Di 1 Jul: Die Onbekeerlike Hart

Lees Romeine 4:1-6

“As die evangelie wat ons verkondig, tog nog met ’n sluier bedek is, is dit bedek vir dié wat verlore gaan …wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is…”  (4).
 
Dr. Wolcott Calkins, ’n Amerikaanse predikant, was in Suid-Frankryk toe hy gevra is om ’n land­ge­noot te besoek: ’n geboë, teruggetrokke, ou­man. Na ’n paar algemene, vriendelike kennis­maakwoorde vra dr. Calkins hom: “Glo u in die ewig­heid?” Sonder om ’n oomblik te huiwer ant­woord hy: “Ja, ek glo dit vas.” “Wat is u hoop vir die ewigheid?” is dr. Calkins se volgende vraag. Weer sonder huiwering kom die antwoord: “Ek hoop om ewig gelukkig in die hemel te wees.” “Sal u my vertel waarop u u goeie hoop grond?” “Dit doen ek graag,” kom die antwoord weer dadelik. “Ek het in my lewe niks gedoen wat sleg is nie. My klein foutjies, wat algemeen onder alle mense is, glo ek sal God oorsien. In alle ernstige dinge is my re­kening skoon. Ek vertrou op ’n reg­verdige be­lo­ning vir ’n goeie lewe.” Dr. Calkins was spra­ke­loos. Vertrouende in die werking van die Heilige Gees in die ouman se hart, probeer hy die on­ver­diens­telikheid van ’n mens se eie goeie dade ver­dui­delik. Hy vertel hom van die vrye gawe van God se vergifnis en die ewige lewe op grond van Chris­tus se verdienste en offer­dood aan die kruis. Hy kan sien dit maak geen indruk op die ouman nie. Uiteindelik staan dr. Calkins op om te gaan. “Maar gaan u nie vir my ’n gebed doen nie?” wil die ouman verbaas weet. “Wat kan ek bid?” vra dr. Calkins. “Die Fa­ri­seër se gebed: ‘O, God ek dank u dat ek goed is en nie so sleg soos ander nie,’ kán ek nie saam met u bid nie. Die tol­le­naar se gebed, ‘O, God, wees my sondaar genadig,’ wil ú nie saam met my bid nie.” Die ou­man het dit nie verstaan nie. Op die ouman se ver­dere aandrang, doen dr. Calkins ’n kort gebed vir hom en vertrek. Kort daarna is die ouman oorlede.

Terug in Amerika doen dr. Calkins moeite om die ou­man se weduwee op te soek. Hy wou ook graag meer van die ouman te wete kom. Uiteindelik neem een van die we­duwee se broers dr. Calkins eenkant toe. “U het hom kort voor sy dood besoek, waaroor ons dankbaar is, en u het reg om die waarheid oor hom te weet. Hy was ’n ver­val­ser. Hy het juis Frankryk toe gevlug om aan die gereg te ontkom.”

Die onbekeerlike hart, verblind deur Satan, weier om sy sondes raak te sien en dit te bely. Hy verwerp Christus se soenverdienste en roem in sy eie goeie werke. Hy wíl nie voor God skuldig voel nie. “God is ryk in goedheid, ver­draagsaamheid en geduld…Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie? Maar deur jou … ver­harding en jou onbekeerlike hart is jy besig om vir jouself straf op te gaar vir die oordeelsdag…” (Rom.2:4,5).
 
“Here, vandag maak ek my hart oop vir u lig, sodat ek myself in u lig kan ken.”

Ma 30 Junie: Meelewende Liefde

Lees Johannes 14: 1 – 14

“Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (6).

`n Pa het sy seuntjie gewaarsku hy sal hom solder toe stuur vir die nag, met net brood en water vir aand­ete, as hy weer die verkeerde ding doen, waaroor hy hom nou al twee keer gewaarsku het, skryf Wilbur Nelson, vir ons die storie. Weer is die kind ongehoorsaam en die pa stuur hom die aand op sol­der toe, met net ‘n beker water en `n bord met droë brood, vir die nag. Die aand aan tafel kan die pa nie eet nie. Hy dink aanmekaar aan sy seunjie op die solder.Sy vrou sê vir hom: “Ek weet waaraan jy dink, maar as jy hom nou van die solder laat afkom, sal hy nooit weer vir jou respek hê nie.” Die man antwoord: “Jy is reg. Ek sal nie my woord breek nie. Maar hy is so alleen, en seker bang daar bo.” Hy soen sy vrou goeie nag, en loop met die trap op solder toe. Saam met sy seuntjie drink hy die water en eet hy die brood, terwyl hy hom aller­han­de stories vertel hoe swaar dit in die oorlog met almal gegaan het en hy meer as een keer ook net brood en water gehad het om te eet. Saam met sy seun­tjie slaap hy die nag op die harde vloer. Toe die seuntjie aan die slaap raak was sy pa se arm vir hom die kussing vir die nag.

Dit is hoe God ons as sondaars lief het. “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê” (Joh.3:16). God het ons verdiende straf nie verander nie, maar Hy het self daarin kom deel. Jesus, die Seun van God, en self God, het tot in die fynste besonderheid mens kom word en die aardse lewe met ons gedeel. Hy het ons plek geneem, ons swaarkry, ons be­hoef­tes. “Dan sal die Koning sê: ‘…Ek was honger…ek was dors…’” (Mat.25:35). Kom ons lê ons kop neer op die warmte van sy liefde en neem Hom en sy groot vergifnis in ons harte aan. Die Heilige Gees maak ons gehoorsame kinders van God. “In sy groot ontferming het God ons die nuwe lewe (weder­geboorte – ou vert.) geskenk deur die opstan­ding van Jesus Christus uit die dode…en omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word” (1 Pet.1:3-5).

 Here, vandag dank ek U vir u groot liefde vir my in die Here Jesus Christus se menswording en dood.”

Vry 27 Junie: Elkeen na sy Aard

Lees Handelinge 15: 6 – 12

“En God wat die harte ken het dit bevestig deur die Heilige Gees aan hulle te gee net soos aan ons” (8)

`n Legende oor die geskenke wat die ster­re­kykers uit die ooste met Jesus se geboorte vir Hom gebring het, word deur Gerald M. Ward vertel. Een van hulle was `n jongman, vertel hy. In sy jeugdige geesdrif het hy `n koning verwag, en daarom het hy `n geskenk van goud gebring. Die tweede man was vroeg­middeljarig en hy het na antwoorde ge­soek vir die vreesgedagtes wat in sy gemoeds­ry­ping begin vorm het. Hy het gehoop om God self te vind en daarom het hy wierook, wat hy in sy aanbidding kon brand, gebring. Die derde man was ’n ou man met menige sondige jare agter hom. Hy het gehoop om `n Verlosser te vind. Hy het geglo sy Verlosser moet iemand wees wat ook gely het, en daarom het hy helende mirre saamgebring.

Dit is net `n legende weet ons, maar dit bring `n bemoedigende boodskap na ons har­te toe. Die Verlosser wat gebore is, en soos ons `n mens geword het, terwyl Hy ook God is, kan ons in ons elkeen se besondere be­hoefte help en red. Ons aard nie na mekaar nie en ons behoeftes is nie dieselfde nie, maar Jesus is genoegsaam vir ons elkeen se eie besondere behoefte. Kom na Hom toe en vertel dit aan Hom. Hy luister en Hy red. “God het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie: Hy het ook hulle harte deur die geloof gereinig…Nee, ons, en ook hierdie gelowiges, glo dat ons net deur die genade van die Here Jesus gered word” (Hand.15:9,11).


“Here, vandag kom ek vrymoedig na U toe.

Do 26 Junie: Waarin Die Krag Is

Lees Efesiërs 2: 11 – 18

“Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus. Christus is ons vrede…” 13,14).


 Roy McClain vertel hoe `n bekende advokaat in een van Suid-Amerika se strate deur `n bedelaar genader word vir `n aalmoesie. Die advokaat kyk skerp in die ongeskeerde gesig en sê dan: “Ken ek jou nie van iewers af nie?” Die bedelaar antwoord: “Jy behoort. Ek is jou ou klasmaat. Onthou, tweede vloer, Old Main Hall.” “Natuurlik, Sam, verseker onthou ek jou.” Sonder `n verdere woord skryf die advokaat `n groot tjek vir hom uit. Die storie sê $100, maar dit is baie jare gelede en in ons geldwaarde moes dit `n groot bedrag gewees het. “Neem dit,” sê die advokaat. “Ek gee nie om wat met jou gebeur het nie, maar neem hierdie geld en gaan kry vir jou iewers `n nuwe begin.” Trane kom in die bedelaar se oë en hy stap na die regte bank toe. In die deur kom hy tot stilstand. Hy kyk na al die netjies geklede tellers en die netjiese kliënte in die rye wat wag om gehelp te word. Dan kyk hy na sy eie vuil toiïngs. Sy moed begewe hom. “Hulle sal dit nie van my aanvaar nie,” dink hy. “Hulle sal dink ek het dit vervals. Ek pas nie hier nie.” Hy draai weg. Die volgende dag loop hy en die advokaat mekaar weer raak. “Wat het nou gebeur, Sam?” roep die advokaat uit. “Wat het jy met my tjek gemaak? Het jy die geld weggedobbel of weggedrink?” Sam trek die tjek uit `n binnesak uit en wys dit vir die ad­vokaat en vertel hom hoekom hy dit nie gewis­sel het nie. “Kyk, my vriend,” sê die advokaat ernstig. ”Wat daardie tjek waarde gee is nie jou voorkoms of klere nie. Dit is my hand­tekening! Gaan nóú dadelik en wissel daardie tjek.”

 Dit is die krag van óns redding en óns nuwe lewe: Jesus se handtekening op die tjek van God se genade – sy bloed wat Hy aan die kruis gestort het. Die Heilige Gees bring God se vergifnis, die reiniging van Jesus se bloed, en die nuwe geestelike lewe, in ons lewens in, op grond van Jesus se kruisdood. Ons swak­heid, ons onreinheid, ons skandes kan dáárdie krag nie kanselleer nie.

  
“Here, vandag vertrou ek in u verdienste.”

Woens 25 Junie: Genoeg

Lees Filippense 4: 2 – 9

“En die vrede van God  wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus” (7)

Een aand, na `n veeleisende dag, ry die prediker, Charles Haddon Spurgeon, huistoe. Hy voel moeg en bedruk. `n Teks kom in sy gedagte: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is” (2 Kor.12:9). Dadelik dink hy aan homself as `n klein vissie in die Teemsrivier, wat bang is hy drink die rivier dalk droog. Dan sê die groot Teems vir hom: “Drink, vissie, drink, ek het genoeg water vir jou.” En Spurgeon dink ook aan ’n muisie in een van Josef se graansuiers in Egipte en die muisie is bang hy eet dalk al Josef se koring op. Dan kom Josef na hom toe en sê vir hom: “Vreet, muisie, vreet, hier is genoeg koring vir jou. En ’n derde gedagte kom in Spurgeon op. Hy sien hom­self as ’n man wat teen ’n hoë berg opklim en dan bang word hy gebruik dalk al die suurstof op, en dan sê die Skepper Self vir hom: “Asem in, man, vul jou longe met suurstof, my suurstof is genoeg vir jou.” Spurgeon vertel dit die Sondag vir sy gemeente en sê dan: “Then, for the first time in my life, I experienced the joyful experience what Abraham must have felt when he fell upon his face and laughed” (Gen17:17). 

Waarlik, God se genade, dit is sy onverdiende goed­heid,  is genoeg vir ons behoeftes. Hy is al­mag­­tig, Hy kan ons te hulp kom. Hy kan in ons behoeftes voorsien. Die Heilige Gees maak die be­loftes in God se woord vir ons werklikhede.
  
“Here, vandag rus ek op u krag en grootheid.”

Di 24 Junie: Die Angel

Lees 1 Korintiërs 15: 50 – 58

“Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God”  (56).
 
’n Man en sy seuntjie ry op ’n dag per motor deur ’n plantasie, waar baie byekorwe tussen die bome staan. Nie lank nie of ‘n by vlieg by die motor se oop venster in. Die seuntjie was gevaarlik allergies vir by­steek. Hy ver­styf van vrees en skreeu toe hy die by sien. Die pa gryp die by en hou dit in sy toe hand vas. Tot die seuntjie se ont­­stel­te­nis laat die man die by weer los. Van vrees druk die outjie himself in die hoek van die sitplek vas toe die by om sy kop zoem. “Jy hoef nie meer vir die by bang te wees nie,” sê die pa gerusstellend vir hom, “kyk hier”. Die pa hou sy hand oop na hom toe. In sy handpalm steek die angel. “Daardie by het nie meer ‘n angel om jou mee te steek nie. Hy het my gesteek. Hy is nou onskadelik.”

Christus Jesus het ons sonde gedra. Die dood se ang­el het in Jesus gesteek. Die dood het nie meer ’n angel om óns mee te steek nie. Die dood se angel, om ’n mens ná sy fisiese dood, verlore te laat gaan, want die mens moet dan sy straf  vir sy sonde uitdien, het in  Jesus gesteek. Jesus het dáárdie straf vir óns son­des aan die kruis gedra. Vir elkeen wat in Jesus as Saligmaker vertrou, het die dood sy angel ver­loor. Die dood as fi­sie­se gebeurtenis is steeds by ons. Op ‘n dag kruis die dood ook ons pad. Dit mag ’n be­noude en pyn­like ervaring wees. Vir ons dierbares bring dit droefheid en ont­wrig­ting. Maar die dood kan die Christen nie meer ver­lore laat gaan en in die verdoemenis laat beland nie. Dit het Je­sus vir ons gedoen, toe Hy uitgeroep het: “My God! My God! Waarom het U My verlaat?” Die dood het nou vir ons die poort na ons ewige, hemelse bestemming geword.

“Here, vandag dank ek U vir die ewige lewe in Jesus Christus.”

Ma 23 Junie: Hoe Groot is HY

Lees Johannes 1:1-18
“Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlik­heid wat Hy as enigste Seun, van die Vader het, vol genade en waarheid” (14).

In Bible in New York word die grootsheid van die Here Jesus Christus met dié van ander be­son­dere manne van die geskiedenis vergelyk. Sokra­tes was veertig jaar lank `n leermeester, Plato vir vyftig jaar en Aristoteles vir veertig jaar, en Jesus net drie jaar lank. Maar daardie drie jaar oortref oneindig die gekombineerde lering van die antieke tyd se drie groot­ste leermeesters. Jesus het nooit `n prent geskilder nie, maar Raphael, Michelan­gelo en Leonardo da Vinci het die inspirasie vir hul mees­terwerke van Hom gekry. Jesus het nooit `n gedig ge­skryf nie, maar Dante, Milton en talle an­der digters het Hom die onderwerp van hul gedig­te gemaak. Jesus het nooit `n musiekstuk gekom­po­neer nie, maar Hayden, Händel, Beethoven, Bach en Mendelsohn het hul hoogtepunte be­reik, met hul liedere en simfonië, wat tot sy eer geskryf is. Elke sfeer van menslike grootheid is verryk deur die lewe van die nederige Skryn­wer­ker van Nasaret. Maar sy grootste bydrae tot die menslike ras, is die redding van die siel. Filosofie kon dit nie vermag nie, ook nie kuns nie, nog lite­ratuur, nog musiek. Net Jesus kon die mag van son­de breek, net Hy kon met woorde krag in die krag­telose en lewe in die dooie bring. Die wêreld bewonder Jesus van ver af. Ander neem Hom as die voorbeeld van hul lewe en probeer lewe soos Hy geleef het. Net `n paar maak die deur van hulle harte oop en nooi Hom as hul Verlosser in.

Op dieselfde noot gaan die Watchman-Exa­mi­ner voort. Sy geboorte was teenstrydig met die natuurwette van die lewe en sy dood met dié van sterwe. Hy het geen graanlande gehad nie, maar hy het vir 5 000 manne, afgesien van hul vrouens en kinders, `n tafel gedek en toe was daar aan die einde van die maaltyd nog twaalf mandjies vol kos oor (Mat.14:13-21).  Hy het nie op pragtige tapyte of flu­weelmatte geloop nie, maar die waters van die see van Galilea was `n vloer vir sy voete (Mat.14:22-32). Drie jaar het Hy sy evangelie gepreek. Hy het geen boek geskryf nie, geen kerk gebou nie, geen finansiële rugsteun gehad nie, maar na twintig eeue is Hy die één sentrale karakter van die mens­­like geskiedenis, die Spil waarom die ge­beur­tenisse van die eeue draai en die enigste Le­wendmaker van die menslike ras. Was dit nét Jo­sef en Maria se Seun wat oor die horison van die wêreld gekom het? Was dit net mensebloed wat op Golgota vir die verlossing van die mensdom gevloei het? Watter denkende mens kan help om nie saam met Tomas en Natanaël uit te roep nie: “My Here en my God!”

Die wêreld verag en verwerp steeds vir Jesus as Here en God! Sonder die getuienis en die werk van die Heilige Gees in die menslike hart kan Jesus nie as Here en God herken word nie. “…niemand kan sê ‘Jesus is die Here’ nie, behalwe deur die Heilige Gees” (1 Kor.12:3). Jesus het sy dissipels self hieroor gewaarsku: “Wanneer die Voorspraak kom wat Ek julle van die Vader af sal stuur, die Gees van die waarheid, wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig… Daar kom selfs `n tyd dat elkeen wat een van julle doodmaak, sal dink dat hy `n diens aan God bewys. En dit sal hulle doen, omdat hulle die Vader nie ken nie en My ook nie…(Joh.15:26-16:4). Uit die verkondiging van die evangelie getuig die Heilige Gees in `n mens se hart dat Jesus God is.
 
“Here, vandag aanbid ek Jesus as my God en Here.’’

Vry 20 Junie: Persoonlike Verhouding

Lees Matteus7: 7 – 12

As julle wat sleg is, weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?” (11).

“Wel, Mevrou,” sê die jong hospitaaldokter vir die Chris­ten-hospitaalwerker, “jy het seker vir hierdie mense weer vertel God verhoor gebed. Hulle moet net vra.” “Ja, Dokter, dit is so, God luister na ons gebede en verhoor dit volgens sy wysheid en sy wil.” “Ek is bly om dít te hoor, want sien ek is taamlik platsak. Sal God vir my so ’n R50 gee as ek Hom vra?” “Dokter, sal jy vir ’n vreemdeling som­mer so ’n R50 gee as hy jou vra?” “Wel, nee,” ant­woord die dokter effens onseker en die spot­tende glimlaggie om sy mond droog weg, “ek sal hom seker eers moet leer ken.” “Korrek. God gee vir sy kínders wat hulle Hom vra. Leer Hom eers as Vader ken, dan vra Dokter dit vrymoedig.”

Jesus het dit benadruk hoe ons ons behoeftes van God kan vra: “Vra, en vir jule sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word” (Mat.7:6).

“Here, vandag vra ek na my behoeftes”

Do 19 Junie: 'n Saak van Konsentrasie

Lees Numeri 14:20-25

 “…omdat Kaleb ’n ander gesindheid het en My getrou gevolg het, sal Ek hom inbring in die land wat hy gaan verken het…” (24)
 
’n Ekonoom is gevra om ’n groep sakemanne oor die depressie toe te spreek. Dit was die dertigerjare van die vorige eeu en almal was moedeloos. Die spreker steek  ’n wit vel papier teen ’n bord vas. Hy maak ’n swart kol op die vel papier. Hy vra een van die manne in die voorste ry wat hy sien. “’n Swart kol,” was die antwoord. Hy vra dit vir ’n paar ander. Hy kry dieselfde antwoord. Kalm en met nadruk sê hy: “Ja, daar is ’n swart kol, maar nie een van julle het die groot vel wit papier gesien nie. Dit is dus die inhoud van my lesing. Ons kan nou huis toe gaan.” 

Dit neem ’n rukkie voor die werklikheid van wat hy sê in­dring het. Toe gaan die tonge los en nuwe per­spek­tiewe vir die sterwende ekonomie kom aan die lig.

Ons gemoedstemming word bepaal deur die punt van ons konsentrasie. Sien ons net die swart kol van ons om­stan­dighede, word ons moedeloos. Sien ons ook die groot wit vel om die swart kol raak, skep ons moed. Moses het twaalf verspieders uitgestuur Kanaän toe. Tien het op die vyand gekonsentreer: “Nee, ons kan nie teen daar­die mense optrek nie, want hulle is sterker as ons… Ons het daar ook reuse gesien…”(Num 13:31-33). Josua en Kaleb het op God se belofte en sy krag gekonsentreer. “Kaleb het egter die manne stilgemaak en gesê: ‘Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen’” (Num.14:30). Die geheim van Moses se vol­hard­ing om die Here te gehoorsaam en te dien word so gegee: “Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien” (Heb.11:27).

“Here, vandag konsentreer ek op u beloftes.”

Wo 18 Junie: Verlore Jare

Lees Lukas 8 : 4 – 15

“Daar was ook `n deel wat in goeie grond geval het, en dit het opgekom en `n honderdvoudige oes gelewer” (8).
Op een van die Clyderivier se vakansiebote staan `n man traktaatjies en uitgee, vertel A Mes­sage of God. `n Man van Glasgow neem `n trak­taatjie en merk op: “Ek is nie gekant teen hierdie soort ding wat jy nou doen nie, maar ek is bevrees dit rig nie veel goeds uit nie. In my jonger dae het ek dit ook gedoen, maar ek het nooit enige vrug op my pogings gesien nie.” Die jongman laat sak sy hande effens moedeloos, want die man wat met hom praat, lyk na `n ordentlike man wat moont­lik self `n Chris­ten is. Hy trek sy skouers ef­fens op, glimlag verleë, en sê: “Ek het deur die lees van `n traktaatjie tot bekering ge­kom.” Die man van Glasgow stel dadelik belang. Hy bly staan en vra die jongman verder uit. 

Die jongman ver­tel hom hy was twaalf jaar oud, toe hy een winters­aand by `n sendingsaal ver­by­stap. Buite staan `n man om mense in te nooi om die diens by te woon en vir elkeen gee hy `n trak­taatjie. Hy neem by die man die traktaatjie en gaan in om na die preek te luister. Die preek ontstel hom en maak hom be­kom­merd oor sy siel. Tuis­gekom, lees hy die trak­taatjie. Dit was `n duidelike stap vir stap beskry­wing van hoe `n mens met jou son­de­besef by Chris­tus as Verlos­ser kan uitkom. Daar in sy kamer kniel hy by sy bed en vertrou in Christus as sy Verlosser. Daardie aand, vertel die jongman vir die Glasgowman het hy die He­re gevind en leef nou vir Hom en daar­om, in sy vrye tyd deel hy traktaatjies uit so­dat ander ook, soos hy, gered kan word. 

“Waar het dit alles gebeur?” vra die Glas­gowman. Die jongman noem die straat en sen­ding­saal se naam en ook min of meer wan­­neer dit alles gebeur het. Die man raak bewoë, vee oor sy oë en gryp die jongman se hand. “Toe ek `n jong Christen was, was dit my werk om by daar­die saal se deur te staan, mense in te nooi en trak­taatjies uit te deel. Weet jy, ek dink ek ont­hou jou. Ek het met jou gepraat en jy het die trak­taatjie geneem, bie­tjie geweifel en toe in die saal ingegaan. Maar ek het moed opgegee. En nou, na amper twintig jaar, wys die He­re vir my dit was nie tevergeefs nie! As God my lewe spaar, gaan ek my ontrouheid bely en weer vir hom begin werk.” Die skrywer van die storie sluit af: “How many more golden sheaves might have appeared to that Christian worker’s account in the day of Christ, had he continued in the service that the Lord gave him to do?”
 
“Here, vandag help ek om ander vir U te wen.”

Di 17 Junie: Dors na die Woord

Lees Psalm 1

“Dit gaan goed met die mens …wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink” (2)
`n Man van Kansas City het albei sy hande in `n myn­ont­ploffing verloor. Sy gesig is geskend en hy kon feitlik nie meer sy oë gebruik nie. Hy was `n jong Christen toe die ongeluk gebeur het. Die beproewing het sy ge­loofslewe verdiep. Sy groot­ste hartseer was dat hy die woord van God nie meer kon lees nie. Hy het nie oë ge­had wat die Bybel kon lees nie, en hy het nie hande ge­had waarmee hy Brailleskrif kon lees nie. En in sy groot beproewing het hy groot behoefte gehad aan die ver­troosting van die Here se woord, en die nuwe lewe in sy be­keerde hart het gedors na die woord van God. Toe hoor hy van `n vrou in Engeland wat ook haar hande en oë verloor het, maar geleer het om met haar lippe Brail­le­skrif te lees. Sy vriende het dadelik op sy aandrang vir hom `n Braillebybel gekry. Iemand het gekom om hom die skrif te leer lees. Tot sy bittere te­leur­stelling moes hy egter vind dat die ontploffing sy gesigsenuwees so be­ska­dig het dat hy nie genoeg gevoel in sy lippe het om die Brailletekens te identifiseer nie. Terwyl hy so met sy mond wanhopig teen die bladsy gedruk lê, raak sy tong aan die bladsy. Hy kon een van die opgehewe letterte­kens duidelik voel. Opgewonde het hy met sy Braillelesse begin en die skrif vinnig met sy tong leer lees. In sy ver­mink­ing was die Bybel vir hom so tot troos en so gretig was hy om in die eensaam­heid van sy blindheid en gebreklike lewe God se woord te ken, dat hy die Bybel vier keer met sy tong deurgelees het.

Weens ons sondige aard, wat so maklik wegdraai van God af, moet ons die Bybel met dissipline lees. Deur die lees van die Woord werk die Heilige Gees in ons hart. Hoe meer ons die Here se woord lees, hoe sterker word ons dors na die Woord.

Bybellees is `n opheffende ervaring. Dit reinig en verfris die gees. Lees, is `n samesmelting van die leser se gedagtegang met dié van die skrywer. Wan­neer ons Bybellees, word ons gedagtes met God se gedagtes verenig. Ons leer God se hart uit sy woord ken. Die lees van die Woord hef ons op, maak ons verstandig, gee ons moed. Uit die Bybel raak die ewigheid ons aan, beïnvloed liefde ons, word ons van goddelike krag bewus.
 
“…vandag nog bly hulle verstand met dieselfde sluier toegemaak as hulle die Ou Testament lees, maar die sluier word deur Christus weggeneem vir iemand wat in Hom glo …en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid …want die sluier is van ons gesig weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word …dit doen die Here wat die Gees is” (2 Kor.3:14-19).
 
“Here, vandag dank ek U vir my vermoë om te kan lees, en die guns van `n eie Bybel in my eie taal te besit. Ek wil dit hartlik en gretig gebruik.”

Ma 16 Junie: Heel Beste

Lees 2 Timoteus 2: 15-18.

“Lê jou daarop toe om jou beproef aan God voor te stel….” (15)
 
In Kalifornië is `n strandjie wat as Pebble Beach be­kend­staan. Die branders slaan met soveel krag op die strand dat die klippies gedurig teen mekaar en teen die rotse skuur en dit maak hulle glad, blink en mooi. My medeleraar in Birchleigh­ge­meen­te, middel van die 1970-gerjare, Hennie van Wyk, stuur vir ons hierdie storie vir tussen Kers­fees en Nuwejaar.           Toeriste kom van heinde en ver om na Pebble Beach se mooi, gladde klippies te kyk en as pragtige aandenkings saam te neem. Teleurstel­lings en teëspoed kan ook in ons lewe, in  karak­ter en gedrag, so `n uitwerking hê. In die afgelope jaar het ons ook ons deel van te­leur­stellings en beproewings gehad.

Die komponis Händel het eens wanhopig in Londen se strate rondgedwaal. Hy was bankrot en hy het verwerp deur almal gevoel. Een oggend keer hy terug in sy ysige kamertjie. Op die tafel lê `n dik koevert. Dit is `n libretto, `n vokale mu­siek­stuk, wat Charles Jennens uit Bybelverse saam­gestel het. Verwese deur honger en koue blaai Hän­del lusteloos deur die lang werk. Die woorde voor hom laat hom regop sit. Dit is die Ou Tes­ta­men­tiese voor­spelling van die geboorte van Chris­tus: Raadsman, sterke God, Vrede vors, Her­der wat die lammers aan sy bors dra. Opgewonde lees hy verder hoe Hy deur die mense verag en ver­werp sou word. Die woor­de dat sy Verlosser leef en die Koning van die konings is, word in sy siel ingebrand. Händel gryp `n pot­lood en gaan sit voor die klavier. Twee weke lank werk hy feitlik on­onderbroke en gee gestalte aan die Die Mes­sias, waarvoor die wêreld vandag nog waardering het. Na die twee weke nooi hy `n vriend in. Met trane in sy oë vertel hy hoe die skepping van die Halleluja-koor hom laat voel het asof hy self in die hemel is en hy die Here voor hom sien.

Die eerste uitvoering van Die Messias was in Dub­lin. Die reaksie van die gehoor was oorwel­digend. So ook in Londen `n paar weke later. Die Engelse koning het self die uitvoe­ring bygewoon. Meegevoer deur die Halleluja­koor het hy opgestaan en die gehoor het sy voorbeeld gevolg. Tot vandag toe, die wêreld oor, staan die gehore op as die Hallelujakoor gespeel en gesing word. Later was George Frederick Händel weer arm, blind en siek, maar sy omstandighede sou nooit weer sy gees knak nie.
 
“Here, vandag lê ek die nuwe jaar in u hande.”