Lees Romeine 4:1-6
“As
die evangelie wat ons verkondig, tog nog met ’n sluier bedek is, is
dit bedek vir dié wat verlore gaan …wie se verstand deur die god van
hierdie wêreld verblind is…” (4).
Dr. Wolcott Calkins, ’n Amerikaanse predikant, was in Suid-Frankryk
toe hy gevra is om ’n landgenoot te besoek: ’n geboë, teruggetrokke,
ouman. Na ’n paar algemene, vriendelike kennismaakwoorde vra dr.
Calkins hom: “Glo u in die ewigheid?” Sonder om ’n oomblik te huiwer
antwoord hy: “Ja, ek glo dit vas.” “Wat is u hoop vir die ewigheid?”
is dr. Calkins se volgende vraag. Weer sonder huiwering kom die
antwoord: “Ek hoop om ewig gelukkig in die hemel te wees.” “Sal u my
vertel waarop u u goeie hoop grond?” “Dit doen ek graag,” kom die
antwoord weer dadelik. “Ek het in my lewe niks gedoen wat sleg is nie.
My klein foutjies, wat algemeen onder alle mense is, glo ek sal God
oorsien. In alle ernstige dinge is my rekening skoon. Ek vertrou op ’n
regverdige beloning vir ’n goeie lewe.” Dr. Calkins was
sprakeloos. Vertrouende in die werking van die Heilige Gees in die
ouman se hart, probeer hy die onverdienstelikheid van ’n mens se eie
goeie dade verduidelik. Hy vertel hom van die vrye gawe van God se
vergifnis en die ewige lewe op grond van Christus se verdienste en
offerdood aan die kruis. Hy kan sien dit maak geen indruk op die ouman
nie. Uiteindelik staan dr. Calkins op om te gaan. “Maar gaan u nie vir
my ’n gebed doen nie?” wil die ouman verbaas weet. “Wat kan ek bid?”
vra dr. Calkins. “Die Fariseër se gebed: ‘O, God ek dank u dat ek
goed is en nie so sleg soos ander nie,’ kán ek nie saam met u bid nie.
Die tollenaar se gebed, ‘O, God, wees my sondaar genadig,’ wil ú nie
saam met my bid nie.” Die ouman het dit nie verstaan nie. Op die ouman
se verdere aandrang, doen dr. Calkins ’n kort gebed vir hom en
vertrek. Kort daarna is die ouman oorlede.
Terug in Amerika doen dr. Calkins moeite om die ouman se weduwee op
te soek. Hy wou ook graag meer van die ouman te wete kom. Uiteindelik
neem een van die weduwee se broers dr. Calkins eenkant toe. “U het hom
kort voor sy dood besoek, waaroor ons dankbaar is, en u het reg om die
waarheid oor hom te weet. Hy was ’n vervalser. Hy het juis Frankryk
toe gevlug om aan die gereg te ontkom.”
Die onbekeerlike hart, verblind deur Satan, weier om sy sondes raak te sien en dit te bely. Hy verwerp Christus se soenverdienste en roem in sy eie goeie werke. Hy wíl nie voor God skuldig voel nie. “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld…Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie? Maar deur jou … verharding en jou onbekeerlike hart is jy besig om vir jouself straf op te gaar vir die oordeelsdag…” (Rom.2:4,5).
“Here, vandag maak ek my hart oop vir u lig, sodat ek myself in u lig kan ken.”