Lees Efesiërs 2: 11 – 18
“Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus. Christus is ons vrede…” 13,14).
Roy McClain vertel
hoe `n bekende advokaat in een van Suid-Amerika se strate deur `n
bedelaar genader word vir `n aalmoesie. Die advokaat kyk skerp in die
ongeskeerde gesig en sê dan: “Ken ek jou nie van iewers af nie?” Die
bedelaar antwoord: “Jy behoort. Ek is jou ou klasmaat. Onthou, tweede
vloer, Old Main Hall.”
“Natuurlik, Sam, verseker onthou ek jou.” Sonder `n verdere woord skryf
die advokaat `n groot tjek vir hom uit. Die storie sê $100, maar dit is
baie jare gelede en in ons geldwaarde moes dit `n groot bedrag gewees
het. “Neem dit,” sê die advokaat. “Ek gee nie om wat met jou gebeur het
nie, maar neem hierdie geld en gaan kry vir jou iewers `n nuwe begin.”
Trane kom in die bedelaar se oë en hy stap na die regte bank toe. In die
deur kom hy tot stilstand. Hy kyk na al die netjies geklede tellers en
die netjiese kliënte in die rye wat wag om gehelp te word. Dan kyk hy na
sy eie vuil toiïngs. Sy moed begewe hom. “Hulle sal dit nie van my
aanvaar nie,” dink hy. “Hulle sal dink ek het dit vervals. Ek pas nie
hier nie.” Hy draai weg. Die volgende dag loop hy en die advokaat mekaar
weer raak. “Wat het nou gebeur, Sam?” roep die advokaat uit. “Wat het
jy met my tjek gemaak? Het jy die geld weggedobbel of weggedrink?” Sam
trek die tjek uit `n binnesak uit en wys dit vir die advokaat en vertel
hom hoekom hy dit nie gewissel het nie. “Kyk, my vriend,” sê die
advokaat ernstig. ”Wat daardie tjek waarde gee is nie jou voorkoms of
klere nie. Dit is my handtekening! Gaan nóú dadelik en wissel daardie
tjek.”
Dit
is die krag van óns redding en óns nuwe lewe: Jesus se handtekening op
die tjek van God se genade – sy bloed wat Hy aan die kruis gestort het.
Die Heilige Gees bring God se vergifnis, die reiniging van Jesus se
bloed, en die nuwe geestelike lewe, in ons lewens in, op grond van Jesus
se kruisdood. Ons swakheid, ons onreinheid, ons skandes kan dáárdie
krag nie kanselleer nie.
“Here, vandag vertrou ek in u verdienste.”