Lees Numeri 14:20-25
“…omdat Kaleb ’n ander gesindheid het en My getrou gevolg het, sal Ek hom inbring in die land wat hy gaan verken het…” (24)
’n Ekonoom is gevra om ’n groep sakemanne oor die depressie toe te
spreek. Dit was die dertigerjare van die vorige eeu en almal was
moedeloos. Die spreker steek ’n wit vel papier teen ’n bord vas. Hy
maak ’n swart kol op die vel papier. Hy vra een van die manne in die
voorste ry wat hy sien. “’n Swart kol,” was die antwoord. Hy vra dit
vir ’n paar ander. Hy kry dieselfde antwoord. Kalm en met nadruk sê hy:
“Ja, daar is ’n swart kol, maar nie een van julle het die groot vel
wit papier gesien nie. Dit is dus die inhoud van my lesing. Ons kan nou
huis toe gaan.”
Dit neem ’n rukkie voor die werklikheid van wat hy sê
indring het. Toe gaan die tonge los en nuwe perspektiewe vir die
sterwende ekonomie kom aan die lig.
Ons gemoedstemming word bepaal deur die punt van ons konsentrasie. Sien ons net
die swart kol van ons omstandighede, word ons moedeloos. Sien ons
ook die groot wit vel om die swart kol raak, skep ons moed. Moses het
twaalf verspieders uitgestuur Kanaän toe. Tien het op die vyand
gekonsentreer: “Nee, ons kan nie teen daardie mense optrek nie, want hulle is sterker as ons… Ons het daar ook reuse gesien…”(Num 13:31-33). Josua en Kaleb het op God se belofte en sy krag gekonsentreer. “Kaleb het egter die manne stilgemaak en gesê: ‘Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen’” (Num.14:30). Die geheim van Moses se volharding om die Here te gehoorsaam en te dien word so gegee: “Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien” (Heb.11:27).
“Here, vandag konsentreer ek op u beloftes.”