Lees Psalm 1
“Dit gaan goed met die mens …wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink” (2)
`n Man van Kansas City
het albei sy hande in `n mynontploffing verloor. Sy gesig is geskend
en hy kon feitlik nie meer sy oë gebruik nie. Hy was `n jong Christen
toe die ongeluk gebeur het. Die beproewing het sy geloofslewe verdiep.
Sy grootste hartseer was dat hy die woord van God nie meer kon lees
nie. Hy het nie oë gehad wat die Bybel kon lees nie, en hy het nie
hande gehad waarmee hy Brailleskrif
kon lees nie. En in sy groot beproewing het hy groot behoefte gehad
aan die vertroosting van die Here se woord, en die nuwe lewe in sy
bekeerde hart het gedors na die woord van God. Toe hoor hy van `n vrou
in Engeland wat ook haar hande en oë verloor het, maar geleer het om met haar lippe Brailleskrif te lees. Sy vriende het dadelik op sy aandrang vir hom `n Braillebybel
gekry. Iemand het gekom om hom die skrif te leer lees. Tot sy bittere
teleurstelling moes hy egter vind dat die ontploffing sy
gesigsenuwees so beskadig het dat hy nie genoeg gevoel in sy lippe
het om die Brailletekens
te identifiseer nie. Terwyl hy so met sy mond wanhopig teen die bladsy
gedruk lê, raak sy tong aan die bladsy. Hy kon een van die opgehewe
lettertekens duidelik voel. Opgewonde het hy met sy Braillelesse begin
en die skrif vinnig met sy tong leer lees. In sy verminking was die
Bybel vir hom so tot troos en so gretig was hy om in die eensaamheid
van sy blindheid en gebreklike lewe God se woord te ken, dat hy die
Bybel vier keer met sy tong deurgelees het.
Weens ons sondige aard, wat so maklik wegdraai van God af, moet ons
die Bybel met dissipline lees. Deur die lees van die Woord werk die
Heilige Gees in ons hart. Hoe meer ons die Here se woord lees, hoe
sterker word ons dors na die Woord.
Bybellees is `n opheffende ervaring. Dit reinig en verfris die gees.
Lees, is `n samesmelting van die leser se gedagtegang met dié van die
skrywer. Wanneer ons Bybellees, word ons gedagtes met God se gedagtes
verenig. Ons leer God se hart uit sy woord ken. Die lees van die Woord
hef ons op, maak ons verstandig, gee ons moed. Uit die Bybel raak die
ewigheid ons aan, beïnvloed liefde ons, word ons van goddelike krag
bewus.
“…vandag
nog bly hulle verstand met dieselfde sluier toegemaak as hulle die Ou
Testament lees, maar die sluier word deur Christus weggeneem vir iemand
wat in Hom glo …en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid
…want die sluier is van ons gesig weggeneem. Ons word al meer verander
om aan die beeld van Christus gelyk te word …dit doen die Here wat die
Gees is” (2 Kor.3:14-19).
“Here,
vandag dank ek U vir my vermoë om te kan lees, en die guns van `n eie
Bybel in my eie taal te besit. Ek wil dit hartlik en gretig gebruik.”