Lees Johannes 14: 1 – 14
“Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (6).
`n Pa het sy seuntjie gewaarsku hy sal hom solder toe stuur vir die nag, met net brood en water vir aandete, as hy weer die verkeerde ding doen, waaroor hy hom nou al twee keer gewaarsku het, skryf Wilbur Nelson, vir ons die storie. Weer is die kind ongehoorsaam en die pa stuur hom die aand op solder toe, met net ‘n beker water en `n bord met droë brood, vir die nag. Die aand aan tafel kan die pa nie eet nie. Hy dink aanmekaar aan sy seunjie op die solder.Sy vrou sê vir hom: “Ek weet waaraan jy dink, maar as jy hom nou van die solder laat afkom, sal hy nooit weer vir jou respek hê nie.” Die man antwoord: “Jy is reg. Ek sal nie my woord breek nie. Maar hy is so alleen, en seker bang daar bo.” Hy soen sy vrou goeie nag, en loop met die trap op solder toe. Saam met sy seuntjie drink hy die water en eet hy die brood, terwyl hy hom allerhande stories vertel hoe swaar dit in die oorlog met almal gegaan het en hy meer as een keer ook net brood en water gehad het om te eet. Saam met sy seuntjie slaap hy die nag op die harde vloer. Toe die seuntjie aan die slaap raak was sy pa se arm vir hom die kussing vir die nag.
Dit is hoe God ons as sondaars lief het. “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê” (Joh.3:16). God het ons verdiende straf nie verander nie, maar Hy het self daarin kom deel. Jesus, die Seun van God, en self God, het tot in die fynste besonderheid mens kom word en die aardse lewe met ons gedeel. Hy het ons plek geneem, ons swaarkry, ons behoeftes. “Dan sal die Koning sê: ‘…Ek was honger…ek was dors…’” (Mat.25:35). Kom ons lê ons kop neer op die warmte van sy liefde en neem Hom en sy groot vergifnis in ons harte aan. Die Heilige Gees maak ons gehoorsame kinders van God. “In sy groot ontferming het God ons die nuwe lewe (wedergeboorte – ou vert.) geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode…en omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word” (1 Pet.1:3-5).
Here, vandag dank ek U vir u groot liefde vir my in die Here Jesus Christus se menswording en dood.”