Die rekening vereffen

Lees Efesiërs 1: 3  – 14

“Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oor­tre­dinge vergewe kragtens die ryke genade van God…(7).

’n Man het aan sy koerant ’n brief geskryf: “Ék het op Sondag geploeg, op Sondag ge-êg en gesaai. Ek het op Sondag watergelei, op Sondag ge-oes en op Sondag my graan weggery. My oes was die beste in die buurt en nog nooit het ek in Oktober so ’n groot oes gehad nie.” Die redakteur van die koerant was nie ’n gelowige nie en hierdie uitdagende en onverskillige man het verwag, die koerant gaan sy brief publiseer en een of ander spot­ten­de artikel daarvan maak. Hy het ’n kort briefie van die koerant terug ontvang: “Ontvangs van u brief word erken, maar laat ons asb. toe om u daaraan te herinner, God ver­effen nie sy rekeninge in Oktober nie.”

Dit is ook die waarskuwing in die Woord van God: “Omdat die verkeerde daad nie meteens getraf  word nie, hou mense eenvoudig aan om verkeerd te doen” (Pr.8:11). As alle sonde onmiddellik gestraf sou word, sou ons baie versigtig met ons lewenswandel en woorde gewees het. Maar nou doen mense die gruwelikste dinge en niks ge­beur nie. Of liewer: niks gebeur dadelik met hulle nie. Die Bybel waarsku, die rekening loop op en gaan later vereffen word. Ons kan met ons lewensgedrag wees soos iemand wat op skuld koop, en op skuld koop, en op skuld koop, en niks gebeur nie. Maar op ’n dag kom die opgeloopte rekening. Dit is verstandig om be­tyds die groot opgeloopte rekening van son­de­skuld in herinnering te bring en hulp te soek by die Een wat die rekening vir ons betaal het. Jesus het die sonderekening ten volle, en ten duurste, betaal, maar ons moet sy skuldoffer vir ons aanvaar.

Iemand het geskryf: Hoe belangeloos is die on­bekeerde mens oor die ewigheid. Vertel hom hy is siek. Hy sal hom dokter toe haas. Vertel hom sy regte word bedreig. Hy sal hom na die proku­reur toe haas. Maar wys hom op die gevaar waarin sy siel verkeer. Hy steur hom min daaraan. Hy sal versuim en sal aan hou versuim totdat hy vir ewig verlore is. En dit is `n aaklige lot.

’n Ander geskriffie sê: Die droewigste pad na die verdoemenis, is die een wat voor die preekstoel langs, teen die Bybel verby, tussen uitnodigings en waarskuwings deur, loop. Dit is juis die pad waar­langs die meeste mense verlore gaan. Hulle hoor. Hulle weet. Maar hulle wil nie gered word nie!

 “Here, vandag luister ek na u waarskuwing.”

'n Misrekende vertaling

Lees Handelinge 2:32-36

“… God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak” (36).

Bruce Moore vermeld ‘n interessante feit, oor die vertaling van die Bybel in die Coloradotaal van Ecuador. ‘n Regte woord om “Here” te vertaal, kon nie gevind word nie. Die mense het geen begrip van ‘n sterk leiersfiguur gehad nie. Die woord “sênor” het bloot “meneer” beteken. ‘n Woord wat moontlik die begrip “Here” kon oordra, was die woord “Miya”. Dit het op iemand gewys aan wie gehoorsaamheid en toewyding verskuldig was. Toe hulle die woord op die mense begin uittoets, vind hulle, as die woord verbind word met Chris­tus, dit by die meeste nie byval vind nie. “Miya Jesu Christos”, vir “Here Jesus Christus” was nie aanvaarbaar nie. Die vertalers het  ‘n verkla­ring vir hierdie houding van die mense ge­vind. Onder invloed van die vroeëre Roomse Kerk, was Je­sus vir die Colorados geen “Miya”, iemand wat gesag af­dwing, nie. Hy was ‘n magtelose man wat aan ‘n kruis vasgenael is en wat bejammer moes word.  Die woord “Miya” is verwerp, nié omdat dit nie “Here” uitdruk nie, maar omdat dit nié by Jesus sou pas nie. Hy was nie ’n Miya nie!

Die naam “Here Jesus” is alom bekend en ons noem Hom ook so. Verstaan ons die woord “Here”? Is Hy vir óns Iemand wat toewyding, eer en gehoorsaamheid verdien? Nasaret se mense het Hom gering geag. “Wie is Hy sodanig?” het hulle gevra. Solank Jesus nog nie vir ‘n mens “Here” geword het nie, is dit swaar om Hom te volg en Hom te gehoorsaam en Hom te dien. “Niemand kan sê: ‘Jesus is die Here nie’, behalwe deur die Heilige Gees” (1 Kor.12:3). Eers na ‘n mens deur die Heilige Gees weergebore is, word Jesus vir ‘n mens ”Here”. Dan verheerlik die Heilige Gees Jesus in ‘n mens se hart as “Here”. Uit die Woord, ons Bybel, leer die Heilige Gees ons om Jesus steeds duideliker te sien en beter te leer ken. “Julle moet ons Here en Redder, Jesus Chris­tus, al beter leer ken en sy genade nog meer on­der­vind” (2 Pet.3:18 LEW.BYBEL.). Namate ons die Persoon van die He­re Jesus leer ken, soos die Heilige Gees ons dit uit die Woord leer, verdiep ons agting vir die Here Jesus en word Hy vir ons Here en God. Daarmee verdiep ons toewyding aan Hom. Wan­neer ek tussen Hom, my He­re, en ‘n wêreldse aan­spraakmaker op my lojaliteit moet kies, wat sê die uitslag van die toets vir my?  Wie het gewen?

“Here  vandag is U in my hart my Here en my God.”

Betyds

Lees Matteus 15: 21 – 28 – OU VERTALING

“…Jesus…sê vir haar: ‘o Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê’” (28).

Prins Edward van Wallis, die Swart Prins genoem, om­­dat sy ridderharnas swart was, was in 1346 by die slag van Crecy die aanvoerder van die voorhoede van die Engelse leër. Sy vader, Koning Edward III van Enge­land, het met die res van die leër, van ’n heuwel af, die geveg dopgehou. Prins Edward was skaars 16 jaar oud. In die midde van die hewige geveg, stuur die jong prins `n boodskapper na sy vader toe, om vir versterking te vra. Die koning talm om die versterking te stuur. Die prins stuur haastig ’n tweede boodskapper, om aan te dring op hulp. Saam met hierdie boodskapper, stuur die koning vir sy seun ’n boodskap terug. “Gaan sê vir my seun, ek is nie so ’n onervare aanvoerder, om nie te weet wanneer onder­steuning vir hom nodig is nie. Ek is ook nie so ’n onverskil­lige vader om dit dan nie te stuur nie.” Prins Edward het uit die ge­veg gekom, ’n sterker man en ’n beter aanvoer­der, omdat die koning hom geleentheid gegee het om in die gevegsposisie te groei.

Die groot Engelse prediker, C. H. Spurgeon, het twaalf preke, oor die verhaal van die Kananése vrou in Matteus 15, gehad. Dit was ’n leersame en bemoedi­gen­de ge­beur­tenis, waarby Jesus met groot aandag betrok­ke was. Wat Koning Edward III met sy seun, Prins Edward, ge­doen het, het Jesus met die vrou gedoen. Vir die eer­ste keer besoek Hy die streke van Tirus en Sidon. Voor­heen het Hy net onder die Jode in Galillea en Judea ge­werk. Die vrou hoor Jesus het in die Kananitiese streek aan­gekom. Vinnig kom sy na Hom toe en roep: “Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid! My dogter is erg van die duiwel besete” (22). Jesus weet haar  ge­loof het groter wysheid en gro­ter krag nodig. Hy sê vir sy dissipels, sodat sy dit kan hoor: ”Ek is net ge­stuur na die verlore skape van die huis van Israel” (24). Sy val voor Hom neer: “Here, help my” (25). Drie kos­ba­re woorde om vir Jesus te sê. Weer kry sy ’n ontmoedig­ende antwoord: “Dit is nie mooi om die kinders se brood vir die hondjies te gooi nie” (26). Haar antwoord straal toe die geloof en nederigheid uit wat Jesus in die hart soek: “Ja, Here, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval” (27). Jesus se antwoord in vers 28 spreek van sy tevredeheid met die houding waar­toe sy nou gekom het. “o Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê.” Haar geloof en houding het die wasdom bereik wat Jesus bedoel het. En na Hy haar gehelp het, het Hy direk terug gegaan na die land van die Jode toe. Jesus het dus net vir háár ontwil na daardie streek toe gekom.

As ons gebed nie dadelik verhoor en ons nood nie da­de­lik opgelos word nie, laat ons aanhou bid, aan­hou luister. Die Heilige Gees bewerk in die wagtende, volhardende hart, wat God in ons hart wil bereik.

 “Here, vandag bid ek volhardend.”

Waar kyk ons

Lees Hebreërs 12: 1 – 4

“…laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus…” (1,2)

Roger Banister was die eerste man wat die myl in vier minute gehardloop het. Drie maande later verbeter John Landy sy rekord met 1,4 sekondes. ’n Wedloop tussen hierdie twee groot atlete is ge­reël. Toe hulle die pylvak binnegaan is Landy voor. Banister is kort op sy hake. Naby die wen­streep,  kyk Landy om, om te sien hoever Banister nog agter hom is. Banister het gewen. Aan ’n ver­slag­gewer van The Times sê Landy: “As ek nie ag­ter­toe gekyk het nie sou ek gewen het.”

Die Bybel noem die geestelike lewe ’n wedloop. Die oë se fokus is belangrik. Agtertoe kyk, wegkyk van Jesus af, is gevaarlike momente. In die eerste martelaar, Ste­fa­nus, se laaste wedloop het hy reg gekyk – vorentoe – na Jesus toe – “…Stefanus, vol van die Heilige Gees, het op­gekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan” (Hand.7:55).

”Here, vandag hou ek my oë op U.”

'n Lig in die donker

Lees Filippense 2:12-18 Lewende Bybel

“Julle moet tussen hulle lewe soos ’n lig wat in die donker skyn want julle dra die boodskap wat aan ’n mens die lewe kan gee”(15,16).

Dit was vir ’n jong meisie moeilik om in haar werks­om­gewing vir Christus ’n getuie te wees. Sy het gevoel sy faal as Christen. Sy het oorweeg om van werk te ver­ander. Sy het haar leraar se raad gaan vra. “Waar plaas ’n mens ’n lig?” vra hy haar. Sy verstaan sy vraag da­de­lik: “Waar dit donker is.” “Dis reg. Daarom het die Here jou daar geplaas. Moenie iets besonders probeer doen nie. Hou jou verhouding met die Here reg en sy lig in jou sal in jou gewone doen en late uitskyn na ander toe.” Hoe donkerder ’n plek is, hoe makliker word ’n lig, selfs ’n dowwe liggie, gesien.

Net so min as wat ’n gloeilamp kan brand as dit nie met krag verbind is nie, of ’n lamppit kan brand as dit nie in olie lê nie, net so min kan ons vir die Here soos ’n lig skyn as Hy nie deur die Heilige Gees self in ons is nie. “…’n lamppit    wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie” (Jes.42:3). Hierdie innerlike krag om vir die Here soos ligte te skyn, word in Filippense se 2de hoofstuk aan ons beloof: “…dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae…sodat julle onberispelik en opreg kan wees …te midde van ’n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld…” (13,15 Ou Vertaling).

“Here, vandag soek ek u krag in my, sodat ek vir U soos ’n lig kan skyn.”

'n Skoon hand

Lees Jesaja 1:12-18

“’Kom nou en laat ons die saak uitmaak,’ sê die Here: ‘al was julle sondes soos skarlaken, dit sal word soos sneeu…’” (18).

’n Fabel word vertel van ’n Indiese koning wat ’n dief die doodstraf opgelê het. Die dief het die tronk­bewaarder geroep en vir hom gesê, hy het ’n groot geheim wat hy aan die koning wil oordra. Die koning is ingelig en hy het die oortreder na hom toe laat bring. Die man het onder groot geheimhouding vir die koning vertel, hy het ‘n saadjie wat bome laat groei wat goue vrugte dra. Deur gierigheid ge­dring, besluit die koning om ‘n maklike eksperiment te doen. Hy laat sy eerste minister, die burgemees­ter en sy priester kom. Hul­­le neem die man na ’n be­skut­te stuk grond toe en sê hy moet sy saadjie plant. Die dief roep ’n paar towerspreuke uit, haal ’n krummel­tjie goud uit sy sak en sê: “Plant hierdie saadjie en ’n boom wat goue vrugte dra sal groei.” “Nou maar, plant dit dan,” sê die koning ongeduldig.  “Net ’n hand on­be­vlek van enige oneerlikheid mag dit plant, anders word die to­wer­krag ge­breek,” sê die man. “Diefstal het my hand vuil gemaak. Plant u Ma­jesteit dit.” Hy gee die stukkie goud vir die ko­ning aan. Die koning hou die kor­rel­tjie goud on­se­ker vas, toe sê hy: “As seun het ek uit my pa se laai geld geneem. Ek kan nie sê my hande is skoon nie. Ek dra dit oor aan my Eerste Minis­ter.” Die Eer­ste Mi­nister staan verleë met die stukkie goud in sy hand. “Ek vorder belas­tings in. Miskien het ek al ietsie vir myself geneem. Ek gee dit liewer vir die burge­mees­ter.” “Nee!” skreeu die burgemees­ter en hou sy hande agter sy rug. “Ont­hou ek moet pen­sioene en salarisse uitbetaal en daar is baie ver­soekings. Gee dit liewer vir die pries­ter.” Die pries­ter hou sy hande toe en draai weg. “Ont­hou ek ontvang offer­gawes en bely­de­nis­gelde. Moont­lik het ek al ietsie on­we­tend vir myself ge­neem.” Na ’n rukkie van stilte sê die veroordeel­de dief: “U Majesteit, ek dink dit sal vir die ge­meen­skap beter wees as ons alvyf gehang word, want lyk my nie een van ons is regtig eerlik nie.” Verleë oor die ont­mas­kering van sy koninklike hof, maar tog in­ge­nome met die dief se slim streek, gee die koning hom sy kwytskelding.

Dit is hoe die Here Jesus die Fariseërs se ge­veinsd­heid ontmasker het toe hulle die vrou, wat op ’n daad van owerspel betrap is, na Hom toe gebring het om haar te veroordeel. “Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het (‘sonder son­de is’ – Ou Vertaling), eerste ’n klip op haar gooi” (Joh.8:7). Net Jesus was sonder sonde. Só ’n ver­losser het ons no­dig! “Christus was sonder son­­de, maar God het Hom in ons plek as sondaar be­handel sodat ons deur ons eenheid met Christus, deur God vry­ge­spreek kan wees”(2 Kor.5:21). Ons het sonde ge­doen en die eis vir ingang in die he­mel is son­de­loosheid: “Niks onreins en…vals…sal ooit daar­in kom nie,” (Openb.21:27). Hierdie hoë eis is nie ’n sondeloosheid, van iemand wat nooit sonde ge­doen het nie, maar van iemand wie se sonde ver­gewe is. “…hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig…”(Heb.9:14 Ou Vertaling.).

“Here, vandag vlug ek met my sondeskuld na U toe.”

God werk in ons harte

Lees 2 Petrus 1: 1 – 11

“Immers , sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien… (3).

In `n interrnetstorie vertel Pastor Bill van `n jong dominee wat saam met ’n ouer kollega in die blomtuin stap. Hy ge­bruik die geleentheid om vir die ouer man te vertel hoe onseker hy voel oor sy roeping en sy eie geestelike lewe. Die ouer man gaan na ’n roos­boom toe wat besig is om te blom. Hy neem ’n pragtige roosknop, gee dit vir die jong­er man en sê, “Vou die blaartjies oop soos dit een­dag moet wees.” Die jonger man verstaan nie wat dit te doen het met sy vraag oor sy verhouding met God nie, maar hy doen wat die ou dominee van hom vra. Die eerste lagie vou hy redelik mooi oop, maar toe begin die roosblaartjies onder sy vingers skeur. Die ou dominee sien die jonger een se verleentheid. Hy begin die woorde van ’n ge­diggie opsê (ek kan dit net in Engels gee):

It is only a tiny rosebud, a flower of God’s design
But I cannot unfold the petals, with these clumsy hands of mine.

The secret of unfolding flowers, is not known to such as I,
GOD opens this flower so easily, but in my hands they die.

If I cannot unfold a rosebud, this flower of God’s design,
Then how can I have the wisdom, to unfold this life of mine?

So I’ll trust in God for leading, each moment of my day,
I will look to God for guidance, in each step along the way.

The path that lies before me, only my Lord and Saviour knows,
I’ll trust God to unfold the moments, just as He unfolds the rose


Die jong dominee het die les geleer wat elke kind van God moet leer: Vertrou God om sy plan en sy werke te laat oopvou in jou lewe. Uit eie vermoë kry mens nie reg om se wil te vermag nie.

As ons iets van rose weet, weet ons ook, die roosknop kan net daar wees en volgens God se natuurkrag reageer, as dit die regte voeding, snoeiïng en be­sproeiïng kry. Sonder die lees van God se Woord en sonder ons gebeds­omgang met God, ly ons te korte, wat die oopvou van ons roosknop van toewyding, vertraag of ver­hinder.

“Here, vandag laat ek my lewe in u hande rus.”

Dors na die Woord

Lees Psalm 1

“Dit gaan goed met die mens …wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink” (2)

`n Man van Kansas City het albei sy hande in `n myn­ont­ploffing verloor. Sy gesig is geskend en hy kon nie meer sy oë gebruik nie. Hy was `n jong Christen toe die ongeluk gebeur het. Die beproewing het sy ge­loofslewe verdiep. Sy groot­ste hartseer was, hy kon die woord van God nie meer lees nie. Hy het nie oë ge­had wat die Bybel kon lees nie, hy het nie hande ge­had waarmee hy Brailleskrif kon lees nie. En in sy groot beproewing het hy groot behoefte gehad, aan die ver­troosting van die Here se woord. Die nuwe lewe in sy be­keerde hart het gedors na die woord van God. Toe hoor hy van `n vrou in Enge­land wat ook haar hande en oë verloor het, maar geleer het om met haar lippe Brail­le­skrif te lees. Sy vrien­de het dadelik op sy aandrang vir hom `n Brailleskrifbybel ge­kry. Iemand het gekom om hom die skrif te leer lees. Tot sy bittere te­leur­stelling moes hy egter vind,  die ontplof­fing het sy gesigsenuwees so be­ska­dig, hy het nie ge­noeg gevoel in sy lippe om die Brailletekens te onderskei nie. Terwyl hy so met sy mond wanhopig teen die bladsy gedruk lê, raak sy tong aan die bladsy. Hy kon een van die opgehewe letterte­kens duidelik voel. Opge­wonde het hy met sy Braillelesse begin en die skrif vinnig met sy tong leer lees. In sy ver­mink­ing was die Bybel vir hom so tot troos en so gretig was hy, om in die eensaam­heid van sy blindheid en gebreklike lewe God se woord te ken, hy het die Bybel vier keer met sy tong deurgelees.

Weens ons sondige aard, wat so maklik wegdraai van God af, moet ons die Bybel met dissipline lees. Deur die lees van die Woord werk die Heilige Gees in ons hart ons behoefte aan God. Hoe meer ons die Here se woord lees, hoe sterker word ons dors na die Woord.

Bybellees is `n opheffende ervaring. Dit reinig en verfris die gees. Lees, is `n samesmelting van die leser se gedagtegang met dié van die skrywer. Wan­neer ons Bybellees, word ons gedagtes met God se gedagtes verenig. Ons leer God se hart uit sy Woord ken. Die lees van die Woord hef ons op, maak ons verstandig, gee ons moed. Uit die Bybel raak die ewigheid ons aan, beïnvloed liefde ons, word ons van goddelike krag bewus. “…die sluier word deur Christus weggeneem vir iemand wat in Hom glo …en waar die Gees van die Here is, is daar vry­heid …want die sluier is van ons gesig weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word …dit doen die Here wat die Gees is” (2 Kor.3:14-19).

“Here, vandag dank ek U vir my vermoë om te kan lees.”

Maklike misgissings

Lees Amos 3: 1 – 8

“Sal twee met mekaar wandel tensy hulle eers afspreek?” (3)

John Ross vertel van die vrou wat van ’n vlieg­tuig afstap nadat dit geland het. Met haar dra­sak oor haar arm gehaak, koop sy by die toonbank van die lughawekafeteria, ’n pakkie lekker koe­kies en ’n koerant. Sy gaan by ’n eenkant tafel sit. Moeg na die lang vlug, wil sy bietjie ontspan voor sy die stadsgewoel aandurf. Da­delik boei die hoof­be­rig in die koerant haar en sy steur haar nie aan die man wat oorkant haar by haar tafel kom sit nie. ’n Ge­rit­sel van papier oor­kant haar trek haar aandag. Sy loer oor die koe­rant, en sowaar, dit is die man wat haar pakkie koekies oopmaak en dood­luiters vir hom een neem en dit begin eet. Sy ver­erg haar on­middellik. Sonder om na die man te kyk strek sy haar hand uit en neem vir haar ook ’n koekie. Na so omtrent twee minute ritsel die pa­pier weer en dit is hy wat vir hom nog ’n koekie neem. Dadelik neem sy vir haar ook weer ’n koe­kie. Sy kyk nog stip in die koe­rant, maar sy lees nie meer nie. Sy is te kwaad. So sit sy en die man die pak­kie koekies en opeet. Sy sien oor die koe­rant hy neem die laaste koe­kie, breek dit in die helfte, steek ’n helfte in sy mond, stoot die ander helfte met ’n effense glimlag na haar toe oor. Sy gryp be­hoorlik die halwe koe­kie en stop dit in haar mond. Hy from­mel die pak­kie se omhulsel op, staan op, knik vir haar, stap by ’n rom­mel­houer verby, gooi die papier daar in en verdwyn tus­sen die mense. Sy is mag­te­loos kwaad. Sy tuur hom net a­gterna. Sy staan op, stamp haar stoel ag­ter­uit, rits haar drasak met ’n pluk oop om haar koerant weg te sit – en haar oë peul behoorlik uit.  Háár pakkie koe­kies lê nog onoopgemaak in haar dra­sak! Sy storm tus­sen die mense in om die man te soek, om verskoning te vra vir háár onbeskofd­heid, maar hy het tussen die mense ver­dwyn.

Sy het haar misgis. Baie van ons het al beproef hoe ’n rusie ont­ke­ten word deur toevallige insi­den­te wat ver­keerd vertolk word. Die geheim is die atmosfeer in ’n mens se eie hart: is daar vrede in my hart? Wíl ek graag ’n goeie verhouding met an­der hê? Is ek gewil­lig om maar bietjie te na gekom te word? ’n Ongeduldige, selfsugtige, suspisieuse ge­sind­heid in die hart skep ’n teelaarde vir ’n mis­gissing. En, dalk is ék, soos die vrou, die eintlike oorsaak van ’n geskil!

As ons met God vrede het; as Jesus koning in die hart is; as die Heilige Gees beheer het oor ons gesind­he­de, kan ons met geduld ander se dade en woorde ten goede en reg beoordeel. “Sorg dat daar nie ver­bit­te­ring soos ’n wortel uitspruit (en) moeilikheid ver­oor­saak nie … (Heb.12:15). Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het …die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee” (Kol.3:12-15).

 “Here, vandag wil ek versigtig in my beoordelinge wees.”

Deur God gestuur

Lees Psalm 18:1-7

“In my nood roep ek na die Here, ja, ek roep om hulp na my God. In sy paleis hoor Hy my geroep…en hy luister na my” (7)

Die naamlose skrywer van die volgende insident sê daaroor: “’n Hoogland herder op my oom se landgoed by Arridilly staan in vir die waarheid van hierdie storie wat hy vir my vertel het.”

’n Weduwee wat alleen teen die hang van ’n bult, ver van ander huise af, gewoon het, het die versekering in Psalm 146 haar lewenskuilplek gemaak: “Die Here het die hemel en die aarde gemaak…Hy bly vir altyd ge­trou, Hy laat reg geskied aan verdruktes en gee brood aan die hongeres…en help weeskinders en weduwees…” Een lang winter het haar be­perk­te kos­voor­­raad laag gedaal. Weens die voortdurende ongure weer kon sy nie uitgaan om te gaan werk en inkomste verdien nie. ’n Dag het vir haar aangebreek toe sy die laas­te handvol meel uit die meelblik skep. Sy het gaan slaap met die voorneme om die volgende dag plan te maak om kos in die hande te kry. Die oggend het onder ’n sneeustorm aangebreek. Die pad op na haar huisie toe was toegesneeu. Dit was buite die kwessie om met haar tenger liggaam die geweld van die storm te trot­seer en by bure te gaan hulp soek. In haar huis was nou geen kos nie. Sy besluit om weer haar toevlug tot haar troue Vriend in al haar nood te neem. Sy het die pap­­pot met water op die vuur gesit, sout ingegooi en die deksel opgesit. Op haar Skotse manier het sy vir haarself gesê: “Noo, I’ll jist gang ben and ask the Lord for the meal.” Sy het na haar slaapkamer toe gegaan en met danksegging en lof haar behoefte aan die Here be­kend gemaak. Sy het net ’n rukkie gebid toe ’n harde ge­klop aan die deur haar gebed onderbreek. Weer praat sy op Skotse manier met haarself: “No an, Lord, Thou canst no hae sent the answer sae soon.” Die geklop hou aan en sy gaan maak die deur oop. In die deur staan die mollige dogter van ’n ewe stewige buur­man. Die dogter gooi ’n sak meel op die grond neer en voeg met breë Skotse aksent by: “Father sent ye that. What­ever possessed him I dint know, but all morning he has been dinning into me about that sack o’ meal and I must fetch it to ye!” Met traangevulde oë gooi die vrou haar hande in die lug en roep uit: “He’s aye the same, Jeanie! Mony a long year hae I trusted Hom and I ne’er found Hom fail; and He’s nae failed me noo. Sae I was jist asking the Lord to send the meal when I heard ye knock’n at the door.”

“Here, vandag vertel ek U van my dringende nood.”

Die gerusstellende stem

Lees Psalm 91

“Omdat hy my liefhet, sal Ek hom red,’ sê die Here” (14).

In die Christian Index vertel die Skotse prediker, John McNeill, hoe hy eendag as seun te voet na die naaste dorp, ongeveer 10 km. van sy huis af, ge­stuur is, om ’n paar items te gaan koop en om die pos te bring. Dit het laat geword voor hy al sy op­drag­te kon uitvoer en nou moes hy met ’n smal, tweespoor paadjie deur ’n eensame en bosbe­groei­de vallei, teruggaan huis toe. Die donker het vinnig gekom en die pad het ’n slegte naam ge­had. Hy het baie alleen gevoel en hy was baie bang. En toe, so skryf hy dit: “In the densest of darkness, there sud­denly rang out a great, strong, cheery voice: ‘Is that you, Johnny?’ It was my father – the bravest, strongest man I ever knew.” Weg was sy eensaam­heid. Weg was sy vrees. Sy pa het hom kom haal en hom op daardie donker, dreigende pad, teëge­kom. Hy voeg by:”Many a time when things have been getting black and gloomy about me, I have heard a voice greater than any earthly father’s cry: ‘Fear not; for I am with thee.’”

In die Psalms vind ons Dawid dikwels klein, swak en baie bang. Dan skielik skep hy moed. Hy het God se bemoedigende stem gehoor. Uit die Woord kom hierdie troostende, bemoedigende stem van God, deur die ge­tuienis van die Heilige Gees in ons hart, ook na ons toe en ons skep moed.

“Here, vandag hoor ek u stem wat my nuwe moed en krag gee.”

Die kosbare saad is bewaar

Lees Matteus 13:1-9

“…ander saad het in goeie grond geval en ’n oes gelewer…(3,8)

Die sendeling, Alexander Duff het met die Lady Hol­land Indië toe gevaar. Al sy kosbare besittings, sy klere, sy biblioteek van 800 boeke, alles was aan boord. ’n Paar kilometer van Indië af sink die skip. Die passa­siers het almal lewend uit die wrak gekom, maar al hulle besit­tings het hulle verloor. Alexander Duff het saam met van die ander op die strand bly staan, om te sien of daar nie dalk ietsie uitspoel nie. Toe sien hulle ’n enkele voor-werp op die branders aangedryf kom. Met angstige oë hou almal dit dop. Duff stap kniediep die water in en kry die drywende pakkie beet. Wat kan dit wees? Sy Bybel! Met blydskap gryp Duff die Bybel in albei hande vas. In die beproewing van die oomblik word Duff se hart oorwel­dig met die blydskap van geloof. God het hierdie boek kosbaarder geag het as al sy ander besittings en dit vir hom bewaar om God se werk in Indië te doen. Reeds die volgende dag begin hy sy sendingwerk met ’n same­koms van 5 seuns, wat onder ’n vyeboom na die lees van daardie Bybel luister. ’n Week later groei die groep aan tot 300 luisteraars. ’n Paar jaar later staan daar ’n kerk op die plek waar die vyeboom gestaan het en byna 1 000 bekeerlinge na die koninkryk van God, hef hulle stemme op in lof en aanbidding.

Die inhoud van die Bybel is lewende saad om die ewi­ge lewe in mense se harte te laat ontwaak. Meeste van ons het so ’n saadkruik: ons Bybel. ’n Kruik met saad wat toegeskroef staan, kan nie lewe voort­plant nie. Die oop saadkruik is ’n belofte vir lewe. Die inhoud van die Bybel voed en herleef ons eie hart. Die woorde van die Bybel wat ons, ander laat hoor of laat lees, wek in hul harte lewe op: “Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit die onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God” (1 Pet.1:23). “Ek het my voor­geneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde … nie deur geleerdheid en welspre­kendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Heilige Gees” (1 Kor.2:2,4).

“Here, vandag wil ek ’n saaier van u Woord wees.”

Iemand nodig - Iemand gestuur

Lees Lukas 10:1-16

“Die oes is groot…die arbeiders min” (37).

Eendag in 1958, klop Yutaka Karasawa, aan Neil en Peggy Verwey, sendelinge in Ja­pan, se voordeur. “Ek het gekom,” kondig hy aan, toe Neil die voordeur oopmaak. “Ge­kom waarvoor?” vra Neil uit die veld geslaan. “Om saam met julle te werk as hospi­taal­evangelis.” “Maar ek kan jou nie sommer net so in diens neem nie!” antwoord Neil, steeds vol verbasing. “Ek ken jou nie eens nie.” “Ek sal wag,” antwoord die jong­man en wil som­mer daar by die voordeur die daad by die woord voeg. Neil sien sy vasbeslotenheid en reël vir hom oornagver­blyf by ’n ander hospi­taal­evan­gelis. Hy beloof om hom oor drie dae van hulle besluit te laat weet.

Gedurende dié drie dae vind Neil uit, Yu­taka het in 1948, onder die be­kende Japa­nese evangelis, Honda, se prediking tot be­kering gekom. Daarna woon hy ’n kursus in ’n Bybel­kollege by. In 1953 doen hy tuber­ku­lose op, soos met baie Japanese gebeur. Hy on­der­gaan ’n groot operasie. Vyftien persone se bloed, onder andere dié van sy dokter en ver­pleegsters, moes vir ’n bloed­­oortapping ge­bruik word, om hom aan die lewe te hou. Vir jare lank was hy ’n teringlyer en nou wil hy vir ander pasiënte, in hospitale tot gees­telike hulp wees. Hy hoor van die Japansen­ding se hospitaalevangeliesasie. Seker van sy roe­­ping laat hy sy vrou en kind tuisbly en ry 480 km. ver om by Neil uit te kom.

In daardie drie dae bid Neil en Peggy om raad. “Here,” bid hulle, “as dit U is wat hierdie man na ons toe gestuur het, laat daar binne hierdie drie dae vir ons nog ’n hospitaal oopgaan waar ons u evangelie moet bekend maak.” Binne die drie dae vra die Toneyama­hos­pitaal, met 1000 tering­pa­siën­te, vir ’n evangelis se diens. So begin Yutaka Kara­sawa se vrugbare bediening van 44 jaar in die te­ring­hospitale. Talle teringpasiënte het onder sy bediening tot bekering gekom. Die teks vir sy laaste preek, voordat hy op 28 Desember 2003 dood is, was: “So lank as dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het, die nag kom, wanneer niemand kan werk nie” (Joh.9:4).

Oral is mense nodig om die hemelse koninkryk se werk te doen. Die Here roep persone om sekere take vir Hom uit te voer. Wees bereid om dié plekkie te vul in sy koninkryk se diens, waar Hy ú nodig het.

“Here, vandag wil ek U gehoorsaam en vir U werk.”

Goeie selfverdediging

Lees Lukas 15:25-32

“Toe het die oudste seun kwaad geword en wou nie in die huis ingaan nie. Sy pa gaan toe uit en praat mooi met hom…(28)

‘n Jongman het vir ‘n kursus in selfverdediging inge­skryf, vertel die Western Recorder. Effens on­rustig of dit hom as belydende Christen betaam om dit te doen, gaan praat hy met sy dominee daaroor. “Dink u ek doen ver­keerd om die kuns van selfver­dediging aan te leer?” vra hy.  “Sekerlik nie,” antwoord die dominee. “Ek het dit as jongman aan­geleer en het baie baat gevind daarby.” “Reg­tig!” roep die jongman verras uit. “Watter stelsel het u aangeleer? Die ou Engelse stelsel of die Sulivan-stelsel, of ‘n Japanese een?” “Nee, nie een van hulle nie. Ek het die Salomostelsel aangeleer.” “Die Salomo­stel­sel?” “Ja, jy kry dit in Spreuke 15:1: ‘‘n Sagte antwoord laat woede bedaar; ‘n krenkende woord laat woede ontvlam.’ Ek ken nie ‘n meer geslaagde selfverdediging­stelsel as dit nie.”

Min mense is bestand teen vriendelike en sagte woorde. As iemand ergerlik is en die ander persoon reageer ook ergerlik, is rusie eintlik onafwendbaar. Bly die ander persoon egter kalm en praat vriende­lik en verstandig terug, kan die bakleier nie met sy rusie voortgaan nie. So skryf die Here se Woord ook ons ge­drag voor: “Wees altyd beskeie, vriende­lik en geduldig, en verdra mekaar in liefde…” (Ef.4:2). So moet ons gesindheid ook wees teenoor ons minderes. Die egtheid van ons vriendelikheid kom na vore wanneer ‘n mens met ‘n mindere praat, veral as die mindere ‘n mens rede vir harde woorde gee: “En eienaars, behandel julle slawe met dieselfde gesindheid. Hou op om hulle te dreig. Dink daaraan dat die Here in die hemel hul­le Here en ook julle Here is, en Hy trek niemand voor nie.” (Ef.6:9).

“Here, vandag wil ek op ‘n sagte antwoord terugval.” 

God se diep medelye

Lees Lukas 15: 11 – 24

….toe die verlore Seun nog ver aankom, het sy pa hom… gesien en …innig jammer gekry. (11 en 20).

George W. Truett vertel hierdie ware verhaal oor dr. Buckner, die stigter en bestuurder van die Buck­ner Or­phans Home in Dallas, Amerika.

Die huis van ’n behoeftige gesin in Suid-Texas het af­gebrand. Net ‘n dog­tertjie, nege of tien jaar oud, het dit oorleef. Maar sy het le­lik ver­brand, veral haar gesiggie. Die bure wat die vuur help blus het, het haar na dr. Buck­ner se wees­huis toe vervoer. Dr. Buckner het Mary self gaan ontmoet. Met rooi gehuilde ogies het sy na dr. Buck­­ner gekyk, vorentoe gekom en haar koppie teen hom gedruk en hartlik aan die huil gegaan. Na ’n rukkie kyk sy met haar ver­mink­te gesiggie op en sê snik­kend: “Jy sal nou my pa en my ma moet wees.” Hy het sy hande op haar koppie gesit en diep bewoë geant­woord: “Ek sal my bes doen, Mary.” In die wees­huis het sy deel van hon­derde ander kinders ge­word.

George Truett skryf hy het dikwels in die wees­­huis ’n diens gaan hou. Dan sien het met wat­ter liefde en blyd­skap die kinders vir dr. Buck­ner te­rug verwelkom as hy ’n rukkie lank weg was. Tru­ett skryf: “The little tots come down the avenue and vie with one another as they swing around him, each wishing to kiss him first.” Een­dag sien hy hoe Mary met haar vuurge­skon­­de­­ ge­sig­gie saam met hulle kom, maar sy staan een­kant toe, terwyl die ander aandring om hom te soen. Dr. Buckner kyk na haar en vra: “Mary, hoe­kom kom groet jy my nie ook nie?” Dit was vir haar te veel. Sy begin hardop snik. Hy vra weer: ”Hoe­kom kom groet jy my nie?” Sy snik dit uit: “Pappa Buckner, ek kan nie vra jy moet my soen nie. Ek is so lelik. Na ek gebrand het, is ek so le­lik, ek kan nie jou kom soen nie. As jy my net so lief het soos vir die ander en vir my sê jy is lief vir my, dan is dit nie nodig om my te soen nie.” Dr. Buckner het al die ander kinders weggedruk om by Mary te kom. Hy tel haar op, druk haar teen hom vas en soen die ver­mink­­te wangetjie oor en oor, terwyl hy herhaal­delik vir haar sê: “Mary, jy is mos vir my net so pragtig soos enigeen van die ander.”

Dit is wat God se Woord ook vir ons oor God se jam­merte vir ’n sondeverminkte mens sê: “Kom tog, laat ons die saak met me­kaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skar­la­ken­rooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu” (Jes.1:8). “Toe het ek uitgeroep: ‘Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lip­pe is onrein…’ ‘Nou…is jou oor­tredinge vergewe, jou sonde versoen’” (Jes.6:5,6). “Een van die mis­da­di­gers wat daar gehang het, het Jesus ge­las­ter….Maar die ander een sê: ‘Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.’ Jesus ant­woord hom: ‘Ek verse­ker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees’” (Luk. 23:39-43). “As ons be­weer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons ons­self…maar as ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes…” (1 Joh.1: 9).

“Here, vandag vlug ek na U toe met my lelike sondes.”

Die gevolg van onkunde

Lees Handeling 8: 26 – 40

“’…verstaan u wat u lees?’ Die Etiopiër antwoord: ‘Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie?’ Filippus het …die evangelie oor Jesus aan hom verkondig” (31,35).

Aan die einde van die burgeroorlog tussen die state van Amerika, ry ‘n afdeling van die Federale mag se sol­date langs ‘n eensame pad na Rich­mond toe, vertel Roy B. Zuck. ‘n Uitgeteerde man in toiïngs kom tussen die bosse uit. Met ‘n hees stem smeek hy hulle om vir hom kos en water te gee. Hy vertel hy leef al weke lank net van bes-sies en plantwortels wat hy in die veld kry. Hulle vra, hoekom gaan hy nie Richmond toe en kry daar vir hom kos nie. Aarselend vertel hy hy is ‘n droster uit die Konfederale leër. Hy kan nie waag om gesien te word en aan die rebelerende Kon­fe­de­rale mag oorge­gee te word nie. Hulle staar hom verwonderd aan. “Het jy dan nie die nuus gehoor nie?” vra hulle. “Watse nuus?” vra hy. Hulle vertel hom, die Kon­federasie het ont­bind. Meer as ‘n week tevore het  genl. Lee, be­vel­voerder van die Konfederale leër van die Sui­delike state, wat nie gehoor wou gee aan die Federale owerheid se eis om al die slawe vry te laat nie, oorge­gee aan genl. Grant, bevelvoerder van die Federale leër. Die man roep uit: “Dan is daar nou vrede! En ek vergaan van honger tussen die bosse om­dat ek dit nie gehoor het nie.”

Dit is ‘n groot persoonlike verlies, om onkundig te wees oor die vrede, wat die Here Jesus Chris­tus vir ons aan die kruis bewerk het. Hy het vrede gemaak tussen ons en God. “Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge verge­we kragtens die ryke ge­na­de­ van God wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons ge­skenk het” (Ef.1:7).

“Here, vandag hoor en glo ek u vergifnis van my sonde.”

'n Geleentheid verbeur

Lees Johannes 12: 1 – 8

“Toe het Maria ‘n halfliter egte, baie duur nardus­olie gebring en dit op Jesus se voete uitgegiet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek met die geur van die olie” (3)

Roy Zuck vertel Queen Mary het eendag met twee kinders in ’n woongebied van Londen ge­loop. Sy het al­ledaagse klere aangehad om te verhoed mense sal in die straat om haar saambon­del. Sy was lief om met gewone mense te meng. ’n Reënbui oorval hulle. Sy gryp die kin­ders se hande en hardloop na ’n nabygleë huis. Vie­serig laat die huisvrou die nat vrou en twee ewe nat kinders in haar huis in. Queen Mary vra of sy ’n sambreel kan leen om in die reën huis toe te gaan. Sy beloof om die sam­breel die vol­gen­de dag terug te stuur. Die huisvrou het darem nie lus om haar goeie sambreel vir die vreem­de vrou te leen nie. In ’n stoorkamertjie het sy ’n ou sam­breel met twee gate in en een van die strekribbes ge­breek, maar sy leen dit vir die vrou. Kom dit nie terug nie is dit nie ’n skade nie. Die vol­gende dag bring een van die paleiswagte in paleisuni­form dit terug. Hy sê vir die ver­won­der­de huis­vrou: “Die koningin stuur dit terug. Sy sê baie dankie jy het dit vir haar ge­leen.”  Verstom roep die vrou uit: “Die ko­ningin. Was dit die koningin!. Ag, wat ’n geleentheid het ek nie ge­mis nie. Ek sou vir haar my beste sambreel gegee het, as ek net geweet het!”

Wanneer ons eendag die Here Jesus Christus in sy volle heerlikheid sien, gaan ons ook spyt wees,  ons het hom tydens ons aardse lewe die stuk­kende sambreel gegee, die tweede of der­de beste van ons lewe, in plaas van ons heel bes­te. As ons nie moeite doen en ruimte maak om Hom in ons stiltetyd, deur omgang met die Here deur gebed en Bybelstudie te leer ken nie, kan ons maklik in ons toewyding aan Hom kortkom.

“Here, vandag wil ek die beste van my lewe aan U gee.”

Met God se krag

Lees Filippense 2: 12 – 18  Nuwe Lewende Vertaling.

“Dis mos God wat julle gewillig maak om te doen waarvan Hy hou…. en Hy gee julle ook die vermoë om dit te kán doen” (13)

Lank gelede, toe treinvervoer in som­­mi­ge plat­te­land­gebiede nog ’n rariteit was, staan ’n sta­sie­meester van ’n klein stasietjie, op die plat­form vir die trein en wag. Sy oë rek vir wat hy voor hom sien. ’n Ou man, koffer in die hand, kom sta­dig en sukkelende al met die spoorlyn aange­strompel. Die stasiemeester verwag hy gaan van die spoor­lyn af weg­draai, na die platform toe om ook vir die trein te wag. Maar die ou man stap met ’n knik van die kop verby. “Oom, hoekom loop jy op die spoor?” vra die stasie­meester steeds verbaas. “Dis met die spoor­lyn baie korter na die volgende dorp toe as met die pad,” antwoord die ou man en stap net aan. “Maar, Oom, jy mag nie daar op die spoorlyn loop nie,” wys die stasiemeester hom tereg. “Ek mag,” ant­woord die ou man en sit sy koffer langs hom neer, steek sy hand in sy binnesak in en trek ’n beur­sie uit. “Ek het ’n kaart­jie gekoop om hier te loop,” sê hy vry­moedig en haal ’n stukkie papier uit sy beur­sie uit. “Kyk self.” Die stasiemeester kyk na die kaar­tjie. “Maar dis ’n treinkaartjie, Oom. Dis om op die trein te ry.” “Op die trein te ry? Hoe?” kom dit verbaas van die ou man af. Die sta­sie­mees­ter neem hom aan die arm en trek hom met kof­fer en al van die spoorlyn af. “Die trein is nou-nou hier, Oom. Ek help Oom.” Net daarna fluit die trein en stoom die stasie bin­ne. Die stasiemeester ver­dui­delik vir die kon­duk­teur en hulle laat die ou man met sy koffer op die trein klim. Hy kry ’n sitplek. Tot sy verbasing ry hy sonder inspan­ning na die dorp toe waarheen hy moeisaam wou stap.

So verstaan sommige mense ook die red­ding wat Chris­tus gebring het. Hulle glo in die Bybel en die evan­gelie, soos die ou man in die Spoorweg geglo het. Hy het gedink hy moes in eie krag van die spoorlyngerief ge­­bruikmaak. Hy wis nie hy kon met die Spoorweg se krag, sonder sy eie vreeslike inspan­ning, sy bestem­ming be­reik nie. Mense wil met ’n hoeveel­heid Bybel­lees, bid, kerk­toe­­gaan, offergawes gee, kerk­werk doen, geloofs­eise nakom, die hemel te bereik.

Jesus se redding beteken: Hy het Self die werk ge­doen. Ons moet dit net dankbaar aan­vaar. Waar die ou man in die trein se kompartement gesit het, het die trein se krag hom na sy bestemming gevoer.

Sekerlik geld dit ook vir die geredde Chris­ten om hard aan sy Christenlewe te werk. Maar as ons in die ge­krui­sigde en verrese Ver­losser, vir sy redding, ver­trou, kom woon Hy met sy nuwe lewe, deur die Heilige Gees, in ons. Sy krag werk in ons die wil en die lus en die vreugde van die lewe vir Chris­tus.

Die groot prediker C. H. Spurgeon skryf hieroor en ek haal sy eie woorde aan: Justi­fi­­cation (regverdigmaking, red­ding) is not at all by hu­­man effort, but by the free gift of God. The se­cond part of salvation consists of a work in us – this is the operation of God the Holy Spirit. As we are redeemed by the blood of Jesus, are we also in due time renewed in the spirit of our minds by God`s Spirit..

Ons noem dit heiligmaking – die groei van ons gees­telike lewe uit die krag van die inwonende Heilige Gees, deur die lees van die Woord van God, gebed, omgang met ander ge­lowiges en om vir die Here te werk.

 “Here, vandag wil ek die Christenskap wat U deur u Gees in my gee, met toewyding uitleef.”