in Shangai langs ‘n vrou, in haar middesestiger jare, sit. Die aandagtige wy­se waarop sy na die preek luister en die eerbiedige ma­nier waarop sy die sangbundel hanteer, tref hom. Wat hom aangryp is haar verminkte hande. Dit lyk of haar vingers, teen mekaar gestrengel, ver­steen het. Na die diens spreek hy haar aan: “Het jy ‘n Bybel?” Verras dat hy haar in haar eie taal aanspreek, met ‘n gretigheid in haar houding, ant­woord sy nederig: “Nee, ek het nie ‘n Bybel nie.” Hy is nie verbaas oor haar antwoord nie, want hy weet in die hele kerk is nie veel meer as tien of vyftien  By­bels beskikbaar nie. “Ek vetrek more,” gaan Den­nis verder, “en ek het twee Bybels in my hotel­kamer. Kan ek dit vir jou en een van jou vriende gee?” Sy is dadelik gewillig. Saam stap hulle na sy hotel toe. Hy vra haar na haar hande.

“Gedurende die kulturele rewoluse hier in ons land,” vertel sy, “het die Rooi Wagte my huis binne ge­kom en deursoek vir Bybels. Ek het my Bybel in die koue as van my stoof wegge­steek, maar hulle het dit daar gekry. Een van die wagte het dit in sy han­de gehou, maar ek het dit uit sy hande gegryp en teen my vasgedruk. ‘Gee vir ons daardie boek vol mites!’ het hulle geskreeu, maar ek het dit vasge­klou. ‘Ek kan dit nie vir julle gee nie,’ het ek terug geskreeu. ‘Dis al wat ek het om my van Jesus, my Here, te vertel!’ Hulle het kwaad geword en my buite toe gesleep en my klere van my afge­stroop. Hulle het die omstanders beveel om my te be­le­dig en op my te spuug. Na ure in die warm son het hulle weer geskreeu: ‘Gee daardie boek!” Ek het weer geantwoord: ‘Ek kan dit nie prysgee nie. Dis al wat ek van Je­sus, my Here en Verlosser, weet.” Hulle het my op die sy­paad­jie platgegooi. Een van hulle het sy voet op my nek gesit en die ander drie het met loodpype oor my han­de begin slaan. Hulle het aangehou totdat daar geen ge­voel meer in my hande was nie. Die Bybel het uit my hande, in die stof op die sypaadjie, gegly. Die skare het ge­juig. Dit was die laaste keer dat ek ‘n Bybel in my hande gehou het.”

Dennis sê dit het hom net minute geneem om na sy ho­­telkamer toe te gaan en die twee Sjinese Bybels te bring. Toe hy seker is niemand kyk nie, het hy die Bybels in haar verminkte hande gesit. Sy kon nie praat nie. Sy het net met groot, traangevulde oë na hom gekyk. Sy het om­­ge­draai en in die stroom van verbygangers verdwyn. Hy het haar nooit weer gesien nie, maar hy skryf: “That day in Shangai I saw how precious the Word of God can be to someone.”

Ons is maklike besitters van Bybels. Hoe kos­baar is die Woord vir ons? The Baptist Challenge skryf ‘n op­na­me het aan die lig gebring, dat 23% van mense wat ‘n Bybel het dit nie lees nie. Net 18% van belydende Chris­te­ne het gesê hulle lees die Bybel elke dag. 18% het gesê hulle lees dit van drie tot ses keer per week. Bybelle­sers het gesê hulle be­stee gemiddeld 22 minute per dag aan die lees van hul­le Bybel. (Die Bode Aug.1997)

Die Bybel is die voedingsbron van ons geestelike lewe. Pe­trus noem God se woord die “onvervalste melk van die woord” (1 Pet.2:2). Christus het gesê: “Daar is geskrywe: ‘n Mense leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom” (Mat.4:4). Vir ‘n gesonde, groei­ende geestelike lewe, het ons nodig om God se woord gereeld, daagliks te lees.

“Here, vandag en elke dag wil ek u Woord lees.”