Lees Johannes 1:1-18
“Die
Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid
gesien, die heerlikheid wat Hy as enigste Seun, van die Vader het, vol
genade en waarheid” (14).
In Bible in New York word die grootsheid van die Here Jesus Christus met dié van ander besondere manne van die geskiedenis vergelyk. Sokrates was veertig jaar lank `n leermeester, Plato vir vyftig jaar en Aristoteles vir veertig jaar, en Jesus net drie jaar lank. Maar daardie drie jaar oortref oneindig die gekombineerde lering van die antieke tyd se drie grootste leermeesters. Jesus het nooit `n prent geskilder nie, maar Raphael, Michelangelo en Leonardo da Vinci het die inspirasie vir hul meesterwerke van Hom gekry. Jesus het nooit `n gedig geskryf nie, maar Dante, Milton en talle ander digters het Hom die onderwerp van hul gedigte gemaak. Jesus het nooit `n musiekstuk gekomponeer nie, maar Hayden, Händel, Beethoven, Bach en Mendelsohn het hul hoogtepunte bereik, met hul liedere en simfonië, wat tot sy eer geskryf is. Elke sfeer van menslike grootheid is verryk deur die lewe van die nederige Skrynwerker van Nasaret. Maar sy grootste bydrae tot die menslike ras, is die redding van die siel. Filosofie kon dit nie vermag nie, ook nie kuns nie, nog literatuur, nog musiek. Net Jesus kon die mag van sonde breek, net Hy kon met woorde krag in die kragtelose en lewe in die dooie bring. Die wêreld bewonder Jesus van ver af. Ander neem Hom as die voorbeeld van hul lewe en probeer lewe soos Hy geleef het. Net `n paar maak die deur van hulle harte oop en nooi Hom as hul Verlosser in.
Op dieselfde noot gaan die Watchman-Examiner
voort. Sy geboorte was teenstrydig met die natuurwette van die lewe en
sy dood met dié van sterwe. Hy het geen graanlande gehad nie, maar hy
het vir 5 000 manne, afgesien van hul vrouens en kinders, `n tafel
gedek en toe was daar aan die einde van die maaltyd nog twaalf mandjies
vol kos oor (Mat.14:13-21).
Hy het nie op pragtige tapyte of fluweelmatte geloop nie, maar die
waters van die see van Galilea was `n vloer vir sy voete (Mat.14:22-32).
Drie jaar het Hy sy evangelie gepreek. Hy het geen boek geskryf nie,
geen kerk gebou nie, geen finansiële rugsteun gehad nie, maar na
twintig eeue is Hy die één sentrale karakter van die menslike
geskiedenis, die Spil waarom die gebeurtenisse van die eeue draai en
die enigste Lewendmaker van die menslike ras. Was dit nét Josef en
Maria se Seun wat oor die horison van die wêreld gekom het? Was dit net
mensebloed wat op Golgota vir die verlossing van die mensdom gevloei
het? Watter denkende mens kan help om nie saam met Tomas en Natanaël
uit te roep nie: “My Here en my God!”
Die wêreld verag en verwerp steeds vir Jesus as Here en God! Sonder
die getuienis en die werk van die Heilige Gees in die menslike hart kan
Jesus nie as Here en God herken word nie. “…niemand kan sê ‘Jesus is die Here’ nie, behalwe deur die Heilige Gees” (1 Kor.12:3). Jesus het sy dissipels self hieroor gewaarsku: “Wanneer
die Voorspraak kom wat Ek julle van die Vader af sal stuur, die Gees
van die waarheid, wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig… Daar
kom selfs `n tyd dat elkeen wat een van julle doodmaak, sal dink dat
hy `n diens aan God bewys. En dit sal hulle doen, omdat hulle die Vader
nie ken nie en My ook nie…(Joh.15:26-16:4). Uit die verkondiging van die evangelie getuig die Heilige Gees in `n mens se hart dat Jesus God is.
“Here, vandag aanbid ek Jesus as my God en Here.’’