Di 1 Jul: Die Onbekeerlike Hart

Lees Romeine 4:1-6

“As die evangelie wat ons verkondig, tog nog met ’n sluier bedek is, is dit bedek vir dié wat verlore gaan …wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is…”  (4).
 
Dr. Wolcott Calkins, ’n Amerikaanse predikant, was in Suid-Frankryk toe hy gevra is om ’n land­ge­noot te besoek: ’n geboë, teruggetrokke, ou­man. Na ’n paar algemene, vriendelike kennis­maakwoorde vra dr. Calkins hom: “Glo u in die ewig­heid?” Sonder om ’n oomblik te huiwer ant­woord hy: “Ja, ek glo dit vas.” “Wat is u hoop vir die ewigheid?” is dr. Calkins se volgende vraag. Weer sonder huiwering kom die antwoord: “Ek hoop om ewig gelukkig in die hemel te wees.” “Sal u my vertel waarop u u goeie hoop grond?” “Dit doen ek graag,” kom die antwoord weer dadelik. “Ek het in my lewe niks gedoen wat sleg is nie. My klein foutjies, wat algemeen onder alle mense is, glo ek sal God oorsien. In alle ernstige dinge is my re­kening skoon. Ek vertrou op ’n reg­verdige be­lo­ning vir ’n goeie lewe.” Dr. Calkins was spra­ke­loos. Vertrouende in die werking van die Heilige Gees in die ouman se hart, probeer hy die on­ver­diens­telikheid van ’n mens se eie goeie dade ver­dui­delik. Hy vertel hom van die vrye gawe van God se vergifnis en die ewige lewe op grond van Chris­tus se verdienste en offer­dood aan die kruis. Hy kan sien dit maak geen indruk op die ouman nie. Uiteindelik staan dr. Calkins op om te gaan. “Maar gaan u nie vir my ’n gebed doen nie?” wil die ouman verbaas weet. “Wat kan ek bid?” vra dr. Calkins. “Die Fa­ri­seër se gebed: ‘O, God ek dank u dat ek goed is en nie so sleg soos ander nie,’ kán ek nie saam met u bid nie. Die tol­le­naar se gebed, ‘O, God, wees my sondaar genadig,’ wil ú nie saam met my bid nie.” Die ou­man het dit nie verstaan nie. Op die ouman se ver­dere aandrang, doen dr. Calkins ’n kort gebed vir hom en vertrek. Kort daarna is die ouman oorlede.

Terug in Amerika doen dr. Calkins moeite om die ou­man se weduwee op te soek. Hy wou ook graag meer van die ouman te wete kom. Uiteindelik neem een van die we­duwee se broers dr. Calkins eenkant toe. “U het hom kort voor sy dood besoek, waaroor ons dankbaar is, en u het reg om die waarheid oor hom te weet. Hy was ’n ver­val­ser. Hy het juis Frankryk toe gevlug om aan die gereg te ontkom.”

Die onbekeerlike hart, verblind deur Satan, weier om sy sondes raak te sien en dit te bely. Hy verwerp Christus se soenverdienste en roem in sy eie goeie werke. Hy wíl nie voor God skuldig voel nie. “God is ryk in goedheid, ver­draagsaamheid en geduld…Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie? Maar deur jou … ver­harding en jou onbekeerlike hart is jy besig om vir jouself straf op te gaar vir die oordeelsdag…” (Rom.2:4,5).
 
“Here, vandag maak ek my hart oop vir u lig, sodat ek myself in u lig kan ken.”