Lees 1 Korintiërs 15: 50 – 58
“Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God” (56).
’n Man en sy seuntjie ry op ’n dag per motor deur ’n plantasie, waar
baie byekorwe tussen die bome staan. Nie lank nie of ‘n by vlieg by die
motor se oop venster in. Die seuntjie was gevaarlik allergies vir
bysteek. Hy verstyf van vrees en skreeu toe hy die by sien. Die pa
gryp die by en hou dit in sy toe hand vas. Tot die seuntjie se
ontsteltenis laat die man die by weer los. Van vrees druk die outjie
himself in die hoek van die sitplek vas toe die by om sy kop zoem. “Jy
hoef nie meer vir die by bang te wees nie,” sê die pa gerusstellend
vir hom, “kyk hier”. Die pa hou sy hand oop na hom toe. In sy handpalm
steek die angel. “Daardie by het nie meer ‘n angel om jou mee te steek
nie. Hy het my gesteek. Hy is nou onskadelik.”
Christus Jesus het ons sonde gedra. Die dood se angel het in Jesus
gesteek. Die dood het nie meer ’n angel om óns mee te steek nie. Die
dood se angel, om ’n mens ná sy fisiese dood, verlore te laat gaan,
want die mens moet dan sy straf vir sy sonde uitdien, het in Jesus
gesteek. Jesus het dáárdie straf vir óns sondes aan die kruis gedra.
Vir elkeen wat in Jesus as Saligmaker vertrou, het die dood sy angel
verloor. Die dood as fisiese gebeurtenis is steeds by ons. Op ‘n dag
kruis die dood ook ons pad. Dit mag ’n benoude en pynlike ervaring
wees. Vir ons dierbares bring dit droefheid en ontwrigting. Maar die
dood kan die Christen nie meer verlore laat gaan en in die verdoemenis
laat beland nie. Dit het Jesus vir ons gedoen, toe Hy uitgeroep het:
“My God! My God! Waarom het U My verlaat?” Die dood het nou vir ons die
poort na ons ewige, hemelse bestemming geword.
“Here, vandag dank ek U vir die ewige lewe in Jesus Christus.”